Psalms 35
Afrikaans PWL
1Van Dawid. יהוה, verdedig my saak teen dié wat met my twis; baklei teen dié wat teen my baklei!

2Gryp die klein skild en die grote en staan op tot my hulp!

3Trek die swaard uit en swaai dit teen hulle wat my vervolg! Sê vir my lewe: “Ek is jou Verlosser!”

4Laat hulle wat my lewe soek, in verwarring kom en beskaamd staan; laat hulle wat boosheid teen my beplan, omgedraai en verneder word!

5Laat hulle wees soos kaf voor die wind terwyl die boodskapper van יהוה hulle jaag.

6Laat hulle pad duister en glibberig wees en die boodskapper van יהוה hulle vervolg,

7want sonder rede het hulle ’n put vir my gegrawe en ’n net teen my lewe gespan.

8Laat verwoesting onverwags oor hulle kom en laat sy net, wat hy gespan het, hom vang; laat hulle val in dieselfde put wat hulle gegrawe het!

9My lewe sal in die rondte swaai van vreugde in יהוה, dit sal vreugdevol wees in Sy verlossing.

10Al my beendere sal sê: “יהוה, wie is soos U? Wie red die geteisterde van hulle wat sterker is as hy; ja, die geteisterde en behoeftige van hom wat sy eiendom met geweld wegvat!”

11Valse getuies staan op, hulle kla my aan van dinge wat ek nie weet nie.

12Hulle betaal my kwaad vir goed terug en vernietig my reputasie voor mense,

13maar ek, toe hulle siek was, het ek ’n roukleed gedra; ek het my lewe nederig gemaak deur vas en my gebed het aangehou terugkeer na my binneste.

14Ek het my gedra asof hulle my vriende of broers is; ek het laag neergebuig soos een ellendig in diepe rou,

15maar toe ek struikel, het hulle bymekaargekom en hulle verheug; hulle het vir ’n lang tyd teen my bymekaargekom en ek het dit nie geweet nie.

16Met hulle grootpratery en spot kners hulle die tande teen my.

17יהוה, hoe lank sal dit aanhou? Red my lewe van hulle vernietiginge, my absoluut enigste een van die leeus.

18Ek sal U loof en dank met uitgestrekte hande in die groot vergadering; onder ’n groot skare sal ek U helder en duidelik loof.

19Laat my vyande hulle nie oor my verheug nie; ook nie dié wat my sonder rede haat nie; hulle knip die oë kwaadwillig,

20want hulle praat nie van vrede nie, maar hulle bedink misleidende woorde teen dié wat stil is in die land.

21Hulle maak hul mond groot oop teen my. Hulle het gesê: “Aha, aha, ons oog het dit gesien!”

22U het dit gesien, oיהוה, moenie stilbly nie. יהוה, wees nie ver van my af nie!

23Ontwaak en staan op vir my regverdige oordeel; sien my lyding, my God en my Meester, יהוה.

24Oordeel oor my volgens U regverdigheid, יהוה, my God en laat hulle hul nie oor my verheug nie!

25Laat hulle nie in hul verstand, wil en emosie sê: “Ons het van hom ontslae geraak en hom begrawe,” nie.

26Laat hulle wat my boosheid toewens beskaamd staan en in verwarring gebring word; laat hulle wat hulself bo my oplig, met skande en oneer beklee word!

27Laat hulle wat bly is oor my oorwinning sing van vreugde en bly wees; ja, laat hulle voortdurend sê: “Groot is יהוה wat bly is oor die vrede van Sy dienskneg!”

28My tong sal U regverdigheid heeldag lank verkondig en U loof en prys.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 34
Top of Page
Top of Page