Psalms 109
Afrikaans PWL
1Vir die musiekleier: ’n gedig van Dawid, met instrumentale musiek. O God van my lofprysing, moenie stilbly nie,

2want die mond van die bose en die mond van die bedrieër is oop teen my.

3Hulle het teen my gepraat met ’n leuenagtige tong en ’n stem vol haat en hulle het sonder oorsaak teen my baklei.

4Vir my liefde verag hulle my, maar ek het vir hulle gebid

5en hulle het my goedheid met kwaad vergeld en my liefde met haat.

6Beveel U wraak teen hulle en laat die teëstander aan hulle regterhand staan.

7Wanneer hulle geoordeel word, laat hulle veroordeel word en laat hulle gebede sonde word.

8Laat hulle dae min wees en laat ’n ander hul ampte oorneem.

9Laat hulle kinders vaderloos word en hulle vroue weduwees.

10Laat hulle kinders oral rondswerwe en bedel en laat hulle hul brood soek vanuit hul verlate plekke.

11Laat die skuldeisers alles vat wat hulle het en laat vreemdelinge hulle swak maak.

12Laat daar niemand wees wat goedheid na hulle toe uitsteek en ook niemand om hulle vaderlose kinders jammer te kry nie.

13Laat hulle einde vernietiging wees en laat hulle naam uitgevee word in die volgende geslag.

14Laat die oortredinge van hulle vaders onthou word en יהוה nie die sonde van hulle moeders uitwis nie.

15Laat dit altyddeur voor יהוה wees dat Hy hulle gedagtenis vanaf die aarde kan afsny

16omdat hulle nie onthou het om onverdiende guns te bewys nie, maar die arme en behoeftige vervolg het en hom wie se binneste tot die dood toe vol smart was.

17Soos wat hulle lief is om vloeke uit te spreek, laat dit so oor hulle kom en soos hulle geen seën uitgespreek het nie, laat dit ver van hulle af wegbly.

18Hulle het hulself geklee met vloeke soos wapenrusting, dit het hulle binnegedring soos water en soos olie in hulle gebeentes.

19Laat dit vir hulle wees soos ’n kleed wat hulle bedek en soos ’n gordel waarmee hulle gereeld omgebind word.

20Hierdie is die dade van die teëstanders van יהוה en van hulle wat boosheid praat teen my,

21maar U, יהוה, my Meester, doen goed aan my om U Naam (Karakter en Outoriteit) ontwil omdat U liefdevolle omgee goed is, bevry U my,

22want ek is arm en behoeftig en my verstand, wil en emosie is gewond in my.

23Ek buig neer soos die skaduwee wanneer dit uitrek; ek word rondgegooi soos die sprinkaan.

24My knieë is swak deur te vas en my vlees teer weg.

25Ek het vir hulle veragtelik geword; wanneer hulle na my kyk, skud hulle hul kop.

26Help my, יהוה my God! Verlos my volgens U goedheid

27sodat hulle kan weet dat hierdie U hand is en dat U, יהוה, dit gedoen het.

28Laat hulle vervloek wees, maar U sal geseënd wees en laat U dienskneg hom verheug.

29Laat hulle wat ’n wrok teen my het, beklee word met skaamte en laat hulle hulself daarmee bedek soos met ’n mantel.

30Ek sal יהוה met my mond oorvloedig loof en prys met uitgestrekte hande, ja, ek sal Hom helder en duidelik loof,

31want Hy het aan die regterhand van die arme gestaan om sy lewe te red van oordeel.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 108
Top of Page
Top of Page