Psalms 106
Afrikaans PWL
1Loof en eer Yah alleen! Loof en prys יהוה met uitgestrekte hande, want Hy is goed, want Sy goedheid duur vir ewig.

2Wie kan die magtige dade van יהוה uiter? Wie kan al Sy lofprysing vertoon?

3Gelukkig is hulle wat Sy oordele bewaar en te alle tye onpartydig opreg is.

4Onthou ons, o יהוה, met die guns wat U vir U volk het; o, besoek ons met U verlossing

5dat ons die goeie van U gekosenes kan sien dat ons ons kan verheug in U vreugde en helder en duidelik saam met U erfenis kan loof.

6Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het oortree, verkeerd gedoen.

7Ons vaders het nie U wonders in Mitzrayim verstaan nie, hulle het nie die oorvloed van U goedheid onthou nie, maar was rebels teen Hom by die see, by die Sufsee.

8Nogtans het Hy hulle gered om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) ontwil sodat Hy Sy magtige krag bekend kon maak.

9Hy het ook die Sufsee bestraf sodat dit opgedroog het en Hy het hulle deur die dieptes gelei, net soos deur die wildernis.

10Hy het hulle gered uit die hand van die vyand en hulle bevry uit die hand van die onderdrukker

11en die waters het hulle teëstanders oordek; daar was nie een van hulle oor nie.

12Toe het hulle Sy woorde geglo, hulle het Sy lofprysing besing,

13maar hulle het God gou vergeet, hulle het nie in Sy raad vertrou nie,

14maar in die wildernis na hulle begeertes gesmag en God getoets in die woestyn.

15Hy het hulle gegee wat hulle gevra het en aan hulle oorvloed gegee.

16Hulle was in die kamp ook jaloers op Moshe en op Aharon, die afgesonderdes van יהוה.

17Die aarde het oopgegaan en Datan ingesluk en die groep van Aviram bedek.

18’n Vuur is aangesteek onder hulle groep, die vlam het die bose verbrand.

19Hulle het ’n kalf by Horev gemaak en neergebuig voor die gegote beeld.

20So het hulle hul Opgeligte Een verruil vir die afbeelding van ’n bees wat gras eet.

21Hulle het God, hulle Verlosser, vergeet, wat groot dinge gedoen het in Mitzrayim,

22wonderdade in die land van Gam en vreeslike dinge by die Sufsee;

23daarom het Hy gesê dat Hy hulle sal vernietig, as Moshe, Sy gekose, nie voor Sy Teenwoordigheid vir hulle in die bres getree het om Sy woede weg te draai sodat Hy hulle nie sou vernietig nie.

24Ja, hulle het die begeerlike land verag, Sy woord nie vertrou nie,

25maar in hul tente gemurmureer en nie na die stem van יהוה geluister nie;

26daarom het Hy Sy hand teen hulle opgelig om hulle te verstrooi tussen die ander nasies

27en om ook hulle nageslag te verstrooi tussen die ander nasies en hulle los te laat in die lande.

28Hulle het ook neergebuig voor die afgode van Ba’al-P’or en offerandes geëet wat aan die dooies geoffer is.

29So het hulle Hom kwaad gemaak deur hulle dade, Hom kwaad gemaak deur hulle beelde en ’n plaag het skielik onder hulle uitgebreek.

30Toe het Pingas opgestaan en oordeel uitgevoer en die plaag is gestop

31en dit is vir hom gereken as ’n oorwinning, in alle geslagte vir ewig.

32Hulle het Hom ook kwaad gemaak by die waters van M’rivah sodat dit met Moshe sleg gegaan het as gevolg van hulle,

33want hulle het gerebelleer teen sy gees sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe.

34Hulle het nie die nasies vernietig wat יהוה hulle beveel het nie,

35maar hulself was vermeng met die ander nasies en het hulle dade aangeleer

36en hulle afgode gedien, wat ’n strik vir hulle was.

37Ja, hulle het hulle seuns en hul dogters aan demone geoffer

38en onskuldige bloed vergiet, selfs die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kena’an geoffer het en die land was besoedel deur bloed.

39So is hulle onrein gemaak deur hul eie dade en het gaan hoereer met hul eie uitvindsels;

40daarom het die woede van יהוה ontvlam teen Sy volk; soveel so dat Hy Sy eie erfenis verafsku het

41en Hy het hulle in die hand van die ander nasies gegee en dié wat hulle gehaat het, het oor hulle geheers.

42Ook het hulle vyande hulle onderdruk en hulle moes buig onder hul hand.

43Baie keer moes Hy hulle red, maar húlle het Hom bitter gemaak deur hulle planne en hulle is verneder deur hulle boosheid.

44Nogtans het Hy hulle benoudheid raakgesien en hulle gebed gehoor

45en Hy het Sy verbond onthou en hulle jammer gekry en hulle gelei volgens die oorvloed van Sy goedheid.

46Hy het hulle ook laat jammer kry deur almal wat hulle as gevangenes weggevoer het.

47Verlos ons, יהוה, ons God en versamel ons vanuit die nasies sodat ons U afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) kan loof en prys met uitgestrekte hande en U lofprysing hardop kan uitroep!

48Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, vanaf ewigheid tot ewigheid en laat al die mense sê: “Dit is waar. Loof en eer Yah alleen!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 105
Top of Page
Top of Page