Psalms 105
Afrikaans PWL
1Loof en eer יהוה met uitgestrekte hande, roep uit tot Sy Naam (Karakter en Outoriteit), maak Sy dade bekend onder die volke.

2Sing tot Hom, sing en maak musiek tot Hom, praat van al Sy wonderlike dade.

3Loof Sy Afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) helder en duidelik; laat die verstand, wil en emosie van die wat יהוה soek, hulle verheug.

4Soek na יהוה; wees sterk en soek Sy Teenwoordigheid voortdurend.

5Onthou Sy wonderlike dade wat Hy gedoen het, Sy wonderwerke en die oordele van Sy mond,

6o julle, nageslag van Avraham, Sy dienskneg, julle seuns van Ya’akov, Sy gekose!

7Hy is יהוה,ons God; Sy oordele is oor die hele aarde.

8Hy het Sy verbond vir ewig onthou, die woord wat Hy beveel het vir ’n duisend geslagte,

9want Hy het Sy verbond met Avraham gesluit en Sy ede met Yitz’gak

10en dieselfde aan Ya’akov as ’n wet bevestig en aan Yisra’el as ’n ewige verbond,

11met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kena’an gee, die aangewese deel van jou erfenis,”

12toe hulle maar ’n paar mense in getal was, ja, baie min en vreemdelinge daarin.

13Toe hulle getrek het van een nasie tot ’n ander, van een koninkryk na ’n ander volk,

14het Hy geen mens toegelaat om hulle kwaad aan te doen nie; ja, Hy het konings om hulle ontwil gestraf

15dat hulle aan Sy gesalfdes nie sal raak en Sy profete kwaad aandoen nie.

16Meer nog het Hy ’n hongersnood oor die land uitgeroep; die halm van hulle koring verbreek.

17Hy het ’n man voor hulle uit gestuur, Yosef, wat verkoop is as ’n slaaf,

18wie se voete in boeie geknel is, hy is in ysters gelê,

19tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van יהוה het hom getoets.

20Die koning het gestuur, hom bevry en hom ’n heerser oor sy mense gemaak.

21Hy het hom meester oor sy huis gemaak en heerser oor al sy besittings,

22om die administrateurs te dissiplineer volgens sy wil en aan die oudstes wysheid te leer.

23Yisra’el het ook na Mitzrayim gekom en Ya’akov het as gas gebly in die land van Gam.

24Hy het Sy volk baie vermeerder en hulle sterker gemaak as hulle vyande.

25Hy het hulle verstand, wil en emosie verander, om Sy volk te haat, om vals teen Sy diensknegte te handel.

26Hy het Moshe, Sy dienskneg, gestuur en Aharon wat Hy gekies het.

27Hulle het Sy tekens en wonderwerke tussen hulle gewys in die land van Gam.

28Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak en tog het hulle teen Sy woorde gerebelleer.

29Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse doodgeslaan.

30Hulle land het gewemel van paddas, selfs in die binnekamers van hulle konings.

31Hy het gepraat en daar het verskillende vlieë gekom en luise in hulle hele grondgebied.

32Hy het hulle reëns in hael verander en vlammende vuur in hulle land gebring.

33Hy het ook hulle wingerdstokke en hulle vyebome stukkend geslaan en die bome in hulle grondgebied gebreek.

34Hy het gepraat en die sprinkane en ruspes het sonder getal deur hulle land gekom

35en hulle het al die kruie en vrugte van hulle lande verteer.

36Hy het ook al die eersgeborenes van Mitzrayim neergeslaan, die eersgeborenes van al hulle seuns.

37Hy het hulle ook uitgebring met silwer en goud en daar was nie een swak persoon in hulle stamme nie.

38Mitzrayim was bly toe hulle vertrek het, want vrees vir hulle het op hulle geval.

39Hy het ’n wolk uitgesprei om aan hulle skadu te gee en vuur om in die nag vir hulle lig te gee.

40Die mense het gevra en Hy het kwartels gebring en hulle versadig met brood uit die hemel.

41Hy het die rots oopgemaak, die water het uitgestroom en water het in die droë land gevloei,

42want Hy het Sy afgesonderde belofte onthou wat Hy aan Avraham, Sy dienskneg, gemaak het

43en Sy volk met vreugde uitgelei en Sy jongmanne met uitroepe van blydskap.

44Hy het aan hulle die lande van die ander nasies gegee en hulle het die arbeid van die volke geërf

45sodat hulle Sy instellings kan nakom en Sy wette onderhou. Loof Yah alleen!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 104
Top of Page
Top of Page