Numeri 35
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat in die vlaktes van Mo’av, by die Yarden oorkant Yerigo en gesê: 2“Gee bevel aan die seuns van Yisra’el dat hulle aan die Leviete, van die erfenis van hulle besitting stede gee om in te bly en julle moet ook weidingsgrond rondom die stede vir die Leviete gee. 3Hulle sal die stede hê om in te bly en die oop grond moet vir hulle beeste en hulle vee en al hulle diere wees.

4Die weidingsgrond van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet van die stadsmuur af buitentoe, ’n duisend el rondom wees. 5Julle moet ook buitekant die stad meet: aan die oostekant twee duisend el, aan die suidekant twee duisend el, aan die westekant twee duisend el en aan die noordekant twee duisend el en die stad in die middel. Dit moet vir hulle as weidingsgrond van die stede dien.

6Uit die stede wat julle vir die Leviete gee, moet julle ses stede aanstel as stede van beskerming, waarheen een wat manslag begaan het, kan vlug en daarby moet julle twee en veertig stede bysit. 7Al die stede wat julle aan die Leviete gee, moet agt en veertig stede wees, hulle saam met hulle oop grond. 8Die stede wat julle gee sal uit die besitting van die seuns van Yisra’el kom. Vanaf die groter stamme sal julle baie gee en van die kleiner, min. Elkeen sal sommige van sy stede aan die Leviete gee, volgens die erfenis wat elkeen kry.”

9יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 10“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle deur die Yarden in die land Kena’an ingaan, 11moet julle stede aanstel as stede van beskerming sodat die een wat manslag begaan en ’n mens nie met opset doodgeslaan het nie, daarheen kan vlug. 12Die stede moet vir julle as beskerming dien teen die familiewreker sodat hy wat manslag begaan het, nie sterf voordat hy voor die vergadering gestaan het vir oordeel nie. 13Uit die stede wat julle gee, moet ses as stede van beskerming dien. 14Drie van die stede moet julle aan dié kant van die Yarden gee en drie moet julle in die land Kena’an gee, wat stede van beskerming sal wees. 15Hierdie ses stede sal vir die seuns van Yisra’el, die vreemdeling en die besoeker onder hulle, as stede van beskerming dien sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het,

16maar as hy hom slaan met ’n ystervoorwerp sodat hy sterf, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet tereggestel word tot die dood. 17As hy hom slaan met ’n klip in die hand, waardeur iemand kan sterf en hy sterf, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet tereggestel word tot die dood, 18of as hy hom slaan met ’n houtvoorwerp in die hand, waardeur iemand kan sterf en hy sterf, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet tereggestel word tot die dood. 19Die familiewreker van bloed moet self die moordenaar doodmaak; as hy hom teëkom, moet hy hom doodmaak. 20As hy hom uit haat stamp of lê en wag en na hom gooi sodat hy sterf, 21of hom uit vyandskap met sy hand slaan sodat hy sterf, dan moet hy wat geslaan het, tereggestel word tot die dood; hy is ’n moordenaar; die familiewreker van bloed moet die moordenaar doodmaak as hy hom teëkom.

22As hy hom egter skielik, sonder vyandskap, stamp of iets na hom gooi sonder om te lê en wag, 23of as ’n klip waardeur iemand kan sterf, op hom val sonder dat hy hom sien sodat hy sterf terwyl hy nie sy vyand was of sy skade gesoek het nie, 24dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het en die familiewreker van bloed, oordeel volgens hierdie wette. 25So sal die vergadering hom wat manslag begaan het, red uit die hand van die familewreker van bloed en die vergadering moet hom laat teruggaan na die stad van beskerming waarheen hy gevlug het en hy moet daarin bly tot die dood van die hoofpriester wat met die afgesonderde olie gesalf is, 26maar as hy wat manslag begaan het, ooit buitekant die grens van die stad van beskerming gaan waarheen hy gevlug het 27en die familiewreker van bloed hom buitekant die grens van die stad van beskerming kry en die familiewreker van bloed die een wat manslag begaan het doodslaan, dan sal hy nie skuldig wees aan bloed nie, 28want hy moes in die stad van beskerming gebly het tot die dood van die hoofpriester, maar ná die dood van die hoofpriester mag die een wat manslag begaan het, teruggaan na die land van sy besitting.

29Hierdie dinge moet vir julle ’n reël van oordeel wees in julle geslagte, in al julle blyplekke.

30Wie ook al ’n mens doodslaan, die moordenaar moet op verklaring van getuies gedood word, maar een getuie kan nie teen iemand getuig dat hy sal sterf nie. 31Meer nog, julle mag geen loskoopgeld aanvaar vir die lewe van ’n moordenaar wat skuldig is aan dood nie, want hy moet tereggestel word tot die dood. 32Julle mag ook geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na die stad van beskerming sodat hy kan teruggaan om in die land te woon, tot die dood van die priester nie. 33So moet julle nie die land waarin julle bly vuil maak nie, want bloed maak die land vuil en geen toedekking kan vir die land gemaak word, vir die bloed wat daarin vergiet is nie, behalwe deur die bloed van hom wat dit vergiet het; 34daarom, moenie die land waar julle in bly, vuil maak nie omdat Ek daarin bly, want Ek, יהוה, bly tussen die seuns van Yisra’el.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 34
Top of Page
Top of Page