Numeri 31
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Neem wraak vir die seuns van Yisra’el op die Midyaniete; daarna sal jy na jou volksgenote toe weggevat word.” 3Moshe het met die volk gepraat en gesê: “Bewapen sommige vanuit julle vir oorlog en laat hulle teen Midyan optrek om die wraak van יהוה op Midyan uit te oefen: 4’n duisend vanuit elke stam van al die stamme van Yisra’el moet julle na die oorlog toe stuur.” 5Daar is vanuit die duisende van Yisra’el, ’n duisend vir elke stam aangewys, twaalf duisend bewapen vir die oorlog. 6Moshe het hulle na die oorlog gestuur, ’n duisend vir elke stam; hy het hulle na die oorlog gestuur met Pingas, die seun van El’azar, die priester, met die afgesonderde voorwerpe en die trompette om alarm te maak, in sy hand. 7Hulle het oorlog gemaak teen Midyan, net soos יהוה Moshe beveel het en al die mans doodgemaak. 8Hulle het ook die konings van Midyan saam met die res doodgemaak: Evi, Rekem, Tzur, Hur en Reva, die vyf konings van Midyan. Hulle het ook vir Bil’am, die seun van B’or, met die swaard doodgemaak. 9Die seuns van Yisra’el het die vroue van Midyan en hulle kinders gevange geneem en al hulle beeste, al hulle vee en al hulle skatte geroof. 10Toe het hulle ook al hulle stede waarin hulle gebly het en al hulle kampe met vuur verbrand 11en al die roof en al die buit gevat, mense en diere. 12Hulle het die gevangenes, die buit en die roof na Moshe en El’azar, die priester en na die vergadering van die seuns van Yisra’el gebring, na die kamp in die vlaktes van Mo’av, by die Yarden, oorkant Yerigo.

13Moshe, El’azar, die priester en al die leiers van die vergadering het gegaan en hulle buitekant die kamp ontmoet 14en Moshe was kwaad vir die offisiere van die leër, die bevelvoerders oor duisend en die bevelvoerders oor honderd, wat van die oorlog af gekom het. 15Moshe het vir hulle gesê: “Het julle al die vroue gespaar en hulle laat lewe? 16Let op, hierdie vroue het, deur die raad van Bil’am, die seuns van Yisra’el teenoor יהוה laat oortree in die saak van P’or sodat daar ’n plaag was in die vergadering van יהוה. 17Maak daarom nou almal dood wat van die manlike geslag is onder die kinders en maak elke vrou dood wat ’n man geken het deur by hom te lê, 18maar laat vir julleself al die vroulike kinders wat nie ’n man geken het deur by hom te lê nie, lewe. 19Slaan kamp op buitekant die kamp vir sewe dae lank; elkeen wat ’n mens doodgemaak en elkeen wat aan ’n dooie geraak het; julle moet jul op die derde dag en op die sewende dag reinig, julle en jul gevangenes. 20Reinig ook al die klere, elke ding van leer, alles wat van bokhaar gemaak is en elke ding van hout.”

21El’azar, die priester, het vir die soldate wat oorlog toe gegaan het, gesê: “Dit is die reëls van die wet wat יהוה Moshe beveel het: 22net die goud, die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood, 23elke ding wat deur die vuur kan gaan, moet julle deur die vuur laat gaan en dit sal rein wees; dit moet ook deur die water vir onreinheid gereinig word. Alles wat nie deur die vuur kan gaan nie, moet julle deur die water laat gaan. 24Julle moet julle klere op die sewende dag was en rein wees; daarna mag julle in die kamp inkom.”

25יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 26“Tel die koppe van wat as buit weggevoer is, van mense en van diere, jy en die priester, El’azar en die hoof vaders van die vergadering 27en verdeel die buit tussen die wat deel gehad het aan die oorlog, wat uitgegaan het in geveg én die hele vergadering. 28Hef ’n belasting op vir יהוה van die soldate wat na die oorlog uitgegaan het; een uit elke vyf honderd van die mense, van die beeste, van die donkies en van die kleinvee. 29Vat dit van hulle helfte en gee dit vir El’azar, die priester, as ’n offer wat opgelig word voor יהוה. 30Uit die seuns van Yisra’el se helfte moet jy een vat uit elke vyftig; uit die mense, die beeste, die esels, die kleinvee en uit al die diere en jy moet dit aan die Leviete gee wat die dienswerk by die tabernakel van יהוה doen.” 31Moshe en El’azar, die priester, het gedoen soos יהוה Moshe beveel het.

32Die buit, wat oorgebly het van die roof wat die soldate gevat het, was ses honderd vyf en sewentig duisend stuks kleinvee, 33twee en sewentig duisend beeste, 34een en sestig duisend esels 35en twee en dertig duisend mense, vrouens wat nie ’n man geken het deur by hom te lê nie.

36Die helfte, die deel van hulle wat na die oorlog uitgegaan het, was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee 37en die eerbetoning aan יהוה uit die kleinvee was ses honderd vyf en sewentig. 38Die beeste was ses en dertig duisend en die eerbetoning daarvan aan יהוה, twee en sewentig. 39Die donkies was dertig duisend vyf honderd en die eerbetoning daarvan aan יהוה, een en sestig. 40Die mense was sestien duisend en die eerbetoning daarvan aan יהוה, twee en dertig mense. 41Moshe het vir El’azar, die priester, die eerbetoning gegee wat as opligoffer tot יהוה bestem was, soos יהוה Moshe beveel het.

42Vanuit die helfte vir die seuns van Yisra’el, wat Moshe van die soldate af gedeel het, 43die helfte wat aan die vergadering behoort het, was uit die kleinvee, drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd, 44die beeste was ses en dertig duisend, 45die donkies dertig duisend vyf honderd 46en mense, sestien duisend. 47Uit die helfte wat behoort aan die seuns van Yisra’el het Moshe gevat van wat uitgehaal was, een uit elke vyftig, van mense en van diere; hy het dit aan die Leviete gegee wat die dienswerk by die tabernakel van יהוה doen, soos יהוה Moshe beveel het.

48Die offisiere oor die duisende van die leër, die bevelvoerders oor duisend en die bevelvoerders oor honderd, het nadergekom na Moshe 49en aan Moshe gesê: “U dienaars het die volle getal van die soldate opgeneem wat onder ons bevel was en daarvan word nie een vermis nie; 50daarom bring elkeen van ons as offer aan יהוה wat hy aan goue goed gevind het: armkettings, armbande, vingerringe, oorringe en halssierade, om toedekking te doen vir onsself voor die Teenwoordigheid van יהוה. 51Moshe en El’azar, die priester, het die goud, allerhande gemaakte voorwerpe, van hulle af ontvang. 52Al die goud van die offergawe, wat die bevelvoerders oor duisend en die bevelvoerders oor honderd aan יהוה afgegee het, was sestien duisend sewe honderd en vyftig sikkels. 53Die soldate het elkeen vir homself buit gevat. 54Moshe en El’azar, die priester, het die goud van die bevelvoerders oor duisend en oor honderd ontvang en dit in die Tent van Ontmoeting gebring as ’n herinnering vir die seuns van Yisra’el voor die Teenwoordigheid van יהוה.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 30
Top of Page
Top of Page