Numeri 29
Afrikaans PWL
1Lev 23 In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ’n afgesonderde byeenkoms wees; julle mag géén werk doen nie; dit moet vir julle ’n dag van die blaas van die ramshoring wees. 2Julle moet ’n brandoffer as aangename geur vir יהוה offer: een jong bul, een ram en sewe lammers in hul eerste jaar sonder gebrek. 3Hulle graanoffer is fyn meel met olie gemeng: drie-tiendes van ’n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram 4en een-tiende vir elkeen van die sewe lammers 5en een bokram as sondoffer om vir julle toedekking te doen, 6bo en behalwe die brandoffer en die graanoffer van die maand en die voortdurende brandoffer en sy graanoffer daarby en hulle drankoffers volgens die voorskrif, tot ’n aangename geur, ’n offer, deur vuur, aan יהוה.

7Op die tiende van hierdie sewende maand moet julle ’n afgesonderde byeenkoms hou, julle moet nederig vas en julle mag géén werk doen nie. 8Julle moet ’n brandoffer as aangename geur tot יהוה offer: een jong bul, een ram, sewe lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 9en hulle graanoffer van fyn meel met olie gemeng: drie-tiendes vir die bul, tweetiendes vir die ram, 10een-tiende vir elkeen van die sewe lammers 11en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die sondoffer van toedekking en die voortdurende brandoffer en die graanoffer daarby en hulle drankoffers.

12Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle ’n afgesonderde byeenkoms hou; julle mag géén werk doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir יהוה ’n fees vier. 13Julle moet as brandoffer, ’n offer deur vuur as ’n aangename geur tot יהוה bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 14en hulle graanoffer van fyn meel met olie gemeng: drie-tiendes vir elkeen van die dertien bulle, twee-tiendes vir elkeen van die twee ramme, 15een-tiende vir elkeen van die veertien lammers 16en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer, die graanoffer en die drankoffer daarby;

17op die tweede dag: twaalf jong bulle, twee ramme, veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 18en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 19en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby;

20op die derde dag: elf bulle, twee ramme, veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 21en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 22en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby;

23op die vierde dag: tien bulle, twee ramme, veertien lammers, in hul eerste jaar, sonder gebrek 24en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 25en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby;

26op die vyfde dag: nege bulle, twee ramme en veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 27en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 28en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby;

29op die sesde dag: agt bulle, twee ramme, veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 30en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 31en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby

32op die sewende dag: sewe bulle, twee ramme, veertien lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 33en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 34en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby.

35Op die agtste dag moet julle ’n feestyd hou; julle mag géén werk doen nie. 36Julle moet as brandoffer, ’n offer, deur vuur, as aangename geur tot יהוה offer: een bul, een ram, sewe lammers in hul eerste jaar, sonder gebrek 37en hulle graanoffer en hulle drankoffer vir die bulle, die ramme en die lammers, volgens hulle getal, volgens die voorskrif 38en een bokram as sondoffer, bo en behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer en drankoffer daarby.

39Hierdie moet julle tot יהוה offer op julle vasgestelde tye, bo en behalwe julle geloftes en julle vrywillige geskenke, as julle brandoffer, julle graanoffer, drankoffer en vredesoffer.’” 40Moshe het vir die seuns van Yisra’el alles gesê net soos יהוה Moshe beveel het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 28
Top of Page
Top of Page