Mattheus 3
Afrikaans PWL
1Tydens daardie dae het Yoganan, die Doper, in die wildernis van Y’hudah aangekom en die boodskap verkondig 2en gesê: “Draai weg van julle sondes na God toe, want die Koninkryk van die hemel is naby!”

3Dit is die man van wie die profeet Yesha’yahu gepraat het toe hy gesê het: “Die stem van een wat uitroep: ‘Berei die pad van יהוה in die wildernis voor en maak Sy paaie gelyk!’”

4Hierdie Yoganan het klere gedra van kameelhare en ’n leergordel om sy heupe en sy kos was sprinkane en heuning uit die veld. 5Mense vanaf Yerushalayim, vanaf die hele Y’hudah en van die hele omtrek van die Yarden, het uitgegaan na hom toe. 6Met erkenning en aflegging van hulle sondes, is hulle deur hom in die Yardenrivier gedoop,

7maar toe Yoganan baie van die Fariseërs en Saduseërs sien kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Nageslag van Adders! Wie het julle gewaarsku om te vlug van die komende straf? 8Produseer daarom vrugte wat waardig is aan een wat weggedraai het van sy sondes na God toe 9en moenie dink en in julleself sê: ‘Avraham is ons Vader nie,’ want ek sê vir julle dat God uit hierdie klippe kinders vir Avraham kan opwek! 10Let op, die byl is ook alreeds teen die wortel van die bome neergelê, gereed om te kap; elke boom wat daarom nie goeie vrugte dra nie, word afgekap en val in die vuur!

11Ek doop julle in water sodat julle van die sonde kan wegdraai na God toe, maar die Een wat ná my kom, Wie se sandale ek nie eens waardig is om op te tel nie, is kragtiger as ek. Hy sal julle doop in die Gees van Afsondering en in vuur. 12Sy hooivurk is by Hom en Hy maak Sy dorsvloer deeglik skoon en Sy graan maak Hy in Sy skure bymekaar en die kaf sal Hy verbrand in die onuitblusbare vuur!”

13Toe het Yeshua vanaf die Galil na die Yarden gekom om deur Yoganan gedoop te word, 14maar Yoganan het Hom geweier en gesê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word en U het na my toe gekom?” 15Yeshua het hom geantwoord en gesê: “Laat dit nóu so wees, want ons moet alles doen wat die onpartydige opregtheid vereis.” Daarna het Yoganan Hom toegelaat. 16Nadat Yeshua gedoop is, het Hy opgekom uit die water uit en op daardie oomblik gaan die hemele vir hom oop en hy sien die Gees van God soos ’n duif afkom en op Hom kom 17en let op, ’n Stem uit die hemel wat sê: “Let op, dit is My Seun, Wie Ek liefhet, in Wie Ek verheug is.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 2
Top of Page
Top of Page