Mattheus 21
Afrikaans PWL
1Sodra hulle naby Yerushalayim gekom het en Beit-Pagei langs die Olyfberg genader het, het Yeshua twee studentevolgelinge uitgestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na daardie dorpie reg voor julle en dadelik sal julle ’n donkiemerrie kry wat vasgemaak is en ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle vir My 3en as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: ‘Ons Meester het hulle nodig’ en dadelik sal hy hulle hierheen stuur.” 4Hierdie het gebeur sodat dit vervul sou word wat deur die profeet gesê is, wat sê:

5“Sê vir die dogter van Tziyon: ‘Kyk, jou Koning kom na jou toe, nederig en Hy ry op ’n donkie, op ’n vul, die vul van ’n donkiemerrie’.”

6Die studentevolgelinge het gegaan en gedoen net soos Yeshua hulle beveel het; 7hulle het die donkiemerrie en die vul gebring en hulle klere bo-op die vul gelê en Yeshua het daarop gery. 8’n Groot menigte mense het hulle klere op die pad oopgesprei, maar ander het takke van die bome afgekap en op die pad neergelê.

9Die skare wat voor geloop en dié wat gevolg het, het uitgeskreeu en gesê: “Red ons nou, Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Outoriteit en Karakter van יהוה. U in die hoogste hemel: red ons nou!”

10Toe Hy in Yerushalayim inkom, is die hele stad omgekrap en hulle het gesê: “Wie is Hy?” 11Die skare sê: “Dit is Yeshua, die Profeet, wat van Natzeret in die Galil is.”

12Yeshua het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die sitplekke van die duiweverkopers omgegooi 13en Hy het vir hulle gesê: “Daar is geskrywe: ‘My huis moet ’n huis van gebed genoem word,’ Yes 56:7 maar julle het dit ’n grot vir plunderaars gemaak.”

14Hulle het blindes en kreupeles na Hom toe gebring in die tempelarea en Hy het hulle gesond gemaak, 15maar toe die leierpriesters en leraars van die wet die wonderwerke sien wat Hy gedoen het en die kinders in die tempelarea uitroep en sê: “Red ons nou, Seun van Dawid,” het dit vir hulle boos gelyk 16en hulle sê vir Hom: “Hoor U wat hulle daar sê?” Yeshua antwoord hulle: “Ja, het julle nooit gelees: ‘Uit die mond van babas en suigelinge het U ’n lied van lofprysing gekomponeer,’ nie?” 17Hy het weggegaan van hulle af en uit die stad uitgegaan na Beit-Anyah en daar oornag.

18Vroegoggend het Hy teruggegaan na die stad toe; Hy was honger 19en Hy sien ’n vyeboom langs die pad en gaan daarheen, maar Hy het niks daaraan gevind nie behalwe blare en Hy sê vir dit: “Daar sal nooit weer vrugte aan jou wees tot in ewigheid nie;” en onmiddellik het die vyeboom verdroog.

20Toe die studentevolgelinge dit sien, was hulle verwonderd en sê: “Hoe het die vyeboom in ’n oogwink verdroog?” 21Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is waar, Ek sê vir julle, as julle vertroue in julle het en nie twyfel nie, sal julle nie slegs doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar al sê julle vir hierdie berg: ‘Lig jou op en gooi jou in die see,’ sal dit gebeur 22en alles wat julle ook al in gebed vra en julle vertrou, sal julle ontvang.”

23Toe Yeshua in die tempel ingegaan het, kom die leierpriesters en die oudstes van die volk na Hom toe terwyl Hy besig was om te leer en hulle sê vir Hom: “In watter outoriteit doen U hierdie dinge en wie het aan U hierdie outoriteit gegee?” 24Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ek sal julle ook een ding vra en as julle My antwoord, sal Ek julle sê in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Yoganan, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?” Hulle het dit eenkant bespreek en gesê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ dan sal Hy ons vra: ‘Waarom het julle hom nie geglo nie?’ 26en as ons sê: ‘Uit mense,’ dan moet ons oppas vir die skare, want almal beskou Yoganan as ’n profeet.” 27Hulle antwoord en sê vir Hom: “Ons weet nie.” Yeshua sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen nie,

28maar hoe lyk dit vir julle? Daar was ’n sekere man wat twee seuns gehad het en hy roep die eerste een en sê vir hom: ‘My seun, gaan werk vandag in die wingerd,’ 29maar hy antwoord en sê: ‘Ek wil nie,’ maar later het hy berou gehad en gegaan. 30Hy het na die tweede gegaan en vir hom net so gesê en hy antwoord en sê: ‘Ja, my meester’ en hy het nie gegaan nie. 31Wie van hierdie twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle antwoord Hom: “Die eerste.” Yeshua sê vir hulle: “Dit is waar, Ek sê vir julle, die belastinggaarders en die prostitute gaan julle vooruit die Koninkryk van God in, 32want Yoganan het na julle toe gekom met die pad van regverdigheid en julle het hom nie vertrou nie, maar die belastinggaarders en die prostitute het hom vertrou en julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te vertrou nie.

33Luister na ’n ander vergelykende storie: ‘Daar was ’n sekere huiseienaar wat ’n wingerd geplant en ’n heining om dit gesit het. Hy het ’n parskuip daarin gegrawe, ’n wagtoring gebou, die sorg aan werkers oorgegee en na ’n ander land gereis. 34Toe die vrugteseisoen aangebreek het, stuur hy sy slawe na die boere om van die vrugte van sy wingerd aan hom te stuur 35en die boere het sy slawe gevat, een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36Weer het hy ander slawe gestuur, meer as die eerstes en hulle het met hulle net so gemaak. 37Laastens het hy sy seun na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal my seun respekteer,’ 38maar toe die werkers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam; kom ons maak hom dood en neem sy erfdeel vir ons’ 39en hulle het hom gegryp en uit die wingerd uitgelei en hom doodgemaak.’ 40Wanneer die meester van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie werkers doen?” 41Hulle het vir Hom gesê: “Baie sleg; hy sal hulle vernietig en die wingerd oorgee aan die sorg van ander werkers wat aan hom die vrugte in seisoen sal gee.”

42Yeshua sê vir hulle: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: ‘Die Steen wat die bouers verwerp het, dit het die Hoof Hoeksteen geword. Hy het van die Teenwoordigheid van יהוה gekom en is wonderbaar in ons oë?’

43Deur dit sê Ek vir julle: ‘Die Koninkryk van God sal van julle weggevat word en aan ’n volk gegee word wat vrugte sal dra 44en wie ook al op hierdie Steen val, sal stukkend breek en elkeen op wie Hy val, dié sal tot poeier gemaal word’.”

45Toe die leierpriesters en die Fariseërs sy vergelykende stories hoor, het hulle geweet dat Hy teen hulle gepraat het 46en hulle het probeer om Hom te vang, maar hulle was bang vir die skare omdat dié Hom as ’n profeet beskou het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 20
Top of Page
Top of Page