Mattheus 14
Afrikaans PWL
1In daardie tyd het Herodes, die heerser oor ’n kwart van die land, van Yeshua se bekendheid gehoor, 2en aan sy onderdane gesê: “Hierdie is Yoganan, die Doper. Hy het uit die dood uit opgestaan en daarom doen Hy dié wonderwerke,”

3want Herodes het Yoganan gevang, hom vasgebind en in die tronk gesit as gevolg van Heródias, die vrou van Filippos, sy broer, 4want Yoganan het vir hom gesê: “Dit is nie reg volgens die wet dat sy jou vrou is nie.” 5Hy wou hom doodmaak, maar hy het die mense gevrees omdat hulle hom as ’n profeet beskou het.

6Tydens Herodes se verjaarsdag by die huis het die dogter van Herodias tussen die gaste gedans en Herodes plesier. 7As gevolg hiervan het hy met ’n eed beloof om vir haar enige iets te gee wat sy sou vra. 8Omdat sy deur haar moeder beveel is, het sy gesê: “Gee my hier, op ’n bord, die kop van Yoganan, die Doper.” 9Dit het die koning hartseer gemaak, maar ter wille van die eed en die gaste het hy bevel gegee dat dit vir haar gegee moes word 10en hy het gestuur om Yoganan in die gevangenis te onthoof. 11Sy kop is op ’n bord gebring en aan die meisie gegee en sy het dit vir haar moeder gebring. 12Sy studentevolgelinge het gekom, sy lyk weggevat, dit begrawe en gegaan en dit aan Yeshua vertel.

13Toe Yeshua dit hoor, het Hy daarvandaan in ’n skuit vertrek na ’n verlate plek om alleen te wees. Toe die skare dit hoor, het hulle Hom oor land gevolg vanuit die stede. 14Yeshua het afgekom, die groot skare gesien en het sagte omgee vir hulle ervaar en Hy het hulle siekes gesond gemaak,

15maar toe dit aand geword het, kom Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir Hom: “Die plek is ’n wildernis en dit is al laat; stuur die skare weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop.” 16Hy sê egter vir hulle: “Dit is nie nodig vir hulle om weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet.” 17Hulle sê egter vir Hom: “Ons het niks hier nie behalwe vyf brode en twee visse.” 18Yeshua sê vir hulle: “Bring hulle hier vir My.” 19Hy het die skare beveel om op die grond te gaan sit en Hy neem daardie vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit, breek dit en gee dit aan die studentevolgelinge en die studentevolgelinge sit dit voor aan die skare. 20Almal het geëet en was versadig en hulle het die oortollige stukke opgetel: twaalf mandjies vol. 21Dié wat geëet het, was omtrent vyf duisend mans, buiten die vroue en kinders.

22Dadelik het Yeshua Sy studentevolgelinge in die boot laat klim om voor Hom uit te gaan na die oorkant terwyl Hy die skare wegstuur. 23Nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy alleen op met die berg om te bid en toe dit donker geword het, was Hy alleen daar. 24Die boot was alreeds ’n afstand van die land af terwyl dit hewig rondgeslinger is deur die golwe, want die wind was teen hulle, 25maar in die vierde nagwaak het Yeshua na hulle toe aangekom terwyl Hy op die water geloop het. 26Sy studentevolgelinge het gesien dat Hy op die water loop en hulle was ontsteld en sê: “Dit is ’n visioen.” Hulle het uitgeroep van vrees, 27maar Yeshua het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees bemoedig, אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees! Moenie bang wees nie.”

28Kefa antwoord en sê vir Hom: “My Meester, as dit U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” 29Yeshua sê vir hom: “Kom!” Kefa klim van die skuit af en loop op die water na Yeshua toe 30en toe hy sien dat die wind sterk was, het hy bang geword en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: “My Meester, red my!” 31Ons Meester het in ’n oogwink Sy hand uitgesteek en hom vasgehou en vir hom gesê: “O, klein van vertroue, waarom het jy getwyfel?” 32Toe hulle in die skuit klim, het die wind gaan lê. 33Die wat in die skuit was, kom en val voor Hom neer en sê: “Waarlik, U is die Seun van God!”

34Hulle het oorgevaar en in die streek van Galila gekom 35en die manne van daardie plek het Hom herken, na al die dorpies rondom hulle uitgestuur en almal wat baie siek was, na Hom toe gebring 36en hulle het Hom versoek om maar net die bloulyn-soomtossels van Sy kleed te mag aanraak en almal wat dit aangeraak het, is genees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 13
Top of Page
Top of Page