Mattheus 13
Afrikaans PWL
1Daardie selfde dag het Yeshua uit die huis uitgegaan en langs die see gaan sit 2en ’n groot groep mense het by Hom bymekaargekom sodat Hy in ’n boot geklim en gaan sit het en die hele skare mense het op die strand gestaan.

3Hy het baie dinge deur vergelykende stories aan hulle vertel en gesê: “Let op, ’n saaier het uitgegaan om te saai 4en terwyl hy saai, val sommiges langs die pad en ’n voël het gekom en dit opgeëet. 5Ander het op die rots geval waar daar nie baie grond was nie en dit het dadelik opgekom omdat daar nie diep grond was nie. 6Toe die son opkom en dit warm word, het die saad verdroog omdat dit nie wortels gehad het nie. 7Ander het tussen die dorings geval en die dorings het opgekom en dit verstik. 8Ander het in die goeie grond geval en vrugte gegee: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig. 9Wie ook al ’n oor het wat hoor: laat hom luister!”

10Die studentevolgelinge het gekom en vir Hom gesê: “Waarom praat U met hulle deur vergelykende stories?” 11Hy antwoord en sê vir hulle: “Aan julle is gegee om die geheime van die Koninkryk van die hemel te ken, maar dit is nie aan hulle gegee nie, 12want aan die een wat het, sal gegee word en dit sal vermeerder 13en van die een wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggevat word; daarom praat Ek met hulle deur vergelykende stories omdat hulle wat sien, nie sien nie en hulle wat hoor, nie hoor of verstaan nie;

14in hulle is die profesie van Yesha’yahu vervul wat sê: ‘luisterende sal julle hoor en nie verstaan nie en siende sal julle sien en nie ken nie,

15want die verstand, wil en emosie van hierdie volk het dig geword en met hulle ore het hulle skaars gehoor en hulle het hul oë toegemaak sodat hulle nie met die oë sou sien en met die ore hoor en met die verstand, wil en emosie verstaan en hulle sonde erken en wegdraai na God toe en Ek hulle genees nie,’ Yes 6:9-10

16maar julle oë is geseën omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor. 17Dit is waar, Ek sê vir julle, baie profete en onskuldiges het begeer om te sien wat julle sien en het dit nie gesien nie en om te hoor wat julle hoor en het dit nie gehoor nie,

18maar luister julle na die vergelykende storie van die saad. 19Elkeen wat die boodskap van die Koninkryk hoor en nie verstaan nie, in hom kom die bose een en gryp weg wat in sy verstand, wil en emosie gesaai is; dit is wat langs die pad gesaai is. 20Dit wat op die rots gesaai is: dit is hy wat die boodskap hoor en dit in ’n kort rukkie met blydskap aanvaar, 21maar hy het geen wortel in homself nie en is net vir ’n tyd en as daar moeilikheid en vervolging kom ter wille van die boodskap, val hy dadelik uitmekaar. 22Dit wat tussen die dorings gesaai is: dit is hy wat die boodskap hoor, maar die dinge van hierdie wêreld en die misleiding van rykdom versmoor die boodskap en hy is sonder vrugte. 23Die wat op die goeie grond gesaai is: dit is hy wat My boodskap hoor en verstaan en vrugte dra: sommige ’n honderd-, sommige sestig-, sommige dertigvoudig.”

24’n Ander vergelykende storie het Hy aan hulle vertel en gesê: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n man wat goeie saad in sy land gesaai het, 25maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en darrel (vals koring) tussen die koring gesaai en weggegaan. 26Toe die blare opgroei en die spruitjies vrugte vorm, toe verskyn die darrel ook. 27Die diensknegte van die meester van die huis het na hom toe gekom en vir hom gesê: ‘Ons meester, let op, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kom die darrel dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘’n Vyandige persoon het dit gedoen.’ Die diensknegte sê vir hom: ‘Wil u hê dat ons moet gaan en dit uitsoek?’ 29Hy antwoord hulle: ‘Is dit nie dat as julle die darrel bymekaarmaak, julle ook saam met hulle die graan sal ontwortel nie? 30Laat altwee saam groei tot die oestyd toe en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die darrel bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die graan bymekaar in my skuur.’”

31’n Ander vergelykende storie het Hy vir hulle vertel en gesê: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaad wat ’n man vat en in sy land saai. 32Hierdie is die kleinste van alle sade, maar as dit gegroei het, is dit die grootste van alle kruie en word dit ’n boom sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.”

33’n Ander vergelykende storie het Hy hulle vertel: “Die Koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit alles ingesuur is.”

34Al hierdie dinge het Yeshua deur vergelykende stories vir die skare gesê en sonder vergelykende stories het Hy vir hulle niks gesê nie

35sodat dit wat deur die profeet gesê is vervul sou word wat sê: “Ek sal My mond oopmaak deur vergelykende stories en Ek sal dinge sê wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.”

36Toe het Yeshua die skare gelos en huis toe gegaan en Sy studentevolgelinge het na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Verduidelik vir ons die vergelykende storie van die darrel en die land.” 37Hy het geantwoord en vir hulle gesê: “Hy wat die goeie saad gesaai het, is die Seun van die mens 38en die land is die wêreld. Die goeie saad is die kinders van die Koninkryk, maar die vals saad is die kinders van die bose een. 39Meer nog, die vyand wat hulle gesaai het, is die teëstander. Die oestyd is die einde van die wêreld en die maaiers is die engele. 40Net soos die darrel bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, sal dit wees aan die einde van hierdie wêreld: 41die Seun van die mens sal Sy boodskappers uitstuur en hulle sal uit Sy Koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat wetteloosheid beoefen 42en hulle in die intensiteit van vuur gooi. Daar sal gehuil wees en gekners van tande. 43Dan sal die onskuldiges skyn soos die son in die Koninkryk van hulle Vader. Wie ook al ’n oor het wat wil hoor, laat hom luister.

44Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n skat wat weggesteek is in ’n stuk grond, wat ’n man kry en geheim hou en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het en koop daardie grond.

45Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n handelaar wat mooi pêrels soek 46en toe hy ’n sekere pêrel vind wat voor die hand liggend baie kosbaar is, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het en koop dit.

47Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n net wat in die see gegooi word en van alle soorte bymekaarmaak 48en toe dit vol was, het hulle dit op die strand uitgebring en gaan sit en dit uitgesoek. Die goeies het hulle in houers gesit en die slegtes uitgegooi. 49So sal dit wees aan die einde van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense van die onskuldiges afskei 50en hulle in die intensiteit van vuur gooi. Daar sal gehuil wees en gekners van tande.”

51Yeshua sê vir hulle: “Het julle ál hierdie dinge verstaan?” Hulle antwoord Hom: “Ja, ons Meester!” 52Hy sê vir hulle: “As gevolg hiervan is elke leraar van die wet, wat opgelei word vir die Koninkryk van die hemel, soos die meester van ’n huis wat uit sy skat nuwe en ou dinge bring.”

53Dit was nadat Yeshua klaar was met hierdie vergelykende stories dat Hy daarvandaan weggegaan het 54en Hy het in Sy stad gekom en hulle in hulle bymekaarkomplekke geleer sodat hulle verslae was en gesê het: “Van waar kry Hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan? 55Is hierdie nie die seun van die skrynwerker nie? Is die naam van sy moeder nie Miryam en dié van sy broers Ya’akov, Yosef, Shim’on en Y’hudah nie? 56Al Sy susters, let op, is hulle nie almal by ons nie? Van waar kry Hy dan al hierdie dinge?” 57Hulle het aanstoot geneem, maar Yeshua sê vir hulle: “Daar is nie ’n profeet wat verag word nie, behalwe in sy tuisdorp en in sy huis.” 58Hy het, vanweë hulle gebrek aan vertroue, nie baie wonderwerke daar gedoen nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 12
Top of Page
Top of Page