Markus 6
Afrikaans PWL
1Hy het daarvandaan weggegaan en in die dorp gekom en Sy studentevolgelinge het by Hom gebly. 2Toe dit Shabbat word, begin Hy om in die bymekaarkomplek te leer en baie wat Hom gehoor het, was verwonderd en sê: “Waar kry Hy hierdie dinge en watter wysheid is aan Hom gegee dat sulke wonderwerke deur Sy hande gedoen kan word? 3Is Hy nie net die skrynwerker, die seun van Miryam, die broer van Ya’akov, Yosi, Y’hudah en Shim’on nie en is sy susters nie hier tussen ons nie?” Hulle was agterdogtig oor Hom. 4Yeshua sê vir hulle: “Daar is nie ’n profeet sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, by sy familie en in sy huis.” 5Hy kon geen kragtige dade daar doen nie, behalwe om ’n paar siekes die hande op te lê en hulle gesond te maak 6en Hy was verstom oor hulle gebrek aan vertroue en het na die dorpies rondom gegaan en geleer.

7Hy het die twaalf geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur en hulle outoriteit gegee oor vuil geeste: om hulle uit te dryf 8en Hy het hulle beveel om niks op die pad saam te vat nie behalwe miskien net ’n staf; geen sak, geen brood en geen koper in hulle beursie nie, 9maar hulle moet sandale aan hulle voete trek en nie twee kledingstukke aantrek nie. 10Hy het ook vir hulle gesê: “In watter huis julle ook al mag ingaan, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek 11en almal wat julle nie ontvang of selfs nie na julle luister nie, wanneer julle weggaan van daardie plek af, skud die stof onder julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle. Dit is waar, Ek sê vir julle, dit sal vir S’dom en vir `Amorra meer uithoudbaar wees in die dag van oordeel as vir daardie dorp.” 12Hulle het uitgegaan en verkondig dat mense moet omdraai van hulle sondes na God toe 13en hulle het baie bose geeste uitgedryf, baie siekes met olie gesalf en hulle genees.

14Die koning, Herodes, het van Yeshua gehoor, want Sy Karakter en Outoriteit het bekend geword en hy het gesê: “Hy is Yoganan, die Doper, wat uit die dood uit opgestaan het; daarom werk dié kragte in Hom.” 15Ander het gesê: “Hy is Eliyahu;” en nog ander het gesê: “Hy is ’n profeet, net soos een van die profete,” 16maar toe Herodes dit hoor, sê hy: “Yoganan wat ek onthoof het, dit is hy wat uit die dood uit opgestaan het,”

17want Herodes self het gestuur en Yoganan gevang en hom in die tronk vasgebind, deur toedoen van Herodias, die vrou van Filippos, sy broer omdat hy met haar getrou het, 18want Yoganan het aan Herodes gesê dat dit nie reg is volgens die wet om sy broer se vrou te vat nie. 19Herodias het hom gedreig en wou hom doodmaak en sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Yoganan omdat hy gesien het dat hy ’n onskuldige en afgesonderde man was en hy het hom beskerm en baie dinge van hom gehoor en vir hom gedoen. Hy het graag na hom geluister. 21Op ’n geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy edelmanne, die kapteins en die leiers van die Galil, ’n feesmaal gehou het 22en die dogter van dieselfde Herodias ingekom en gedans het en sy Herodes en die wat saam aan tafel was, plesier het, het die koning vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil en ek sal dit vir jou gee.” 23Hy het vir haar met ’n eed belowe: “Net wat jy my vra, sal ek jou gee, tot en met die helfte van my koninkryk.” 24Toe gaan sy uit en sê vir haar moeder: “Wat sal ek vir hom vra?” Sy sê: “Die kop van Yoganan, die Doper.” 25Dadelik haas sy haar in na die koning toe en vra hom en sê: “Ek wil hê dat u dadelik vir my die kop van Yoganan, die Doper, op ’n bord sal gee.” 26Die koning was intens bedroef, maar as gevolg van die eed en die wat saam aan tafel was, het hy gekies om haar nie te weier nie 27en die koning stuur dadelik die laksman met die opdrag om sy kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof 28en sy kop op ’n bord gebring en dit aan die meisie gegee en die meisie het dit aan haar moeder gegee. 29Toe sy studentevolgelinge dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in ’n graf gesit.

30Die wat uitgestuur is, het by Yeshua saamgekom en aan Hom alles wat hulle gedoen het, vertel en alles wat hulle aan ander geleer het 31en Hy sê vir hulle: “Kom julle, ons sal alleen na die platteland toe gaan dat julle kan rus,” want daar was baie wat kom en gaan en hulle het selfs geen geleentheid gehad om te eet nie. 32Hulle het alleen met die boot na ’n verlate plek gegaan

33en die menigte mense het hulle sien weggaan en baie het Hom herken en te voet van al die stede af aangehardloop voor Hom uit na daardie plek toe. 34Yeshua het uitgeklim, die baie mense gesien en vir hulle omgegee omdat hulle soos skape sonder ’n herder was en Hy het begin om hulle baie dinge te leer. 35Toe dit laat geword het, het Sy studentevolgelinge na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Die plek is verlate en dit is reeds laat. 36Stuur hulle weg sodat hulle na die mark en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want daar is niks vir hulle om te eet nie,” 37maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê vir Hom: “Moet ons gaan en vir twee honderd denarii brood koop en vir hulle gee om te eet?” 38Hy sê vir hulle: “Gaan kyk hoeveel brode julle hier het.” Toe hulle gaan kyk het, kom hulle en sê: “Vyf brode en twee visse.” 39Hy het hulle beveel om almal op die gras te laat sit 40en hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. 41Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën en breek die brode en gee dit aan Sy studentevolgelinge om dit voor te sit en Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. 42Almal het geëet en was versadig 43en hulle het twaalf mandjies vol van die afgebreekte stukkies en vis opgetel. 44Hulle wat van die brood geëet het, was ongeveer vyf duisend mans.

45Dadelik het Hy Sy studentevolgelinge in die boot laat klim en hulle vooruit laat vaar na die oorkant, na Beit-Tzaidah terwyl Hy die mense wegstuur. 46Nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy in die heuwels ingegaan om te bid.

47Teen die aand, was die boot in die middel van die see en Hy alleen op die land. 48Hy het gesien dat hulle swaar roei, want die wind was teen hulle en omtrent die vierde wagbeurt het Hy al lopend op die see na hulle toe gekom en wou by hulle verbygaan. 49Hulle het Hom op die water sien loop en het gedink dat Hy ’n vals verskynsel was en hulle het uitgeroep, 50want hulle het Hom almal gesien en was bang. Dadelik praat Hy met hulle en sê vir hulle: “Wees bemoedig, אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.” 51Hy het nader gekom en by hulle in die skuit geklim, die wind het gaan lê en hulle was in hulleself uitermate verbaas en verwonderd, 52want hulle het Hom nie herken na die brood nie omdat hulle verstand verhard was.

53Nadat hulle oorgevaar het na die anderkant toe, het hulle by die land van Ginosar gekom. 54Toe hulle uit die boot klim, het die mense van die plek Hom dadelik herken 55en in daardie hele streek het hulle rondgehardloop en die wat siek was op beddens begin dra na die plek waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede, het hulle die wat siek was, op die strate neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die bloulyn-soomtossel van Sy kleed, aan te raak en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 5
Top of Page
Top of Page