Markus 2
Afrikaans PWL
1Na ’n paar dae het Hy weer in K’far-Nagum ingegaan en toe hulle gehoor het dat Hy in ’n huis was, 2het baie bymekaargekom sodat daar selfs voor die deur nie meer plek was nie en Hy het met hulle oor die boodskap gepraat. 3Hulle het ’n verlamde man tussen vier mans gedra en na Hom toe gebring. 4Omdat hulle weens die skare nie naby Hom kon kom nie, het hulle op die dak geklim en die dakteëls van die plek waar Yeshua was, oopgemaak en die draagbaar, waarop die verlamde lê, laat sak. 5Toe Yeshua hulle vertroue sien, sê Hy vir die verlamde: “My seun, jou sondes is vir jou vergewe!” 6Daar was van die leraars van die wet en die Fariseërs wat daar gesit het en in hulle gedagtes gedink het: 7“Wie is Hy om so boos te praat teen God? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” 8Yeshua het in Sy gees geweet dat hulle hierdie dinge by hulleself dink en Hy sê vir hulle: “Wat redeneer julle oor hierdie dinge in julle gedagtes? 9Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes is vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou draagbaar op en loop?’ 10Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die mens outoriteit het om op die aarde sondes te vergewe,” sê Hy vir die verlamde: 11“Vir jou sê ek: ‘Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe’.” 12Hy het in ’n oomblik opgestaan, sy draagbaar opgetel en voor almal se oë uitgegaan sodat almal verbaas was en aan God lof, eer en grootheid gebring en gesê het: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

13Hy het weer uitgegaan na die see toe en al die mense het na Hom toe gekom en Hy het hulle geleer.

14Toe Hy verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Halfai, by die plek van belastinginvordering sit en Hy sê vir hom: “Volg My” en hy het opgestaan en Hom gevolg.

15Dit was terwyl Hy in sy huis aan tafel skuinsgelê het vir ete dat baie belastinggaarders en sondaars gekom en saam met Yeshua en Sy studentevolgelinge aan tafel skuinsgelê het, want daar was baie wat Hom gevolg het. 16Toe die leraars van die wet en die Fariseërs Hom saam met die belastinggaarders en sondaars sien eet, sê hulle vir Sy studentevolgelinge: “Hoe is dit dat Hy saam met die belastinggaarders en sondaars eet en drink?” 17Toe Yeshua hulle hoor, sê Hy vir hulle: “Die wat gesond is, het nie ’n behoefte aan die dokter nie, maar die wat siek is, het sieker geword. Ek het nie gekom om die onskuldiges te roep nie, maar sondaars.”

18Die studentevolgelinge van Yoganan en dié van die Fariseërs was besig om te vas en hulle kom en sê vir Hom: “Waarom vas die studentevolgelinge van Yoganan en dié van die Fariseërs, maar U studentevolgelinge vas nie?” 19Yeshua sê vir hulle: “Kan die lede van die bruidsgroep vas terwyl die Bruidegom by hulle is? Nee, 20maar daar sal dae kom wanneer die Bruidegom van hulle af weggevat word en in daardie dae sal hulle vas.

21Niemand werk ’n nuwe stuk lap op ou klere nie; anders skeur sy nuwe stuk heeltemal van die oue af en daar kom ’n erger skeur 22en niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars en die wyn uitloop en die sakke vergaan, maar jy gooi nuwe wyn in nuwe sakke.”

23Dit was toe Yeshua op die Shabbat deur die graanland geloop het dat Sy studentevolgelinge geloop en are afgepluk het 24en die Fariseërs sê vir Hom: “Let op, waarom doen hulle op die Shabbat wat nie volgens die wet is nie?” 25Yeshua sê vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in ’n groot nood was en hy en die wat by hom was, honger was nie? 26Hoe hy in die huis van God ingegaan het, toe Evyatar die hoofpriester was en die brode van die altaar van יהוה geëet het, wat niemand, volgens die wet, behalwe die priesters mag eet nie en ook vir die wat saam met hom was, gegee het?” 27Hy sê vir hulle: “Die Shabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Shabbat nie; 28daarom is die Seun van die mens ook Meester van die Shabbat.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 1
Top of Page
Top of Page