Markus 1
Afrikaans PWL
1Die begin van die goeie boodskap van Yeshua, Die Gesalfde Een, die Seun van God,

2sóos dit geskryf is in Yesha’yahu die Profeet: “Let op, Ek sal My boodskapper voor U Teenwoordigheid uitstuur, om U pad voor te berei.”

3’n Stem wat uitroep: “Berei die weg van die Meester יהוהin die wildernis voor en maak Sy paaie reguit!”

4Yoganan was in die wildernis, besig om te doop en het die doop van berou, erkenning en aflegging verkondig vir die bevryding van sondes. 5Die hele streek van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim het uitgegaan na hom toe en hy het almal in die Yardenrivier gedoop, wanneer hulle hul sondes erken en aflê. 6Yoganan was aangetrek met klere van kameelhare en ’n gordel van leer om sy heup en sy kos was sprinkane en heuning van die veld. 7Hy het verkondig en gesê: “Let op, ná my kom Een wat magtiger is as ek en ek is nie waardig om af te buk en sy sandaal se band los te maak nie. 8Ek het julle in water gedoop, maar Hy sal julle in die Gees van Afsondering doop.”

9Dit was in daardie dae dat Yeshua, van Natzeret in die Galil, gekom het en Hy deur Yoganan in die Yarden gedoop is 10en dadelik, toe Hy opkom uit die water uit, sien hy die hemele skeur en die Gees soos ’n duif op Hom neerdaal 11en daar was ’n Stem uit die hemel: “Jy is My Seun, wie Ek lief het, waarmee Ek tevrede is.”

12Dadelik het die Gees Hom uitgedryf na die wildernis toe. 13Hy was daar in die wildernis vir veertig dae terwyl Hy getoets is deur die teëstander. Hy was saam met die wilde diere en die engele het Hom bedien.

14Nadat Yoganan gevang is, het Yeshua na die Galil gekom en die goeie boodskap van die Koninkryk van God verkondig 15en gesê dat die tyd tot volheid gekom het en dat die Koninkryk van God naby gekom het; draai om na God toe en vertrou in die goeie boodskap.

16Terwyl Hy langs die see van Galila loop, sien Hy vir Shim’on en Andreas, sy broer, besig om ’n net in die see te gooi, want hulle was vissers 17en Yeshua sê vir hulle: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak” 18en dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg. 19’n Entjie verder aan, sien Hy vir Ya’akov, die seun van Zavdai en Yoganan, sy broer, asook dié in die boot besig om hulle nette heel te maak 20en Hy het hulle geroep en dadelik het hulle hul vader, Zavdai, in die skuit saam met die huurlinge laat staan en Hom gevolg.

21Toe hulle K’far-Nagum binnegekom het, het Hy dadelik, op die Shabbat, in hulle bymekaarkomplek lering gegee 22en hulle was stomgeslaan oor Sy leer, want Hy het hulle geleer soos Een wat outoriteit het en nie soos hulle leraars van die wet nie. 23Daar was in hulle bymekaarkomplek ’n man met ’n vuil gees in hom en hy het uitgeskree 24en gesê: “Wat wil U van ons hê, Yeshua, Natzerener (vanaf Natzeret)? Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet Wie U is: die Afgesonderde Een van God!” 25Yeshua het hom beveel en gesê: “Hou jou mond toe en gaan uit hom uit!” 26Die vuil gees het hom neergegooi en met ’n harde stem geskree en uit hom uitgegaan. 27Almal was verbaas en het dit onder mekaar bespreek en gevra: “Wat is dit? Watse nuwe leringe is dit en dít met outoriteit; Hy beveel selfs die vuil geeste en hulle gehoorsaam Hom?” 28Onmiddellik het die nuus oor Hom versprei in die hele streek van die Galil.

29Hulle het uit die bymekaarkomplek uitgegaan en saam met Ya’akov en Yoganan na die huis van Shim’on en Andreas gegaan. 30Die skoonmoeder van Shim’on het siek gelê met koors en hulle het Hom gesê van haar. 31Hy gaan na haar toe, vat haar hand, lig haar op en dadelik het die koors haar verlaat en sy het hulle bedien.

32In die aand toe die son ondergegaan het, het hulle almal na Hom toe gebring wat siek en deur demone beheer was 33en die hele dorp het by die deur bymekaargekom. 34Hy het baie gesond gemaak wat ’n verskeidenheid siektes gehad het, baie bose geeste uitgedryf en die bose geeste nie toegelaat om te praat nie omdat hulle Hom geken het.

35Baie vroeg in die oggend, het Hy opgestaan en uitgegaan na ’n afgesonderde plek en daar het Hy gebid. 36Shim’on en die wat by hom was, het Hom gesoek 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom dat almal na Hom soek 38en Hy sê vir hulle: “Ons gaan na die dorpe en stede naby ons sodat Ek ook daar kan verkondig, want hiervoor het Ek gekom.” 39Hy het in al hulle bymekaarkomplekke gepraat in die hele Galil en demone uitgedryf.

40’n Melaatse kom na Hom toe, val neer by Sy voete en smeek van Hom en sê vir Hom: “As U wil, is U in staat om my te reinig.” 41Yeshua het vir hom liefdevol omgegee en Sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word gereinig!” 42Op daardie oomblik het die melaatsheid van hom af weggegaan en hy is gereinig 43en Hy het hom ernstig gewaarsku en hom weggestuur 44en vir hom gesê: “Wees versigtig dat jy absoluut niks aan iemand sê nie, maar gaan wys jouself aan die priester en offer wat Moshe beveel het vir jou reiniging, tot ’n getuienis vir hulle,” 45maar toe hy uitgegaan het, begin hy baie verkondig en verslag doen oor die gebeurtenis sodat Yeshua nie meer openlik in ’n dorp kon ingaan nie, maar Hy was in verlate plekke en hulle het van elke plek af na Hom toe gekom.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 28
Top of Page
Top of Page