Markus 16
Afrikaans PWL
1Toe die Shabbat verby was, het Miryam van Migdala, Miryam, die moeder van Ya’akov en Shalomé, soet speserye gekoop om Hom te gaan salf. 2Baie vroeg op die eerste dag van die week, met die opkoms van die son, kom hulle by die graf 3en hulle sê vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die opening van die graf wegrol,” 4want dit was baie groot. Toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip weggerol is. 5Hulle het in die graf ingegaan en ’n jongman, met ’n lang wit kleed, aan die regterkant sien sit en hulle was verskrik, 6maar hy sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Julle soek Yeshua van Natzeret wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie! Let op, die plek waar Hy neergelê was, 7maar gaan sê vir Sy studentevolgelinge en vir Kefa, let op, Hy sal voor julle uitgaan na die Galil. Daar sal julle Hom sien, net soos Hy vir julle gesê het.” 8Toe hulle dit hoor, het hulle vinnig uitgegaan en weggehardloop van die graf af, maar in skok en met bewing het hulle vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.

9Nadat Hy opgestaan het, het Hy vroeg op die eerste dag van die week eerste aan Miryam van Migdala, uit wie Hy sewe demone gedryf het, verskyn. 10Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom was terwyl hulle treur en huil 11en toe hulle hoor dat hulle sê dat Hy lewe en aan hulle verskyn het, het hulle dit nie geglo nie.

12Hierna het Hy op ’n ander manier verskyn aan twee van hulle terwyl hulle na ’n dorpie toe geloop het. 13Hulle het gegaan en dit aan die ander vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie.

14Daarna het Hy aan die elf verskyn toe hulle by die tafel skuins gelê het en die gebrek aan hulle vertroue en hardheid van verstand veroordeel omdat hulle die wat Hom vroeër gesien het, nie geglo het nie 15en Hy het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en verkondig My goeie boodskap in die ganse skepping. 16Wie ook al vertrou en gedoop word, sal lewe, maar hy wat nie vertrou nie, is veroordeel. 17Hierdie tekens sal dié wat vertrou vergesel: in My Karakter en Outoriteit sal hulle demone uitdryf, met nuwe tale sal hulle praat, 18hulle sal slange optel (hulle vyande hanteer) en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle geen kwaad aandoen nie. Hulle sal die hande lê op siekes en hulle sal gesond word.”

19Nadat Yeshua, ons Meester, met hulle gepraat het, het Hy opgegaan na die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God, 20maar hulle het uitgegaan en in elke plek verkondig en ons Meester het hulle gehelp en die boodskap bevestig deur die tekens wat hulle gedoen het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 15
Top of Page
Top of Page