Markus 15
Afrikaans PWL
1Dadelik in die oggend, het die leierpriesters vergadering gehou saam met die oudstes, die leraars van die wet en die hele Raad. Hulle het Yeshua vasgebind, Hom gebring en aan Pilatos oorgelewer. 2Pilatos het aan Hom gevra: “Is U die Koning van die Jode?” Hy het geantwoord en vir hom gesê: “U het dit gesê.” 3Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatos het Hom weer gevra en gesê: “Gee U nie ’n antwoord nie? Kyk hoe baie teen U getuig.” 5Yeshua het egter geen antwoord gegee nie sodat Pilatos gewonder het.

6Hy het ’n tyd daargestel op elke fees om vir hulle een gevangene, die een waarvoor hulle gevra het, los te laat. 7Daar was een genaamd Bar-Abba, wat saam met mede-oproermakers gevang is; hulle wat in die opstand ’n moord gepleeg het. 8Die skare het uitgeroep en begin vra dat hy vir hulle sou doen soos altyd. 9Pilatos antwoord en sê: “Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet vrylaat?” 10Want Pilatos het geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het, 11maar die leierpriesters het die skare al hoe meer aangehits dat hy eerder Bar-Abba vir hulle moes vrylaat.

12Pilatos sê vir hulle: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle ‘Koning van die Jode’ noem?” 13Weereens skree hulle: “Kruisig Hom!” 14Pilatos sê vir hulle: “Watter kwaad het Hy gedoen?” Hulle skree toe nog harder: “Kruisig Hom!” 15Omdat Pilatos die skare wou tevrede stel, het hy Bar-Abba vir hulle losgelaat en nadat hy Yeshua laat gésel het, het hy Hom oorgegee om gekruisig te word.

16Die soldate het Hom weggelei na die binneplaas van die hoofkwartier en hulle het die hele leërafdeling bymekaargeroep, 17vir Hom ’n pers kleed aangetrek en vir Hom ’n kroon van dorings gevleg en opgesit. 18Hulle het begin om Hom te salueer met “Wees gegroet, Koning van die Jode!” 19Hulle het Hom met ’n riet op die kop geslaan en op Hom gespoeg en op die knieë geval en Hom ‘aanbid.’ 20Nadat hulle Hom gespot het, het hulle die pers kleed uitgetrek en vir Hom sy eie klere aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig.

21Hulle het ’n sekere Shim’on van Kurene, wat van die veld af gekom het, die vader van Aleksandros en Roufos, gedwing om Sy kruis te dra.

22Hulle het Hom gebring op die plek Gulgolta, wat vertaal word as: Kopbeen. 23Hulle het vir Hom wyn gemeng met mirre gegee om te drink, maar Hy het dit nie gedrink nie. 24Toe hulle Hom gekruisig het, het hulle Sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry. 25Dit was die derde uur (nege-uur die oggend) toe hulle Hom gekruisig het 26en op die inskripsie met die rede vir Sy dood is geskryf: ‘DIE KONING VAN DIE JODE.’

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een aan Sy regterkant en een aan sy linkerkant 28en die Skrif is vervul wat sê: ‘En Hy is by die wetteloses gereken.’ 29Die verbygangers het kwaadgepraat van Hom terwyl hulle hul kop skud en sê: “O! Vernietiger van die tempel en die een wat dit in drie dae opbou, 30red Uself en kom van die kruis af!” 31Net so het die leierpriesters ook onder mekaar en saam met die leraars van die wet gespot en vir mekaar gesê: “Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie. 32Gesalfde Een, Koning van Yisra’el, kom nou van die kruis af sodat ons kan sien en ons sal vertrou!” Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

33Toe die sesde uur (12 uur middag) aanbreek, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur (15:00) toe 34en in die negende uur het Yeshua met ’n harde stem uitgeroep en gesê: “Eil, Eil, l’mana sh’vakthani?” wat beteken: “My Magtige God, My Magtige God, waarom spaar U My nog (duur dit voort)?” 35Sommige wat daar staan, hoor dit en sê dat Hy na Eliyahu roep. 36Toe hardloop een en maak ’n spons vol asyn, sit dit op ’n riet vas om Hom te laat drink en hulle sê: “Los Hom alleen, laat ons sien of Eliyahu kom om Hom af te haal,” 37maar Yeshua het in ’n harde stem uitgeroep en Sy asem uitgeblaas 38en die gordyn in die tempel het in twee geskeur van bo tot onder. 39Toe die kaptein oor ’n honderd, wat by Hom staan, sien hoe Hy uitroep en Sy gees oorgee, sê hy: “Waarlik, hierdie Man is die Seun van God.”

40Daar was ook vroue wat dit van ver af dopgehou het. Onder hulle was Miryam van Migdala, Miryam, die moeder van die jonger Ya’akov en Yosi en Shalomé 41en hulle wat Hom gevolg en Hom versorg het toe Hy in die Galil was, asook baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Yerushalayim.

42Toe dit aand geword het en omdat dit die voorbereiding was, net voor die Shabbat, 43kom daar ’n geëerde lid van die Joodse raad, Yosef van Ramatayim, wat self ook die Koninkryk van God verwag het en gaan openlik na Pilatos om die liggaam van Yeshua te vra. 44Pilatos het gewonder of dit genoeg tyd was vir Hom om dood te wees en hy het die kaptein oor ’n honderd geroep en navraag gedoen of Hy reeds dood is 45en toe hy dit van die kaptein oor ’n honderd verneem het, het hy die liggaam aan Yosef gegee. 46Yosef het linne gekoop, Hom afgehaal, in die linne toegedraai en Hom neergelê in ’n graf wat uitgekap was in ’n rots en hy het ’n klip voor die opening van die graf gerol. 47Miryam van Migdala en Miryam, die moeder van Yosi, het gesien waar Hy neergelê is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 14
Top of Page
Top of Page