Levitikus 13
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 2“As ’n mens op die vel van sy vlees ’n swelsel, vlokkies of helder vlek het en dit in die vel van sy vlees soos ’n melaatse seer word, moet hy na die priester Aharon of na een van sy seuns, die priesters, gebring word. 3Die priester moet die aangetaste plek op die vel van die vlees ondersoek. As die hare op die plek wit geword het en die plek lyk dieper as die vel van sy vlees, dan is dit ’n melaatse seer en die priester moet hom ná die ondersoek onrein verklaar. 4As die helder vlek op die vel van sy vlees is en dit nie dieper lyk as die vel nie en die hare daarvan nie wit geword het nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank isoleer. 5Die priester moet hom op die sewende dag ondersoek en let op as die seer dieselfde lyk soos dit was, die plek nie in die vel versprei het nie, dan moet die priester hom nog sewe dae lank isoleer. 6Die priester moet hom weer op die sewende dag ondersoek en as hy sien dat die aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ’n uitslag; hy moet sy klere was en is rein,

7maar as die uitslag enigsins op die vel versprei nadat hy hom aan die priester gewys het vir sy reiniging, moet hy nog ’n keer deur die priester ondersoek word 8en as die priester sien dat die uitslag op die vel versprei het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid.

9Wanneer melaatse sere op ’n mens is, moet hy na die priester gebring word 10en die priester moet hom ondersoek en let op, as daar ’n wit swelsel in die vel is wat die hare wit gemaak het terwyl daar rou vlees in die swelsel is, 11dan is dit ’n verouderde melaatsheid op die vel van sy vlees en die priester moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie isoleer nie, want hy is onrein. 12As die melaatsheid oor sy hele vel uitbreek sodat die melaatsheid die hele vel van die aangetaste persoon van sy hoof tot sy voete oordek, so ver as wat die oë van die priester kan sien, 13moet die priester dit ondersoek en as die melaatsheid sy hele vlees oordek het, dan moet hy die aangetaste persoon rein verklaar: hy het heeltemal wit geword, hy is rein, 14maar die dag as rou vlees aan hom gesien word, sal hy onrein wees; 15as die priester die rou vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die rou vlees is onrein, dit is melaatsheid. 16As die rou vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester kom. 17As die priester hom dan ondersoek en let op, die aangetaste plek het wit geword, dan moet die priester die seer rein verklaar; hy is rein.

18As daar in die vlees, naamlik in die vel, ’n sweer is en gesond word, 19maar in die plek van die sweer ’n wit swelsel of ’n rooierige blink vlek kom, moet die priester daarna kyk. 20As die priester dit sien en dit lyk dieper as die vel en die hare daarop het wit geword, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n seer van melaatsheid wat in die sweer uitgebreek het, 21maar as die priester dit ondersoek en daar geen wit hare op is nie en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank isoleer. 22As dit oor die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag, 23maar as die helder vlek bly waar dit is en nie versprei het nie, is dit die litteken van die sweer en die priester moet hom rein verklaar.

24Of as in die vel van die vlees ’n brandplek is en die rou vlees van die brandplek ’n rooierige wit of blink vlek ontwikkel 25dan moet die priester dit ondersoek en let op, as die hare op die blink vlek wit geword het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid wat in die brandplek uitgebreek het; daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n melaatse seer, 26maar as die priester dit ondersoek en let op, daar is geen wit hare op die helder vlek nie en dit is nie dieper as die vel nie en het dof van kleur geword, dan moet die priester hom sewe dae lank isoleer. 27Op die sewende dag moet die priester hom ondersoek. As dit verder oor die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n melaatse seer, 28maar as die helder vlek bly waar dit is, nie oor die vel versprei het nie en dof van kleur geword het, dan is dit die swelsel van die brandplek. Die priester moet hom rein verklaar, want dit is die litteken van die brandplek.

29As ’n man of vrou ’n seer op die kop of in die baard het 30en die priester die plek ondersoek en sien dat dit dieper lyk as die vel en daar dun geel hare op is, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n skurf melaatsheid van die kop of van die baard, 31maar as die priester die skurwe plek ondersoek en sien dat dit nie dieper as die vel is nie en daar geen swart hare op is nie, dan moet die priester die persoon met die skurwe plek sewe dae lank isoleer. 32Op die sewende dag moet die priester die aangetaste plek ondersoek en as hy sien dat die skurwe plek nie versprei het nie en daar geen geel hare op is nie en die skurwe plek nie dieper lyk as die vel nie, 33dan moet die persoon hom skeer, maar die skurwe plek moet hy nie skeer nie en die priester moet die skurwe persoon weer sewe dae lank isoleer. 34Op die sewende dag moet die priester die skurwe plek ondersoek en as hy sien dat die skurwe plek nie oor die vel versprei het nie en dit nie dieper as die vel lyk nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Hy moet sy klere was en sal rein wees, 35maar as die skurwe plek oor die vel versprei nadat hy rein verklaar is, 36moet die priester dit ondersoek en let op, as die skurwe plek oor die vel versprei het, dan hoef die priester nie na die geel hare te soek nie; hy is onrein, 37maar as die skurwe plek lyk asof dit dieselfde gebly en donker hare daarop gegroei het, dan is die skurwe plek gesond. Hy is rein en die priester moet hom rein verklaar.

38As ’n man of vrou in die vel van hulle vlees helder wit vlekke het 39dan moet die priester kyk en, let op, as die vlekke dowwe wit vlekke in die vel van hulle vlees is, dan is dit gewone uitslag wat in die vel uitgebreek het; hy is rein.

40As ’n man se hare op sy kop uitval is hy bles; hy is rein. 41As sy kop aan die voor- en sykant bles word, is hy bles, maar hy is rein. 42As daar op die bles kop of voorkop ’n rooierige wit plek is, dan is dit melaatsheid wat uitbreek op die bles van sy kop of voorkop. 43Die priester moet hom ondersoek en let op, as die swelsel van die seer op die bles van sy kop of voorkop rooierig wit is, wat lyk soos die melaatsheid van die vel van die vlees, 44dan is hy ’n melaatse, hy is onrein. Die priester moet hom onrein verklaar; die plaag is op sy kop.

45Die melaatse op wie die plaag is, moet sy klere skeur en sy kop ontbloot; hy moet ook sy snor bedek en uitroep: “Onrein, onrein!” 46Hy is onrein. Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Hy is onrein en moet alleen bly; sy blyplek moet buitekant die kamp wees.

47As ’n kledingstuk ’n melaatse kol op het, ’n kledingstuk van wol of linne; 48of in die skeerdraad of die inslag van linne of wol, of in leer of enige leerwerk 49en die kol in die kledingstuk of in die vel of in die skeerdraad of die inslag of in enige leer voorwerp groenerig of rooierig is, dan is dit ’n melaatse kol en moet hulle dit vir die priester wys. 50Die priester moet die kol ondersoek en dit wat die kol het sewe dae lank isoleer. 51Op die sewende dag moet hy die kol ondersoek. As die kol versprei het in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die leer, vir watter diens die leer ook al verwerk is, dan is die kol ’n aktiewe melaatsheid; dit is onrein; 52daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leer voorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand, want dit is ’n aktiewe melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.

53As die priester die plek in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leer voorwerp ondersoek en let op, dit het nie versprei nie, 54dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waarop die plek is en hy moet dit nog ’n keer sewe dae lank isoleer. 55Die priester moet die kol ondersoek nadat dit gewas is en as die kol nie sy kleur verander het nie, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit hou aan om weg te vreet, aan die binne of buitekant.

56As die priester dit ondersoek nadat dit gewas is en dit dof van kleur geword het, dan moet hy dit uit die kledingstuk of uit die vel of uit die skeerdraad of die inslag, uitskeur. 57As dit weer in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leer voorwerp verskyn, dan moet jy die melaatse voorwerp met vuur verbrand. 58As die kol uit die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag of enige leer voorwerp wat jy was, verdwyn het, moet dit nog ’n keer gewas word en dit sal rein wees.

59Dit is die wet aangaande die plaag van melaatsheid in ’n kledingstuk van wol of linne of in die skeerdraad of die inslag of in enige leer voorwerp, om dit rein of onrein te verklaar.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 12
Top of Page
Top of Page