Rigters 3
Afrikaans PWL
1Hierdie is die nasies wat יהוה laat oorbly het om Yisra’el te toets (almal wat nie enige van die oorloë van Kena’an ondervind het nie; 2net sodat die geslagte van die seuns van Yisra’el oorlog geleer kan word, hulle wat dit nie vroeër ervaar het nie): 3die vyf meesters van die F’lishtyne en al die Kena’aniete, Tzidoniete en Hiviete wat in die L’vanongebergte gebly het, van die berg Ba’al-Hermon af tot by Levo-Hamat. 4Hulle was daar om Yisra’el te toets, om uit te vind of hulle die opdragte van יהוה, wat Hy hulle vaders deur Moshe beveel het, sou gehoorsaam. 5Die seuns van Yisra’el het tussen die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete gebly; 6hulle dogters as hulle vroue gevat en hulle eie dogters aan húl seuns gegee en hul gode gedien.

7Die seuns van Yisra’el het gedoen wat boos was in die oë van יהוה en יהוה, hulle God, vergeet en die Ba’als en die `Asherot gedien. 8Toe het die woede van יהוה teen Yisra’el ontvlam sodat Hy hulle verkoop het in die hand van Kushan-Rish’atayim, koning van Aram-Naharayim (Mesopotamië) en die seuns van Yisra’el het Kushan-Rish’atayim agt jaar lank gedien.

9Toe die seuns van Yisra’el na יהוה uitgeroep het, het יהוה ’n bevryder vir die seuns van Yisra’el opgewek, wat hulle bevry het: `Otni’el, die seun van K’naz, die jonger broer van Kalev. 10Die Gees van יהוה het op hom gekom en hy het Yisra’el gerig. Wanneer hy uitgegaan het om oorlog te maak, het יהוה Kushan-Rish’atayim, die koning van Aram-Naharayim, in sy hand gegee sodat hy geseëvier het oor Kushan-Rish’atayim. 11Toe het die land rus gehad vir veertig jaar lank en `Otni’el, die seun van K’naz, het gesterf.

12Nou het die seuns van Yisra’el weer boos gedoen in die oë van יהוה. יהוה het `Eglon, die koning van Mo’av, versterk teen Yisra’el omdat hulle boosheid gedoen het in die oë van יהוה. 13Hy het by homself die seuns van `Ammon en `Amalek bymekaar gemaak en hy het gegaan en Yisra’el verslaan en hulle het die Palmstad in besit geneem. 14Die seuns van Yisra’el het `Eglon, koning van Mo’av, agttien jaar lank gedien,

15maar toe die seuns van Yisra’el uitroep na יהוה, het יהוה vir hulle ’n bevryder opgewek: Ehud, die seun van Gera, die Binyaminiet, ’n linkshandige man en die seuns van Yisra’el het deur hom ’n bydrae aan `Eglon, koning van Mo’av gestuur. 16Ehud het vir homself ’n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank en dit onder sy klere aan sy regterheup vasgebind. 17Hy het die bydrae vir `Eglon, die koning van Mo’av, aangebied. (Eglon was ’n baie vet man.) 18Dit het gebeur dat, toe hy klaar die bydrae afgelewer het, hy die mense wat die bydrae gedra het, weggestuur het, 19maar hyself het omgedraai by die afgode wat by Gilgal was en gesê: “Ek het ’n geheime boodskap vir u, o koning!” Die koning sê toe: “Bly stil!” Almal wat hom bedien, het van hom af weggegaan. 20Ehud het na hom toe gekom terwyl hy alleen in sy koel dakkamer sit en Ehud sê: “Ek het ’n boodskap vanaf God vir u!” Hy het van sy stoel af opgestaan. 21Ehud het sy linkerhand uitgesteek, die swaard van sy regterheup af gevat en dit in sy maag ingedruk. 22Die hef het ook agter die lem ingegaan en die vet het om die lem toegemaak, want hy het nie die swaard uit sy maag uitgetrek nie en die vullis het uitgekom. 23Toe gaan Ehud uit op die gallery en maak die deure van die dakkamer agter hom toe en sluit hulle.

24Nadat hy uitgegaan het, kom sy diensknegte en kyk en let op, die deure van die dakkamer was gesluit en hulle het gesê: “Hy verlig homself seker in die koel kamer.” 25Hulle het gewag totdat hulle angstig geword het, maar let op, hy het nie die deure van die dakkamer oopgemaak nie! Hulle het daarom die sleutel gevat en oopgemaak en let op, hulle meester was dood, neergeval op die grond!

26Nou, Ehud het ontvlug terwyl hulle talm en by die afgode verbygegaan en na Se’irah ontsnap. 27Dit het gebeur nadat hy arriveer het dat hy die ramshoring in die Bergland van Efrayim geblaas het en die seuns van Yisra’el het saam met hom van die Bergland afgetrek en hy voor hulle. 28Hy het vir hulle gesê: “Volg my, want יהוה het julle vyande, die Mo’aviete, in julle hand gegee.” Hulle het afgegaan agter hom aan en die driwwe van die Yarden oorkant Mo’av gevat en niemand toegelaat om oor te gaan nie. 29Hulle het in daardie tyd omtrent tien duisend Mo’aviete verslaan, almal geharde en dapper manne en nie een het ontsnap nie. 30Mo’av is op daardie dag onderwerp onder die hand van Yisra’el en die land was vir tagtig jaar lank onversteurd.

31Ná hom het Shamgar, die seun van `Anat, gekom wat ses honderd F’lishtyne met ’n osprik verslaan het en ook hy het Yisra’el gered.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 2
Top of Page
Top of Page