Afrikaans PWL 1Toe het al die seuns van Yisra’el vanaf Dan tot Be’er-Sh’va, insluitende die land van Gil’ad, uitgekom en die vergadering het soos een man in Mitzpah vergader by יהוה.
2Die leiers van die hele volk, van al die stamme van Yisra’el, het hulle plek ingeneem in die vergadering van die volk van God, vier honderd duisend voetsoldate wat die swaard uittrek.
3Die seuns van Binyamin het gehoor dat die seuns van Yisra’el opgegaan het na Mitzpah. Die seuns van Yisra’el het gesê: “Vertel hoe hierdie boosheid gedoen is.”
4Die Leviet, die man van die vermoorde vrou, antwoord en sê: “Ek en my byvrou het in Giv’ah, wat aan Binyamin behoort, gekom, om te oornag,
5maar die manne van Giv’ah het teen my opgestaan en die huis omsingel in die nag as gevolg van my. Hulle het beplan om my dood te maak; in plaas daarvan, het hulle my byvrou onteer sodat sy gesterf het.
6Ek het my byvrou gevat en haar in stukke opgesny en haar rondgestuur in die hele gebied van die erfenis van Yisra’el omdat hulle ’n gruwel en ’n skandelike daad in Yisra’el gepleeg het.
7Let op, al julle seuns van Yisra’el, gee julle aanbeveling en raad!” 8Toe staan die hele volk op soos een man en sê: “Geeneen van ons sal na sy tent toe gaan of enige een van ons sal teruggaan na sy huis toe nie, 9maar dit is nou die ding wat ons aan Giv’ah sal doen: gaan op teen hom volgens die lot! 10Ons sal tien man vat uit elke honderd van al die stamme van Yisra’el, ’n honderd uit ’n duisend en ’n duisend uit tien duisend, om kos vir die manne te voorsien sodat wanneer hulle by Giv’ah van Binyamin kom, hulle hul mag straf vir die skandelike dade wat hulle in Yisra’el gepleeg het.” 11Dus was al die manne van Yisra’el vergader teen die stad, eensgesind soos een man. 12Toe stuur die stamme van Yisra’el manne deur die hele stam van Binyamin en sê: “Wat is hierdie boosheid wat tussen julle gebeur het? 13Nou dan, lewer die waardelose manne uit wat in Giv’ah is dat ons hulle kan doodmaak en hierdie boosheid uit Yisra’el uitroei.” Die Binyaminiete wou egter nie na die stem van hulle broers, die seuns van Yisra’el, luister nie. 14Die seuns van Binyamin het uit die stede in Giv’ah bymekaargekom om uit te trek in oorlog teen die seuns van Yisra’el. 15Die seuns van Binyamin, vanuit die stede, is op dié dag getel: ses en twintig duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Giv’ah wat getel is: sewe honderd uitgesoekte manne. 16Uit al hierdie manne was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; elkeen kon ’n klip na ’n haar slinger sonder om te mis. 17Toe is die manne van Yisra’el, behalwe Binyamin, getel: vier honderd duisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was soldate. 18Die seuns van Yisra’el het opgestaan, opgegaan na Beit-El en God geraadpleeg en gesê: “Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die seuns van Binyamin?” Toe sê יהוה: “Y’hudah eerste.” 19Die seuns van Yisra’el het die oggend opgestaan en teen Giv’ah gekamp. 20Die manne van Yisra’el het uitgegaan om te veg teen Binyamin en die manne van Yisra’el het opgestel vir die geveg by Giv’ah. 21Toe kom die seuns van Binyamin uit Giv’ah uit en hulle het op dié dag twee en twintig duisend man van Yisra’el teen die grond geslaan, 22maar die volk, die manne van Yisra’el, het hulleself bemoedig en hulle weer opgestel op die plek waar hulle die eerste dag opgestel het. 23Die seuns van Yisra’el het opgegaan en gehuil voor יהוה tot die aand toe en יהוה geraadpleeg en gesê: “Moet ons weer optrek om te veg teen die seuns van my broer, Binyamin?” יהוה sê: “Trek teen hom op!” 24Toe kom die seuns van Yisra’el teen die seuns van Binyamin die tweede dag. 25Binyamin het uit Giv’ah op die tweede dag teen hulle uitgegaan en van die seuns van Yisra’el nog agttien duisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond geslaan. 26Toe het al die seuns van Yisra’el en die hele volk opgegaan na Beit-El en gehuil; daar het hulle gebly voor die Teenwoordigheid van יהוה en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en vredesoffers voor die Teenwoordigheid van יהוה geoffer. 27Die seuns van Yisra’el het יהוה geraadpleeg (want die ark van die verbond van God was in dié dae daar, 28en Pingas, die seun van El’azar, die seun van Aharon, het in dié dae voor dit gestaan) en gesê: “Moet ek weereens uitgaan in geveg teen die seuns van my broer, Binyamin, of moet ek ophou?” יהוה sê: “Gaan op, want môre sal Ek hulle in jou hand gee.” 29Yisra’el het rondom Giv’ah manne in hinderlaag opgestel. 30Die seuns van Yisra’el het op die derde dag teen die seuns van Binyamin opgegaan en hulle teen Giv’ah opgestel soos die vorige kere. 31Die seuns van Binyamin het uitgegaan teen die manne en is weggelok van die stad af en het soos die vorige kere begin om sommige van die manne op die grootpaaie, waarvan die een opgaan na Beit-El en die ander na Giv’ah en in die veld te slaan en te dood; omtrent dertig man van Yisra’el. 32Die seuns van Binyamin het gesê: “Hulle is voor ons verslaan soos die eerste keer,” maar die seuns van Yisra’el het gesê: “Laat ons vlug om hom van die stad af weg te trek na die grootpaaie toe.” 33Toe staan al die manne van Yisra’el op uit hulle plekke en neem stelling in by Ba’al-Tamar en die manne van Yisra’el wat in hinderlaag was ruk op uit hulle plekke, uit die grotte van Giv’ah. 34Toe tien duisend uitgesoekte manne uit die hele Yisra’el teen Giv’ah aankom, het die geveg hewig geword, maar Binyamin het nie geweet dat die ramp naby hulle was nie. 35יהוה het Binyamin voor Yisra’el verslaan sodat die seuns van Yisra’el op dié dag vyf en twintig duisend een honderd man, wat almal die swaard uittrek, van Binyamin vernietig het. 36Die seuns van Binyamin het gesien dat hulle verslaan is. Toe die manne van Yisra’el ruimte vir Binyamin gee omdat hulle vertrou het op die manne in die hinderlaag wat hulle teen Giv’ah opgestel het, 37het die manne in die hinderlaag vinnig teen Giv’ah gestorm; die manne in die hinderlaag het ook ontplooi en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan. 38Die gegewe teken tussen die manne van Yisra’el en die manne in die hinderlaag was dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad sal laat optrek. 39Toe het die manne van Yisra’el omgedraai in die geveg en Binyamin het begin om ongeveer dertig man van Yisra’el neer te slaan, want hulle het gedink: “Hulle is sekerlik voor ons verslaan soos in die eerste geveg.” 40Toe die wolk egter begin optrek uit die stad in ’n rookpilaar het Binyamin agter hom gekyk en let op, die hele stad het in rook opgegaan na die hemel! 41Toe het die manne van Yisra’el omgedraai en die manne van Binyamin was vreesbevange, want hulle het gesien dat die ramp naby hulle was; 42daarom het hulle hul rûe op die manne van Yisra’el gedraai in die rigting van die wildernis, maar die geveg het hulle ingehaal terwyl die wat uit die stede kom, hulle tussen hulle vernietig. 43Hulle het Binyamin omsingel, hulle agtervolg sonder rus en hulle vertrap oorkant Giv’ah, aan die oostekant. 44So het daar agttien duisend man van Binyamin geval en almal was dapper soldate. 45Die res het omgedraai en na die wildernis gevlug, na die rots van Rimmon, maar hulle het vyf duisend van hulle op die grootpaaie gevang en hulle ingehaal by Gid’om en twee duisend van hulle doodgemaak. 46Al die gesneuweldes van Binyamin op dié dag was vyf en twintig duisend man wat die swaard uittrek en almal van hulle was dapper soldate, 47maar ses honderd man het omgedraai en gevlug na die wildernis, na die rots van Rimmon en vier maande by die rots van Rimmon gebly. 48Die manne van Yisra’el draai toe terug teen die seuns van Binyamin en verslaan hulle met die skerpte van die swaard, beide die hele stad, met die beeste en alles wat hulle gevind het; hulle het ook al die stede wat hulle gevind het, aan die brand gesteek. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |