Josua 7
Afrikaans PWL
1Die seuns van Yisra’el het egter ontrou gehandel aangaande die dinge onder ban, want `Akhan, die seun van Karmi, die seun van Zavdi, die seun van Zerag, van die stam van Y’hudah, het van die bangoed gevat; daarom het die woede van יהוה ontbrand teen die seuns van Yisra’el.

2Nou, Y’hoshua het manne van Yerigo af gestuur na `Ai wat naby Beit-Aven lê, oos van Beit-El en vir hulle gesê: “Gaan op en verken die land.” Die manne het opgegaan en `Ai verken. 3Hulle het teruggekom na Y’hoshua toe en vir hom gesê: “Moenie al die manskappe laat opgaan nie; omtrent twee of drie duisend man kan opgaan na `Ai; moenie al die manskappe daarheen vermoei nie, want hulle is min.” 4Omtrent drie duisend man het vanuit die volk daarheen opgegaan, maar hulle het gevlug voor die manne van `Ai. 5Die manne van `Ai het omtrent ses en dertig van hulle mans doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sh’varim en hulle op die afgaan verslaan; die binneste van die volk het versmelt en soos water geword.

6Toe het Y’hoshua sy klere geskeur en met sy gesig op die grond geval voor die ark van יהוה, tot die aand toe, hy en die oudstes van Yisra’el en hulle het stof op hul koppe gegooi. 7Y’hoshua het gesê: “Ag, Meester יהוה, waarom het U ooit hierdie volk oor die Yarden gebring om ons oor te gee in die hand van die Emoriete, om ons te vernietig? As ons maar gewillig was om oorkant die Yarden te bly! 8Ag יהוה, wat kan ek sê aangesien Yisra’el die rug gedraai het voor hulle vyande, 9want die Kena’aniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en hulle sal ons omsingel en ons naam van die aarde af afsny en wat sal U vir U groot Naam doen?”

10יהוה sê vir Y’hoshua: “Staan op, waarom het jy op jou gesig neergeval? 11Yisra’el het gesondig en het ook My verbond oortree wat Ek hulle beveel het. Hulle het selfs van die bangoed gevat en beide gesteel en mislei. Meer nog, hulle het dit ook by hulle eie goed gesit; 12daarom kan die seuns van Yisra’el nie staan voor hulle vyande nie. Hulle draai hul rug voor hulle vyande, want hulle het ’n vloek op hulle. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die bangoed onder julle uit vernietig nie. 13Staan op! Sonder die volk af en sê: ‘Sonder julleself af vir môre, want so sê יהוה, die God van Yisra’el: “Daar is bangoed in jou midde, O Yisra’el! Julle kan nie standhou voor jul vyande totdat julle die bangoed onder julle uit verwyder het nie”.’ 14Kom dan môre vroeg nader volgens julle stamme en die stam wat יהוה deur die lot aanwys, moet naderkom volgens families en die familie wat יהוה aanwys, moet naderkom volgens huisgesinne en die huisgesin wat יהוה aanwys, moet naderkom man vir man. 15Dit sal wees dat die een wat aangewys is met die bangoed, met vuur verbrand moet word, hy en alles wat aan hom behoort omdat hy die verbond van יהוה oortree en ’n skandedaad in Yisra’el begaan het.”

16Y’hoshua het dus vroeg in die oggend opgestaan en Yisra’el laat naderkom volgens stamme en die stam van Y’hudah is aangewys. 17Toe hy die families van Y’hudah laat naderkom, het hy die familie van Zerag aangewys; toe hy die familie van Zerag laat naderkom, man vir man, is Zavdi aangewys. 18Hy het sy huisgesin man vir man laat naderkom en `Akhan, die seun van Karmi, die seun van Zavdi, die seun van Zerag, van die stam van Y’hudah, is aangewys. 19Toe sê Y’hoshua vir `Akhan: “My seun, ek smeek jou, gee lof en eer aan יהוה, die God van Yisra’el en lig jou hande op na Hom en vertel my nou wat jy gedoen het. Moet dit nie vir my wegsteek nie.” 20`Akhan het Y’hoshua geantwoord en gesê: “Waarlik, ek het gesondig teen יהוה, die God van Yisra’el en dit is wat ek gedoen het: 21toe ek ’n mooi mantel uit Shin’ar, twee honderd sikkels silwer en ’n goudstaaf van vyftig sikkels in gewig by die buitgoed gesien het, het ek hulle begeer en hulle gevat en let op, hulle is weggesteek in die grond binne-in my tent met die silwer onder dit.”

22Y’hoshua het boodskappers gestuur en hulle het na die tent toe gehardloop en let op, dit was weggesteek in sy tent, met die silwer onder dit. 23Hulle het dit vanuit die tent gehaal en dit na Y’hoshua en al die seuns van Yisra’el gebring en dit voor die aangesig van יהוה uitgegooi. 24Toe het Y’hoshua en die hele Yisra’el, saam met hom, vir `Akhan, die seun van Zerag, gevat, saam met die silwer, die mantel, die goudstaaf, sy seuns, sy dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort het en hulle het hul opgevat na die Vallei van Akhor. 25Y’hoshua het gesê: “Hoekom het jy vir ons moeilikheid gemaak? יהוה sal vandag vir jou moeilikheid gee! Die hele Yisra’el het hom gestenig met klippe en hulle het hulle met vuur verbrand nadat hulle hul met klippe gestenig het. 26Hulle het ’n groot hoop klippe oor hom gestapel wat tot vandag toe daar is en יהוה het weggedraai van die intensiteit van Sy woede; daarom noem hulle daardie plek die Vallei van Akhor tot vandag toe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 6
Top of Page
Top of Page