Josua 24
Afrikaans PWL
1Toe het Y’hoshua al die stamme van Yisra’el bymekaar laat kom by Sh’khem en die oudstes van Yisra’el, hulle hoofde, regters en hulle leiers laat roep en hulle het hulself voor God aangebied. 2Y’hoshua het vir al die mense gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Van antieke tye af het julle vaders oorkant die Rivier (Eufraat) gebly; Terag, die vader van Avraham en die vader van Nagor en hulle het ander gode gedien. 3Toe het Ek julle vader Avraham, van oorkant die Rivier af, gevat en hom deur die hele land Kena’an laat trek en sy nageslag vermeerder en Yitz’gak vir hom gegee. 4Aan Yitz’gak het Ek Ya’akov en `Esav gegee en aan `Esav het Ek die Se’ir gebergte gegee, om dit te besit, maar Ya’akov en sy seuns het afgegaan na Mitzrayim. 5Toe het Ek Moshe en Aharon gestuur en Mitzrayim met ’n plaag getref in sy midde en daarna het Ek julle uitgebring. 6Ek het julle vaders uit Mitzrayim uitgebring en julle het by die see gekom en die Mitzrayiete het julle vaders met strydwaens en perderuiters na die Sufsee toe agterna gejaag, 7maar toe julle vaders uitgeroep het na יהוה, het Hy duisternis gesit tussen julle en die Mitzrayiete en toe het יהוה die see laat verdeel en julle vaders daar deur laat kom en die see oor die Mitzrayiete laat kom en hulle oordek en julle eie oë het gesien wat Ek in Mitzrayim gedoen het. Julle het in die wildernis gebly vir ’n lang tyd. 8Toe het Ek julle gebring in die land van die Emoriete wat oorkant die Yarden gebly het en hulle het teen julle geveg en Ek het hulle in julle hand gegee en julle het hul land in besit geneem toe Ek hulle voor julle uit vernietig het. 9Toe het Balak, die seun van Tzippor, die koning van Mo’av, opgestaan en teen Yisra’el geveg en hy het gestuur en Bil’am, die seun van B’or, geroep om julle te vervloek, 10maar Ek was nie gewillig om na Bil’am te luister nie. Hy moes julle seën en Ek het julle uit sy hand gered. 11Julle het oor die Yarden getrek en by Yerigo gekom en die burgers van Yerigo het teen julle geveg, asook die Emoriete, P’riziete, Kena’aniete, Hittiete, Girgashiete, Hiviete en Y’vusiete. So het Ek hulle in julle hand gegee. 12Toe het Ek die perdebye voor julle uit gestuur en die twee konings van die Emoriete voor julle uit verdryf, nie deur jou swaard of jou boog nie. 13Ek het vir julle ’n land gegee wat julle nie bewerk het nie en stede wat julle nie gebou het nie en julle het daarin gebly; julle eet van wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie.’

14Vrees יהוה daarom respekvol en dien Hom in opregtheid en waarheid en verwyder die gode wat julle vaders oorkant die Eufraatrivier en in Mitzrayim gedien het en dien יהוה. 15As dit onaanvaarbaar is in julle oë om יהוה te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders oorkant die Eufraatrivier gedien het, òf die gode van die Emoriete in wie se land julle woon, maar ek en my huis, ons sal יהוה dien.”

16Die volk antwoord en sê: “Dit is ver van ons dat ons יהוה sou verlaat om ander gode te dien, 17want יהוה, ons God, is Hy wat ons en ons vaders uit die land van Mitzrayim uit die huis van slawerny gebring het en wat voor ons oë hierdie groot tekens gedoen het en ons bewaar het op die hele pad wat ons gegaan en tussen al die volke waardeur ons getrek het. 18יהוה het al die volke voor ons uit verdryf, selfs die Emoriete wat in die land gebly het. Ook ons sal יהוה dien, want Hy is ons God.”

19Toe sê Y’hoshua vir die volk: “Julle sal nie in staat wees om יהוה te dien nie, want Hy is ’n afgesonderde God. Hy is ’n jaloerse God; Hy sal julle oortredinge en julle sondes nie vergewe nie. 20As julle יהוה verlaat en vreemde gode dien, sal Hy omdraai en julle kwaad aandoen en julle verteer nadat Hy aan julle goed gedoen het.” 21Die volk het vir Y’hoshua gesê: “Nee, maar ons sal יהוה dien.” 22Y’hoshua het vir die volk gesê: “Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself יהוה gekies het om Hom te dien.” Hulle sê: “Ons is getuies.” 23“Nou daarom, verwyder die vreemde gode wat tussen julle is en reik uit met julle verstand, wil en emosie tot יהוה, die God van Yisra’el.” 24Die volk het vir Y’hoshua gesê: “Ons sal יהוה, ons God, dien en ons sal Sy stem gehoorsaam.” 25Y’hoshua het op dié dag met die volk ’n verbond gesluit en vir hulle die vasgestelde wet en oordele in Sh’khem geleer. 26Y’hoshua het hierdie woorde in die boek van die wet van God geskryf en ’n groot klip gevat en dit daar opgerig onder die eikeboom wat by die Afgesonderde Plek van יהוה was. 27Y’hoshua het vir die hele volk gesê: “Let op, hierdie klip sal as ’n getuie teen ons wees, want dit het al die woorde van יהוה gehoor wat Hy met ons gepraat het; so sal dit as ’n getuie teen julle wees sodat julle jul God nie ontken nie.” 28Toe het Y’hoshua die volk laat gaan, elkeen na sy erfenis toe.

29Dit het gebeur na hierdie dinge dat Y’hoshua, die seun van Nun, die dienskneg van יהוה, gesterf het, een honderd en tien jaar oud. 30Hulle het hom op die grondgebied van sy erfenis begrawe in Timnat-Serag, wat op die Bergland van Efrayim lê, noord van die berg Ga’ash.

31Yisra’el het יהוה gedien al die dae van Y’hoshua en al die dae van die oudstes wat Y’hoshua oorleef het en al die werke van יהוה geken het wat Hy vir Yisra’el gedoen het.

32Nou, hulle het die bene van Yosef, wat die seuns van Yisra’el uit Mitzrayim gebring het, by Sh’khem, op die stuk grond wat Ya’akov van die seuns van Hamor, die vader van Sh’khem, vir honderd geldstukke gekoop het en wat die erfenis van die seuns van Yosef geword het, begrawe. 33El’azar, die seun van Aharon, het gesterf en hulle het hom by Giv’on, van sy seun Pingas, wat aan hom gegee is, op die Bergland van Efrayim, begrawe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 23
Top of Page
Top of Page