Josua 23
Afrikaans PWL
1Dit het na ’n geruime tyd, toe יהוה aan Yisra’el rus gegee het van al sy vyande aan elke kant en Y’hoshua oud en ver gevorderd in jare was, gebeur 2dat Y’hoshua die hele Yisra’el laat roep het, sy oudstes en sy hoofde en sy regters en sy leiers en vir hulle gesê het: “Ek is oud, ver gevorderd in jare 3en julle het gesien wat יהוה, julle God, alles aan al hierdie nasies gedoen het om julle ontwil, want יהוה, julle God, is Hy wat vir julle geveg het. 4Kyk, ek het hierdie nasies wat nog oorgebly het, as erfenis tussen julle stamme verdeel, saam met al die nasies wat ek afgesny het, vanaf die Yarden, selfs tot by die Groot See, na waar die son ondergaan. 5יהוה, julle God, Hy sal hulle voor julle uitgooi en hulle voor julle uit verdryf en julle sal hulle land in besit neem soos יהוה, julle God, julle beloof het. 6Wees onveranderlik daarin om alles te hou en te doen wat geskryf is in die boek van die wet van Moshe sodat julle daar nie regs of links van afdraai nie 7sodat julle nie met hierdie nasies wat tussen julle oorgebly het, assosieer of die naam van hulle gode noem nie, of enige een by hulle laat sweer of hulle dien of voor hulle neerbuig nie, 8maar julle moet aan יהוה, julle God, vashou soos julle tot vandag toe gedoen het, 9want יהוה het groot en magtige nasies voor julle uit verdryf en wat julle betref, niemand kon tot vandag toe voor julle staan nie. 10Een man uit julle het ’n duisend laat vlug, want יהוה, julle God, is Hy wat vir julle veg, net soos Hy julle beloof het. 11Let ywerig op na julleself om יהוה, julle God, lief te hê, 12want as julle ooit mag teruggaan en aan die res van hierdie nasies vashou, die wat nog saam met julle oorgebly het en ondertrou met hulle sodat julle met hulle en hulle met julle assosieer, 13weet dan met sekerheid dat יהוה, julle God, nie sal voortgaan om hierdie nasies voor julle uit te verdryf nie, maar hulle sal vir julle ’n vangnet en ’n strik wees en ’n sweep op julle sye en dorings in julle oë totdat julle omkom in hierdie goeie land wat יהוה, julle God, aan julle gegee het.

14Nou, let op, ek gaan vandag die pad van die hele aarde en julle weet met julle hele verstand, wil en emosie en met jul hele gees dat nie een woord van al die goeie woorde wat יהוה, julle God, aangaande julle gepraat het, onvervuld gebly het nie; alles is vir julle vervul, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie. 15Dit sal gebeur dat net soos al die goeie woorde oor julle gekom het wat יהוה, julle God, oor julle gepraat het, so sal יהוה oor julle al die dreigemente laat kom totdat Hy julle vernietig het uit hierdie goeie land wat יהוה, julle God, aan julle gegee het, 16as julle die verbond van יהוה, julle God, wat Hy julle beveel het, oortree en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal die woede van יהוה teen julle opvlam en julle sal gou omkom in die goeie land wat Hy aan julle gegee het.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 22
Top of Page
Top of Page