Johannes 7
Afrikaans PWL
1Na hierdie dinge het Yeshua in die Galil geloop, want Hy wou nie in Y’hudah loop nie omdat die mense van Y’hudah beplan het om Hom dood te maak 2en die fees van die Jode, Sukkot, was naby. 3Sy broers het vir Hom gesê: “Gaan hiervandaan en gaan na Y’hudah sodat U studentevolgelinge die wonderdade wat U doen, kan sien, 4want niemand doen iets in die geheim en begeer dat dit bekend sal wees nie. As U hierdie dinge doen, wys Uself aan die wêreld,” 5want ook Sy broers het nie in Hom vertrou nie. 6Yeshua sê vir hulle: “My tyd het nog nie gekom nie, maar julle tyd is altyd gereed. 7Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. 8Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie dadelik op na hierdie fees nie omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” 9Hy het hierdie dinge gesê en in die Galil gebly,

10maar nadat Sy broers opgegaan het na die fees, het Hy ook opgegaan, nie openlik nie, maar in die geheim. 11Die mense van Y’hudah het Hom op die fees gesoek en gevra: “Waar is Hy?” 12Daar is baie oor Hom gefluister onder die mense. Sommige het gesê: “Hy is goed,” maar ander het gesê: “Nee, Hy mislei die mense.” 13Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie omdat hulle bang was vir dié van Y’hudah.

14Toe die fees halfpad was, het Yeshua opgegaan na die tempel en geleer 15en die Jode het hulle verwonder en gevra: “Hoe ken hierdie man die boekrolle terwyl Hy nie geleer het nie?” 16Yeshua antwoord en sê: “Wat Ek leer is nie van My af nie, maar van Hom wat My gestuur het. 17Wie ook al besluit om Sy wil te doen, verstaan My lering en of dit vanuit God is en of Ek vir My eie plesier praat. 18Hy wat uit die plesier van sy gedagtes praat, soek sy eie verering, maar Hy wat die eer en lof soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is getrou en daar is geen valsheid in Hom nie.

19Is dit nie Moshe wat vir julle die wet gegee het nie? Tog hou nie een van julle die wet nie. 20Waarom beplan julle om My dood te maak?” Die skare mense antwoord en sê: “Daar is ’n demoon in U. Wie beplan om U dood te maak?” 21Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ek het een daad gedoen en julle is almal verwonderd. 22Vir hierdie rede het Moshe julle die besnydenis gegee, nie dat dit van Moshe is nie, maar van die vaders en julle besny ’n seun op die Shabbat. 23As ’n seun besny word op die Shabbat omdat die wet van Moshe nie gebreek moet word nie; hoe kla julle teen My omdat Ek ’n volledige mens op die Shabbat gesond gemaak het? 24Moenie oordeel volgens vals voorwendsels nie, maar oordeel met ’n regverdige oordeel.”

25Die inwoners van Yerushalayim sê: “Is dit nie Hy wat hulle beplan om dood te maak nie 26en let op, Hy praat openlik en hulle sê niks vir Hom nie? Is dit moontlik dat die oudstes weet dat Hy waarlik Die Gesalfde Een is? 27Ons weet van waar hierdie Een is, maar Die Gesalfde Een, wanneer Hy kom, sal niemand weet van waar Hy is nie.” 28Yeshua verhef Sy stem terwyl Hy in die tempel leer en sê: “Julle ken My en julle weet ook van waar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, is Waar, vir Wie julle nie ken nie, 29maar Ek ken Hom omdat Ek een met Hom is en Hy My gestuur het.” 30Hulle wou Hom gryp en niemand het die hand aan Hom geslaan nie omdat Sy tyd nog nie gekom het nie, 31maar baie van die mense het in Hom vertrou en gevra: “Wanneer Die Gesalfde Een kom, sal Hy meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het?”

32Die Fariseërs het gehoor dat die mense hierdie dinge van Hom sê en die Fariseërs en die leierpriesters het tempelwagte gestuur om Hom te vang. 33Yeshua het gesê: “Ek is nog ’n kort tydjie by julle en Ek gaan om by Hom te wees wat My gestuur het. 34Julle sal My soek en My nie kry nie en na waar Ek is, kan julle nie gaan nie.” 35Daarop sê die Jode onder hulleself: “Waarheen berei Hy voor om te gaan dat ons nie by Hom kan wees nie? Berei Hy voor om na ’n streek van die nie-Jode te gaan en húlle te leer? 36Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: ‘Julle sal My soek en My nie kry nie en na waar Ek is, kan julle nie gaan nie’?”

37Op die laaste groot dag (Hoshana Rabbah) van die fees, het Yeshua opgestaan en verklaar: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! 38Elkeen wat in My vertrou, soos die Skrif sê: ‘Riviere van lewende water sal uit sy binneste vloei’.” 39Dit het Hy gesê van die Gees, waarvoor dié wat in Hom vertrou, voorberei word om Hom te ontvang, want die Gees was nog nie gegee nie omdat Yeshua nog nie opgelig en vereer is nie.

40Baie van die mense wat Sy woorde gehoor het, het gesê: “Hy is waarlik die profeet.” 41Ander het gesê: “Hy is Die Gesalfde Een” en ander het gevra: “Kan Die Gesalfde Een uit die Galil kom? 42Sê die Skrif nie dat Die Gesalfde Een uit die geslag van Dawid en uit BeitLegem, die dorp van Dawid, kom nie?” 43Daar was verdeeldheid oor Hom onder die skare mense 44en sommige onder hulle wou Hom vang, maar niemand het die hand aan Hom geslaan nie.

45Daardie tempelwagte het by die leierpriesters en die Fariseërs gekom en die priesters vra vir hulle: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?” 46Die tempelwagte antwoord hulle: “Nog nooit het ’n mens gepraat soos hierdie man praat nie.” 47Die Fariseërs vra vir hulle: “Is julle ook mislei? 48Het iemand uit die leiers of uit die Fariseërs in Hom vertrou? 49Hierdie mense daarenteen, wat die wet nie ken nie, is vervloek!” 50Nakdimon, hy wat in die nag na Hom toe gegaan het, wat een van hulle was, sê vir hulle: 51“Oordeel ons wet die mens sonder om eers by hom te hoor en te weet wat hy doen?” 52Hulle antwoord en sê vir hom: “Is jy ook uit die Galil? Ondersoek en sien dat die Profeet nie uit die Galil sal opstaan nie.” 53Toe gaan elkeen na sy huis toe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 6
Top of Page
Top of Page