Johannes 6
Afrikaans PWL
1Na hierdie dinge het Yeshua na die oorkant van die see van Galila, dit is, die see van Tiberias, gegaan 2en ’n groot skare mense het saam met Hom gegaan omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy vir die siekes gedoen het. 3Yeshua het opgegaan met ’n berg en daar saam met Sy studentevolgelinge gaan sit. 4Die Pesagfees van die Jode was naby. 5Yeshua het Sy oë opgelig en gesien dat ’n groot groep mense na Hom toe kom en Hy vra vir Filippos: “Waar kan ons gaan brood koop sodat hierdie mense kan eet?” 6Hy het dit gesê om hom te toets, want Hy het geweet wat Hyself beplan het om te doen. 7Filippos antwoord Hom: “Brood vir een honderd denarii sal nie genoeg wees sodat elkeen van hulle ’n stukkie kan kry nie.” 8Een van Sy studentevolgelinge, Andreas, Shim’on Kefa se broer, sê vir Hom: 9“Hier is ’n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” 10Yeshua sê vir hulle: “Laat al die mense gaan sit.” Daar was baie gras op dié plek en hulle het gaan sit; ongeveer vyf duisend manne in getal. 11Yeshua vat die brode en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die wat daar sit; so ook die visse, soveel as hulle wou hê. 12Nadat hulle versadig was, sê Hy vir Sy studentevolgelinge: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat niks verlore gaan nie.” 13Hulle het bymekaargemaak en twaalf groot mandjies vol gemaak met stukke wat oorgebly het by dié wat die vyf garsbrode geëet het. 14Die mense wat die wonderteken, wat Yeshua gedoen het, gesien het, het gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat in die wêreld sou kom.”

15Yeshua het geweet dat hulle gereed was om Hom te kom gryp, om Hom koning te maak en Hy het Homself onttrek in daardie berg in, Hy alleen.

16Toe dit aand geword het, het Sy studentevolgelinge afgegaan na die see toe 17en nadat hulle in die boot geklim het, het hulle na die oorkant van die see gevaar na K’far-Nagum. Dit het donker geword en Yeshua het nog nie by hulle aangesluit nie. 18Die see het onstuimig geword teen hulle omdat ’n sterk wind gewaai het. 19Nadat hulle ongeveer vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Yeshua op die meer loop en toe Hy naby die boot kom, was hulle bang, 20maar Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.” 21Hulle het Hom in die boot ontvang en dadelik het die boot by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

22Die volgende dag sien die mense, wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander boot was nie, behalwe daardie een waarin Sy studentevolgelinge vertrek het en dat Yeshua nie saam met Sy studentevolgelinge in die boot geklim het nie, 23maar ander bote het van Tiberias af aangeland, naby die plek waar hulle die brood geëet het waarvoor die Meester gedank het. 24Nadat die mense dan gesien het dat nie Yeshua of Sy studentevolgelinge daar is nie, het hulle self ook in die bote geklim en na K’far-Nagum gegaan om Yeshua te soek 25en toe hulle Hom oorkant die see gekry het, vra hulle vir Hom: “Leermeester, wanneer het U hier aangekom?”

26Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: Julle soek My nie omdat julle wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Moenie werk vir die kos wat tot niet gaan nie, maar vir die kos wat aanhou tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens vir julle sal gee, want dit is op Hom wat die Vader, as God, Sy seël geplaas het.” 28Hulle vra vir Hom: “Wat moet ons doen om in die diens van God te werk?” 29Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dít is die dienswerk van God, dat julle in Hom, wat Hy gestuur het, vertrou.” 30Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen U sodat ons kan sien en U vertrou? Watter teken sal U doen? 31Ons vaders het ‘man hu’ in die wildernis geëet, soos geskrywe is: ‘Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” 32Yeshua sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: dit is nie Moshe wat die brood uit die hemel uit vir julle gegee het nie, maar My Vader gee vir julle die Brood van Waarheid vanuit die hemel, 33want die Brood van God, is Hy wat vanuit die hemel afgekom het en aan die wêreld die lewe gee.” 34Hulle antwoord Hom: “Ons Meester, gee altyd vir ons hierdie Brood.”

35Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Brood van Lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger wees nie en wie in My vertrou, sal nooit dors wees nie, tot in ewigheid, 36maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het en julle vertrou nie. 37Almal wat die Vader vir My gegee het, sal na My toe kom en Ek sal hom wat na My toe kom, nie wegwys nie, 38want Ek het uit die hemel afgekom, nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat Ek niemand, wat Hy My gegee het, sal vernietig nie, maar Ek hom sal opwek in die laaste dag. 40Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom vertrou, die ewige lewe sal hê en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”

41Die Jode het oor Hom gemurmureer omdat Hy gesê het: ‘ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Brood wat vanuit die hemel afgekom het.’ 42Hulle het gesê: “Is Hy nie Yeshua, die seun van Yosef, Wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan Hy dan sê: ‘Ek het vanuit die hemel afgekom?’” 43Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Moenie onder mekaar murmureer nie. 44Niemand kan na My toe kom, as die Vader, wat My gestuur het, hom nie trek nie en Ek sal hom laat opstaan in die laaste dag. 45Dit is geskrywe in die profete: ‘Almal sal deur God geleer word;’ daarom sal elkeen, wat dit van die Vader gehoor en geleer het, na My toe kom. 46Niemand het die Vader gesien nie, behalwe Hy wat van God af kom, Hy het self die Vader gesien. 47Dit is ’n ewige waarheid wat Ek vir julle sê: hy wat in My vertrou, het die ewige lewe. 48אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Brood van Lewe. 49Julle vaders het die ‘man hu’ in die wildernis geëet en het doodgegaan. 50Hierdie is die Brood wat vanuit die hemel afgekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie doodgaan nie. 51אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Lewende Brood, wat vanuit die hemel afgekom het. As iemand van hierdie Brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. Die Brood wat Ek sal gee, is My liggaam, wat Ek ter wille van die lewe van die wêreld, sal gee.”

52Die Jode het onder mekaar baklei en gesê: “Hoe kan Hy Sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53Yeshua sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: as julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. 54Wie ook al van My liggaam eet en My bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom laat opstaan in die laaste dag, 55want My liggaam is ware kos en My bloed is ware drank. 56Wie My liggaam eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Net soos die Lewende Vader My gestuur het en Ek as gevolg van die Vader lewe, net so sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. 58Hierdie is die Brood wat vanuit die hemel afgekom het; nie soos julle vaders wat die ‘man hu’ geëet en doodgegaan het nie; wie hierdie Brood eet, sal tot in ewigheid lewe.”

59Hierdie dinge het Hy in die bymekaarkomplek gesê toe Hy in K’far-Nagum lering gegee het.

60Baie van Sy studentevolgelinge wat gehoor het, het gesê: “Hierdie boodskap is moeilik, wie kan dit verstaan?” 61Yeshua het in Sy Gees geweet dat Sy studentevolgelinge hieroor murmureer en Hy vra vir hulle: “Is dit vir julle ’n struikelblok? 62Julle sal daarom waarlik die Seun van die mens sien opvaar na die plek waar Hy aan die begin was. 63Die Gees is dit wat lewend maak, dit is tot geen voordeel vir die vlees nie; die dinge waaroor Ek met julle gepraat het, is Gees en is lewe, 64maar daar is sommige onder julle wat nie vertrou nie,” want Yeshua het van die begin af geweet wie hulle was wat nie vertrou nie en wie hy was wat Hom sou oorgee. 65Hy sê vir hulle: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom, as dit nie aan hom deur My Vader gegee is nie.”

66As gevolg van hierdie woorde het baie van Sy studentevolgelinge teruggegaan en nie meer saam met Hom geloop nie. 67Yeshua vra vir die twaalf: “Wil julle ook weggaan?” 68Shim’on Kefa antwoord en sê: “My Meester, na wie toe sal ons gaan? U het die boodskap van die ewige lewe 69en ons vertrou en weet dat U Die Gesalfde Een, die Seun van die Lewende God is.” 70Yeshua antwoord hulle: “Het Ek julle twaalf nie gekies nie? Een van julle is ’n teëstander!” 71Hy het dit gesê van Y’hudah, die seun van Shim’on van K’riot, want hy, wat een van die twaalf was, sou Hom oorgee.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 5
Top of Page
Top of Page