Joël 2
Afrikaans PWL
1Blaas ’n ramshoring in Tziyon en maak alarm op My afgesonderde berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van יהוה kom, waarlik, dit is naby,

2’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en ’n dik donkerte; soos die oggendskemering, uitgesprei oor die berge, so is daar ’n groot en magtige volk, soos wat daar nog nooit was nie en vir baie geslagte se jare ook nie weer sal wees nie.

3Voor hom uit verteer ’n vuur en agter hom brand ’n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van `Eden en agter hom is dit ’n verlate wildernis en hoegenaamd niks ontsnap van hom nie.

4Hulle voorkoms is soos die voorkoms van perde en soos oorlogsperde, so hardloop hulle.

5Soos die geluid van waens spring hulle op die bergtoppe, soos die geknetter van ’n vlam wat die kaf verteer, soos ’n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.

6Die volke is in angs voor hom; alle gesigte verbleek.

7Hulle hardloop soos magtige manne, hulle klim die muur soos soldate en elkeen marsjeer in lyn en wyk nie af van hulle pad nie.

8Hulle druk nie teen mekaar aan nie, elkeen marsjeer op sy pad; wanneer hulle deur die verdediging bars, breek hulle nie formasie nie.

9Hulle storm af op die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise in, hulle gaan deur die vensters in soos ’n dief.

10Die aarde skud voor hulle, die hemele bewe; die son en die maan word donker en die sterre verloor hulle glans.

11יהוה verhef Sy stem voor Sy leërmag uit; Sy kamp is waarlik baie groot, want hy wat Sy woord uitvoer, is sterk. Die dag van יהוה is waarlik groot en uitermate ontsagwekkend en wie kan dit verdra?

12“Tog, selfs nou,” verklaar יהוה, “draai terug na My toe met jou hele verstand, wil en emosie en met vas, met gehuil en met rou

13en skeur julle verstand, wil en emosie en nie julle klere nie en wees berouvol oor boosheid.” Draai nou terug na יהוה, julle God, want Hy is goedgunstig en het liefdevolle omgee, stadig om kwaad te word en is oorvloedig in liefdevolle goedheid.

14Wie weet of Hy nie weer sal draai en berou en ’n seën agter Hom sal laat nie, selfs ’n graanoffer en ’n drankoffer aan יהוה, julle God?

15Blaas ’n ramshoring in Tziyon, sonder ’n vas af, verklaar ’n ernstige byeenkoms,

16maak die volk bymekaar, sonder die gemeente af, vergader die oudstes, maak die kinders en die suigelinge bymekaar! Laat die bruidegom uit sy kamer uitkom en die bruid uit haar kamer.

17Laat die priesters, die bedienaars van יהוה, tussen die stoep en die altaar huil en laat hulle sê: “O יהוה, spaar U volk en maak nie van U erfenis ’n bespotting, ’n bywoord onder die nasies nie. Waarom sou hulle onder die volke sê: ‘Waar is hulle God?’”

18Dan sal יהוה ywerig wees vir Sy land en jammer wees vir Sy volk.

19יהוה sal antwoord en vir Sy volk sê: “Let op, Ek gaan vir julle graan, nuwe wyn en olie stuur en julle sal ten volle daardeur versadig word en Ek sal julle nooit weer ’n voorwerp van spot maak onder die nasies nie,

20maar Ek sal die leërmag vanuit die noorde ver van julle af verwyder en Ek sal dit in ’n geskroeide en verlate land indryf; sy voorhoede in die oostelike see en sy agterhoede in die westelike see. Sy stank sal opstyg en sy slegte reuk opkom, want dit het groot dinge gedoen.”

21Moenie bang wees nie, o land, swaai in die rondte van vreugde en wees bly, want יהוה het groot dinge gedoen!

22Moenie bang wees nie, diere van die veld, want die weivelde van die wildernis het groen geword, want die bome het hulle vrugte gedra, die vyeboom en die wingerdstok het ten volle gelewer!

23Swaai in die rondte van vreugde, o seuns van Tziyon en wees bly in יהוה, julle God, want Hy het vir julle die vroeë reëns gegee as julle onskuldig verklaring en die reën vir julle laat val, die vroeë en die laat reëns, net soos voorheen.

24Die dorsvloere sal vol graan wees en die vate sal oorloop met die nuwe wyn en olie.

25“Dan sal Ek vir julle opmaak vir die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die knaagsprinkaan geëet het, My groot leërmag wat Ek onder julle gestuur het.

26Julle sal oorvloedig hê om te eet en versadig wees en die Karakter en Outoriteit van יהוה, julle God, prys wat wonderbaarlik met julle gehandel het; dan sal My volk nooit beskaamd word nie.

27So sal julle weet dat Ek tussen Yisra’el is en dat Ek יהוה, julle God, is en daar is geen ander nie en My volk sal nooit beskaamd word nie.

28Dit sal gebeur na hierdie dat Ek My Gees sal uitstort op die hele mensdom en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom en julle jongmanne sal visioene sien.

29Selfs op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae My Gees uitstort.

30Ek sal wonders in die lug vertoon en op die aarde: bloed, vuur en pilare van rook.

31Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en ontsagwekkende dag van יהוה kom.

32Dit sal gebeur dat elkeen wat die Karakter en Outoriteit van יהוה aanroep, bevry sal word, want op die berg Tziyon en in Yerushalayim sal daar bevryding wees, soos יהוה gesê het aan die oorgeblewenes wat יהוה geroep het,

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joel 1
Top of Page
Top of Page