Jeremia 46
Afrikaans PWL
1Dit wat as die woord van יהוה tot Yirmeyahu, die profeet, gekom het aangaande die nasies.

2Tot Mitzrayim: aangaande die leër van Farao N’khoh, koning van Mitzrayim, wat by die Eufraatrivier by Kark’mish was, wat deur N’vukhadnetzar, koning van Bavel, verslaan is in die vierde jaar van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah:

3“Hou die groot en die klein skild gereed en gaan nader vir die geveg!

4Span die perde in, klim op die strydros en neem jou stand met helms op! Politoer die spiese, trek die pantsers aan

5omdat Ek hulle verslane, terugvallend gesien het en hulle magtige manne is verslaan en het skuiling gesoek in vlug, sonder om om te draai, want hulle was omsingel,” verklaar יהוה.

6“Laat die vinnige man nie vlug nie en die magtige man nie ontsnap nie; in die noorde, langs die Eufraatrivier, het hulle gestruikel en geval.

7Wie is dit wat daar oprys soos die Nyl, soos die riviere wat se waters heen en weer gaan?

8Mitzrayim rys op soos die Nyl, soos die riviere wat se waters heen en weer gaan en hy het gesê: ‘Ek sal opstaan en die aarde bedek; ek sal sekerlik die stad en sy inwoners vernietig.’

9Gaan op, julle perde en ry wild, julle strydwaens sodat die magtige manne vorentoe kan marsjeer: Kush en Put, wat die skild hanteer en die Ludiete wat die boog hanteer en span,

10want daardie dag behoort aan יהוה, God van die leërmagte, ’n dag van wraak, om Homself te wreek op Sy vyande en die swaard sal verslind en versadig wees en hom vol drink aan hulle bloed, want daar sal ’n slagting wees vir יהוה, God van die leërmagte, in die land van die Noorde by die Eufraatrivier.

11Gaan op na Gil’ad en kry balsem, o maagdelike dogter van Mitzrayim! Tevergeefs sal jy baie medisyne gebruik; daar is geen genesing vir jou nie.

12Die nasies het van jou skande gehoor en die aarde is vol van jou uitroepe, want een soldaat het gestruikel oor ’n ander en hulle het altwee saam geval.”

13Die boodskap wat יהוה vir Yirmeyahu, die profeet, gegee het aangaande die koms van N’vukhadnetzar, koning van Bavel, om die land van Mitzrayim te vernietig:

14“Verklaar in Mitzrayim en verkondig in Migdol; verkondig ook in Memfis (Nof) en in Tagpanges. Sê: ‘Neem jou stand en kry jouself reg, want die swaard het die wat rondom jou is verslind.’

15Hoekom is jou magtiges plat op die grond? Hulle staan nie omdat יהוה hulle neergegooi het.

16Hulle het aanhoudend gestruikel, inderdaad, hulle het een teen die ander geval. Toe het hulle gesê: ‘Staan op en laat ons teruggaan na ons eie mense en na ons geboorteland, weg van die swaard van die onderdrukker.’

17Hulle het daar uitgeroep: ‘Farao, koning van Mitzrayim, is net ’n groot geraas; hy het die aangestelde tyd laat verbygaan!’

18So waar as wat Ek leef,” verklaar die Koning, Wie se Naam (Karakter en Outoriteit) יהוה-Tzva’ot is, “daar sal sekerlik een kom wat soos Tavor onder die berge is en soos Karmel by die see.

19Maak jou bagasie gereed vir ballingskap, o dogter wat in Mitzrayim bly, want Memfis (Nof) sal ’n verlatenheid word; dit sal selfs afgebrand word en ontneem wees van inwoners.

20Mitzrayim is ’n pragtige vers; ’n steekvlieg kom egter vanaf die noorde; dit kom!

21Ook haar huurtroepe in haar midde is soos vetgemaakte kalwers, want selfs hulle het ook omgedraai en saam gevlug; hulle het nie vas bly staan nie, want die dag van hulle katastrofe het oor hulle gekom, die tyd van hulle straf.

22Sy geluid het voortbeweeg soos die van ’n slang, want hulle het aanbeweeg soos ’n leërmag en kom na hom toe as houtkappers met byle.

23Hulle kap haar bos om,” verklaar יהוה; “dit sal sekerlik nie gevind word nie, alhoewel hulle nou meer is as sprinkane en sonder getal.

24Die dogter van Mitzrayim is tot skande gemaak; oorgegee aan die krag van die volk uit die noorde.”

25יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el, sê: “Let op, Ek gaan Amon van No (Thebes), Farao en Mitzrayim saam met sy gode en sy konings, selfs Farao en die wat op hom vertrou, straf. 26Ek sal hulle oorgee aan die krag van die wat hulle lewe soek en in die hand van N’vukhadnetzar, koning van Bavel en in die hand van sy amptenare. Daarna egter, sal dit bewoon word soos in die ou dae,” verklaar יהוה.

27Wat jou egter betref, o Ya’akov My dienskneg, moenie vrees of ontsteld wees nie, o Yisra’el, want kyk, Ek gaan jou red van ver af en jou nageslag uit die land van hulle gevangeskap en Ya’akov sal teruggaan en onversteurd en veilig wees, met niemand wat hom laat bewe nie.

28O, Ya’akov, My dienskneg, moenie vrees nie,” verklaar יהוה, “want Ek is by jou, want Ek sal ’n volledige einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; tog sal Ek nie ’n volledige einde aan jou maak nie, maar Ek sal jou behoorlik tugtig en jou geensins ongestraf laat bly nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 45
Top of Page
Top of Page