Jeremia 33
Afrikaans PWL
1Toe het die woord van יהוה vir die tweede keer tot Yirmeyahu gekom terwyl hy nog opgesluit was in die hof van die wagte en gesê: 2“So sê יהוה wat jou gemaak het, wat jou gevorm het en jou gevestig het, יהוה is Sy Naam (Karakter en Outoriteit): 3‘Roep na My en Ek sal jou antwoord en aan jou groot en magtige dinge vertel, wat jy nie weet nie,’ 4want so sê יהוה, die God van Yisra’el, met betrekking tot die huise van hierdie stad en die huise van die konings van Y’hudah wat die rowers ontwortel het deur die swaard: 5hulle kom om te veg teen die Kasdeërs, maar dit is om die strate te vul met die lyke van mense wat Ek neergeslaan het in My woede en in My toorn, want Ek het My gesig van hierdie stad af weggedraai as gevolg van al hulle boosheid: 6“Let op, Ek sal gesondheid en genesing bring en hulle genees en Ek sal vir hulle ’n oorvloed vrede en waarheid openbaar. 7Ek sal die welstand van Y’hudah en die welstand van Yisra’el herstel en hulle herbou soos hul aan die begin was. 8Ek sal hulle reinig van al hulle oortredinge waarmee hulle teen My gesondig het en Ek sal al hulle oortredinge vryspreek waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. 9Dit sal vir My ’n naam van vreugde, lofprysing, eer en aanbidding wees voor al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek vir hulle doen en hulle sal respekvol vrees en bewe as gevolg van al die goeie en al die vrede wat Ek vir hulle bring.’

10So sê יהוה: ‘Daar sal weer in hierdie plek waarvan julle sê: “Dit is ’n woesteny, sonder mens en sonder dier,” in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim wat verlate is, sonder mens, sonder inwoner en sonder dier,

11die stem van vreugde en die stem van blydskap, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: “Bring danksegging aan יהוה-Tzva’ot, want יהוה is goed, want Sy liefdevolle goedheid is vir ewig” en van die wat ’n dankoffer bring in die huis van יהוה, gehoor word, want Ek sal die welvaart van die land herstel soos dit aan die begin was,’ sê יהוה.

12So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Daar sal weer in hierdie plek wat ’n woesteny is, sonder mens of dier en in al sy stede ’n blyplek wees vir herders wat hulle troppe laat rus. 13In die stede van die Bergland, in die stede van die Laagland, in die stede van die Suidland, in die land van Binyamin, in die omstreke van Yerushalayim en in die stede van Y’hudah sal die troppe weer, onder die hand van die een wat hulle tel, verbygaan,’ sê יהוה.

14‘Let op, daar kom dae,’ verklaar יהוה, ‘wanneer Ek die goeie woord in vervulling sal bring wat Ek gesê het aangaande die huis van Yisra’el en die huis van Y’hudah. 15In daardie dae en in daardie tyd sal Ek vir Dawid ’n onpartydige en opregte Spruit laat uitspruit en Hy sal regverdige oordeel, onpartydige opregtheid uitoefen op die aarde. 16In daardie dae sal Y’hudah gered word en Yerushalayim in veiligheid bly en dit sal die naam wees wat dit genoem word: יהוה is ons onpartydige opregtheid [יהוה-Tzidkenu], 17want so sê יהוה: “Daar sal nooit vir Dawid ’n man ontbreek om te sit op die troon van die huis van Yisra’el nie 18en daar sal vir die Leviete en priesters nooit ’n man ontbreek voor My Teenwoordigheid om altyddeur brandoffers te bring en graanoffers aan die brand te steek en om voortdurend offers voor te berei nie.’”

19Die woord van יהוה het tot Yirmeyahu gekom en gesê: 20“So sê יהוה: ‘As julle My instellings vir die dag en My instellings vir die nag kan verbreek sodat dag en nag nie op sy vasgestelde tyd sal wees nie, 21dan sal My verbond ook met Dawid, My dienskneg, verbreek kan word sodat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie en My verbond met die Leviete, My bedienaars, verbreek kan word. 22Soos die leërskare van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek die nageslag van My kneg Dawid en die Leviete wat My bedien, vermenigvuldig.’”

23Die woord van יהוה het tot Yirmeyahu gekom en gesê: 24“Het jy nie opgemerk wat hierdie volk praat as hulle sê: ‘Die twee families wat יהוה gekies het, dié het Hy verwerp,’ nie? So verag hulle My volk, hulle is geen nasie meer in hulle oë nie.” 25So sê יהוה: “As My verbond met dag en nag nie staan nie en die vaste patrone van hemel en aarde, nie vasgestel is nie, 26dan sal Ek die nageslag van Ya’akov en van My dienskneg Dawid verwerp sodat Ek nie uit sy nageslag heersers sal vat oor die nageslag van Avraham, Yitz’gak en Ya’akov nie, maar Ek sal hulle welvaart herstel en My oor hulle ontferm.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 32
Top of Page
Top of Page