Jeremia 32
Afrikaans PWL
1Die woord wat van יהוה af tot Yirmeyahu gekom het in die tiende jaar van Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, wat die agttiende jaar van N’vukhadnetzar was. 2In daardie tyd het die leër van die koning van Bavel Yerushalayim beleër en Yirmeyahu, die profeet, was opgesluit in die hof van die wagte, wat in die huis van die koning van Y’hudah is 3omdat Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, hom opgesluit en gesê het: “Waarom profeteer jy en sê: ‘So sê יהוה: “Let op, Ek is op die punt om hierdie stad in die hand van die koning van Bavel te gee en hy sal dit inneem 4en Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, sal nie uit die hand van die Kasdeërs ontsnap nie, maar hy sal sekerlik oorgegee word in die hand van die koning van Bavel en hy sal mond tot mond met hom praat en hom oog tot oog sien 5en hy sal Tzidkiyahu na Bavel vat en hy sal daar wees totdat Ek hom besoek,” verklaar יהוה. “As julle teen die Kasdeërs veg, sal julle nie suksesvol wees nie.’””

6Yirmeyahu het gesê: “Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 7‘Let op, Hanam’el, die seun van Shallum, jou oom, kom na jou toe en sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in `Anatot lê, want jy het die reg van loskoping om dit te koop.’” 8Toe het Hanam’el, die seun van my oom, na my toe gekom volgens die woord van יהוה, in die hof van die wagte en vir my gesê: ‘Koop asseblief my stuk grond wat in `Anatot, in die land van Binyamin lê, want jy het die reg van besit en die loskoping is joune; koop dit vir jouself.’ Toe het ek geweet dat dit die woord van יהוה was.

9Ek het die grond wat in `Anatot lê van Hanam’el, die seun van my oom, gekoop en vir hom die silwer afgeweeg: sewentien sikkels silwer. 10Ek het die akte geteken en verseël en getuies ingeroep en die geld afgeweeg op die weegskaal. 11Toe het ek die koopbrief gevat, beide die verseëlde een wat die terme bevat en die oop een 12en die koopbrief aan Barukh, die seun van Neriyah, die seun van Magseyah, gegee voor die oë van Hanam’el, die seun van my oom en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van almal van Y’hudah wat in die hof van die wagte gesit het 13en ek het aan Barukh voor hulle oë beveel en gesê: 14‘So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Neem hierdie aktes, hierdie verseëlde koopbrief en hierdie oop akte en sit hulle in ’n erdepot sodat hulle lank kan hou,” 15want so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Huise, lande en wingerde sal weer in hierdie land gekoop word.’”

16Nadat ek die koopbrief aan Barukh, die seun van Neriyah, gegee het, het ek tot יהוה gebid en gesê: 17Ag, יהוה-God, let op, U het die hemel en die aarde gemaak deur U groot krag en deur U uitgestrekte arm! Niks is vir U te moeilik nie, 18U wat liefdevolle goedheid wys aan duisende, maar die oortredinge van die vaders terugbetaal in die skoot van hulle kinders ná hulle; o, groot en magtige God, יהוהTzva’ot is Sy Naam (Karakter en Outoriteit); 19groot van raad en magtig in daad, Wie se oë oop is vir al die lewenswyses van die seuns van die mens, om aan elkeen te gee volgens sy lewenswyse en volgens die vrug van sy dade; 20wat tekens en wonders gedoen het in Mitzrayim en tot vandag toe in beide Yisra’el en onder die mense en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is. 21U het U volk Yisra’el uit die land van Mitzrayim gebring met tekens en met wonders en met ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en met groot verskrikking 22en aan hulle hierdie land gegee wat U hul vaders met ’n eed beloof het om vir hulle te gee, ’n land wat vloei met melk en heuning. 23Hulle het gekom en dit in besit geneem, maar nie U stem gehoorsaam of in U wet geloop nie; hulle het absoluut niks gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie; daarom het U al hierdie katastrofes oor hulle laat kom. 24Let op, die beleëringswalle het gekom tot by die stad, om dit in te neem en die stad is oorgegee in die hand van die Kasdeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard, die hongersnood en die pes en wat U gesê het, het gebeur en let op, U sien dit! 25U, יהוה-God, het vir my gesê: “Koop vir jouself die stuk grond met geld en roep getuies in,” alhoewel die stad in die hand van die Kasdeërs gegee is!’”

26Toe het die woord van יהוה tot Yirmeyahu gekom en gesê: 27“Let op, Ek is יהוה, die God van alle vlees; is enige iets te moeilik vir My?” 28יהוה sê daarom: “Let op, Ek is op die punt om hierdie stad oor te gee in die hand van die Kasdeërs en in die hand van N’vukhadnetzar, koning van Bavel en hy sal dit inneem. 29Die Kasdeërs wat teen hierdie stad veg, sal inkom en hierdie stad aan die brand steek en dit verbrand, saam met dié huise waar daar op die dakke aan Ba’al wierook geoffer is en vir ander gode drankoffers uitgegiet is om My te tart tot woede. 30Inderdaad het die seuns van Yisra’el en die seuns van Y’hudah van hulle jeug af boos gedoen in My oë, want die seuns van Yisra’el het My net deur die werk van hulle hande getart tot woede,” verklaar יהוה. 31Inderdaad was hierdie stad vir My ’n rede vir My woede en My toorn vanaf die dag dat hulle dit gebou het tot vandag toe sodat dit van voor My gesig verwyder moet word, 32as gevolg van al die boosheid van die seuns van Yisra’el en die seuns van Y’hudah wat hulle gedoen het om My te tart tot woede; hulle, hulle konings, hulle leiers, hulle priesters, hulle profete, die manne van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim. 33Hulle het hulle rug na My toe gedraai en nie hul gesig nie; alhoewel Ek hulle geleer het, keer op keer, wou hulle nie luister en instruksie ontvang nie, 34maar hulle het hul verwerplike dinge neergesit in die huis wat volgens My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem word, om dit te verontreinig. 35Hulle het die hoë plekke van Ba’al gebou in die vallei van Ben-Hinnom om hulle seuns en hulle dogters vir Molekh deur die vuur te laat gaan, wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in My gedagtes nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou doen om Y’hudah te laat sondig;

36daarom, so sê יהוה-God van Yisra’el, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: ‘Dit is in die hand van die koning van Bavel oorgegee deur die swaard, die hongersnood en die pes,’ 37let op, Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in My woede, in My toorn en in groot verontwaardiging en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle in veiligheid laat bly. 38Hulle sal My volk wees en Ek sal hulle God wees 39en Ek sal vir hulle een verstand, wil en emosie en een lewenswyse gee sodat hulle My altyd respekvol mag vrees, vir hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. 40Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit: dat Ek nie van hulle af sal wegdraai om aan hulle goed te doen nie en Ek sal My respekvolle vrees in hulle verstand, wil en emosie gee sodat hulle nie van My af sal wegdraai nie. 41Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen en Ek sal hulle getrou in hierdie land plant, met My hele verstand, wil en emosie en met My hele lewe, 42want so sê יהוה: ‘Net soos Ek al hierdie groot rampe oor hierdie volk gebring het, so gaan Ek al die goeie wat Ek hulle belowe oor hulle bring. 43Grond sal gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is ’n verlatenheid, sonder mens of dier; dit is in die hand van die Kasdeërs oorgegee.” 44Mense sal grond koop vir geld, aktes teken en verseël en getuies inroep in die land van Binyamin, in die omstreke van Yerushalayim, in die stede van Y’hudah, in die stede van die Bergland, in die stede van die Laagland en in die stede van die Suidland, want Ek sal hulle welstand herstel,’ verklaar יהוה.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 31
Top of Page
Top of Page