Jeremia 26
Afrikaans PWL
1In die begin van die regering van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah, het hierdie woord van יהוה af gekom en gesê: 2“So sê יהוה: ‘Gaan staan in die hof van die huis van יהוה en praat met al die stede van Y’hudah wat kom om te aanbid in die huis van יהוה, al die woorde wat Ek jou beveel het om vir hulle te sê; laat geen woord weg nie! 3Miskien sal hulle luister en elkeen sal omdraai van sy verkeerde pad af sodat Ek jammer word oor die katastrofe wat Ek van plan is om aan hulle te doen weens die boosheid van hulle dade.’ 4Jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה: “As julle nie na My luister nie: om in My wet te leef wat Ek voor julle gestel het; 5om te luister na die woorde van My diensknegte, die profete, wat Ek na julle toe gestuur het om julle vroegtydig te waarsku, nie, (maar julle het nie geluister nie) 6dan sal Ek hierdie huis maak soos Shiloh en hierdie stad sal Ek ’n vervloeking maak vir al die nasies van die aarde.”’”

7Die priesters, die profete en die hele volk het Yirmeyahu hierdie woorde hoor praat in die huis van יהוה. 8Toe Yirmeyahu klaar gepraat het, alles wat יהוה beveel het om vir die hele volk te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: “Jy moet sterf! 9Waarom het jy in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה geprofeteer en gesê: ‘Hierdie huis sal soos Shiloh word en hierdie stad sal verlate wees, sonder inwoner’?” Die hele volk het rondom Yirmeyahu vergader in die huis van יהוה.

10Toe die amptenare van Y’hudah hierdie dinge hoor, het hulle vanuit die huis van die koning opgegaan na die huis van יהוה en hulle het gaan sit by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van יהוה. 11Toe het die priesters en die profete met die amptenare en met die hele volk gepraat en gesê: “’n Doodsvonnis vir hierdie man, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het.”

12Toe het Yirmeyahu met al die amptenare en met die hele volk gepraat en gesê: “יהוה het my gestuur om al die woorde wat julle gehoor het teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer. 13Nou daarom, verander julle lewenswyses en julle dade en gehoorsaam die stem van יהוה, julle God en יהוה sal Sy gedagtes verander aangaande die onheil wat Hy teen julle aangekondig het, 14maar ek, let op, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. 15Weet net verseker dat as julle my doodmaak, julle onskuldige bloed op julleself sal bring en op hierdie stad en op sy inwoners, want יהוה het my waarlik na julle toe gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te praat.”

16Toe sê die amptenare en die hele volk vir die priesters en die profete: “Geen doodsvonnis vir hierdie man nie, want hy het met ons gepraat in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, ons God.” 17Toe het sommige oudstes van die land opgestaan en met die hele vergadering van die volk gepraat en gesê:

18“Mikhayah, van Moreshet, het profeteer in die dae van Hizkiyahu, koning van Y’hudah en met die hele volk van Y’hudah gepraat en gesê: ‘So het יהוה-Tzva’ot gesê: “Tziyon sal soos ’n land omgeploeg word en Yerushalayim sal puinhope word en die berg van die huis soos hoë plekke van ’n woud.’”

19Het Hizkiyahu, koning van Y’hudah en die hele Y’hudah hom doodgemaak? Het hy יהוה nie gevrees en יהוה se guns gevra nie en het יהוה nie Sy gedagtes verander oor die onheil wat Hy teen hulle aangekondig het nie, maar ons is besig om ’n groot boosheid teen onsself te pleeg!”

20Daar was inderdaad ook ’n man wat in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה geprofeteer het, Uriyahu, die seun van Sh’ma’yahu, van Kiryat-Ye’arim en hy het teen hierdie stad en teen hierdie land woorde geprofeteer soortgelyk aan Yirmeyahu. 21Toe koning Y’hoyakim, al sy magtige manne en al die amptenare sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak, maar Uriyahu het dit gehoor en hy was bang en het gevlug en na Mitzrayim gegaan. 22Toe stuur koning Y’hoyakim manne na Mitzrayim, Elnatan, die seun van `Akhbor en manne het saam met hom na Mitzrayim gegaan. 23Hulle het Uriyahu uit Mitzrayim uitgebring en hom na koning Y’hoyakim gebring wat hom met die swaard doodgeslaan en sy lyk op die grafte van die gewone mense gegooi het,

24maar die hand van Agikam, die seun van Shafan, was met Yirmeyahu sodat hy nie in die hand van die volk oorgegee is om hom dood te maak nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 25
Top of Page
Top of Page