Jesaja 57
Afrikaans PWL
1“Die regverdige kom om en daar is niemand wat dit ter harte neem nie en die toegewydes word weggevat terwyl niemand verstaan nie, want die regverdige word weggevat van die boosheid,

2hy gaan in vrede in; wie in Sy opregte pad loop, hulle rus in hulle beddens,

3maar kom hier, julle seuns van ’n towenares, nageslag van ’n owerspeler en ’n prostituut.

4Teen wie maak julle grappe? Teen wie maak julle jul mond wyd oop en steek julle tong uit? Is julle nie seuns van rebellie, nageslag van misleiding nie,

5wat julleself ontvlam tussen die eikebome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die klowe, onder die oorhang van die kranse?

6Tussen die gladde klippe van die kloof is jou deel, hulle is jou lot; jy het ook vir hulle drankoffers uitgegooi, ’n graanoffer gebring. Sal Ek toegee aangaande hierdie dinge?

7Jy het jou bed op ’n hoë en verhewe berg gemaak; jy het ook daarheen opgegaan om offers te bring.

8Agter die deur en die deurkosyn het jy jou teken opgesit; inderdaad, ver weg verwyder van My, het jy jouself ontbloot en opgegaan en jou bed wyd gemaak. Jy het vir jouself ’n ooreenkoms met hulle gemaak, jy het hulle bed liefgehad, jy het na hulle manlikheid gekyk.

9Jy het na die koning gereis met olie en jou reukwater vermeerder; jy het jou boodskappers ’n ver afstand gestuur en jouself laag afgebring, selfs tot by Sh’ol.

10Jy is uitgeput deur die veelvoud van jou korrupte metodes; tog het jy nie gesê: “Ek sal ophou” nie! Jy het jouself afgetakel met die skuld van jou hande; daarom het jy nie reggemaak nie.

11Oor wie was jy bekommerd en bevrees, toe jy gelieg het, My nie onthou het of aan My gedink het nie? Let op, Ek is die Afgesonderde Een van ouds en jy het My nie respekvol gevrees nie.

12Ék sal My onpartydige opregtheid verklaar, maar jou werke sal vir jou geen voordeel bring nie.

13Wanneer jy uitroep, laat jou versameling afgode jou bevry, maar die wind sal hulle almal oplig, ’n asem sal hulle wegvat, maar hy wat skuiling soek by My, sal die land erf en My afgesonderde berg besit.

14Dit sal gesê word: ‘Bou op, bou op, berei die pad voor, verwyder elke struikelblok uit die pad van My volk,’”

15want so sê die hoë en verhewe Een wat vir ewig leef, Wie se Naam (Karakter en Outoriteit) afgesonderd is: “Ek bly in ’n hoë en afgesonderde plek en ook by die berouvolle en nederige van gees, om die gees van die nederiges en die verstand, wil en emosie van die berouvolles weer te laat lewe,

16want Ek sal nie vir altyd teëstaan en nie vir altyd kwaad wees nie, want die gees en die asem van dié wat Ek gemaak het, sal swak word voor My.

17Ek was kwaad vanweë die onregverdigheid van hulle onregverdige wins en het hulle geslaan; Ek het My verberg en was kwaad en hy het aangehou op die manier van sy verstand, wil en emosie.

18Ek het sy lewenswyse gesien, maar Ek sal hom genees; Ek sal hom lei en aan hom en dié van hom wat treur, troos herstel

19deur lofprysing van die lippe te skep. Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir hom wat ver en die wat naby is,” sê יהוה; “Ek sal hom genees.”

20Die bose oortreder is egter soos ’n onstuimige see, want dit kan nie rustig wees nie en sy waters gooi slyk en modder op.

21“Daar is geen vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir die bose oortreder nie!” sê my God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 56
Top of Page
Top of Page