Jesaja 50
Afrikaans PWL
1So sê יהוה: “Waar is die skeibrief waarmee Ek julle moeder weggestuur het? Of aan wie van My skuldeisers het Ek julle verkoop? Let op, julle is verkoop vir julle onregverdigheid en vir jul oortredinge van die wet is julle moeder weggestuur.

2Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie? Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie? Is My hand so kort dat Ek nie kan loskoop of het Ek nie die krag om te bevry nie? Let op, deur My bestraffing maak Ek die see droog; Ek maak van die riviere ’n wildernis; hulle visse stink omdat daar geen water is nie en sterf van die dors.

3Ek trek die hemele aan met duisternis en bedek dit met ’n roukleed.

4יהוה-God het vir my die tong van ’n geleerde gegee sodat ek kan weet hoe om die vermoeide te verkwik met ’n woord; Hy maak my in die oggend wakker, Hy maak my oor wakker om die leringe te hoor.

5יהוה-God het my oor oopgemaak en ek was nie ongehoorsaam of het teruggedraai nie.

6Ek het my rug gegee vir die wat slaan en my wange vir die wat die baard uitpluk; ek het nie my gesig toegemaak vir vernedering en gespoeg nie,

7want יהוה-God help my; daarom word ek nie onteer nie; daarom het ek my gesig soos ’n vuursteen gemaak en ek weet dat ek nie beskaamd sal staan nie.

8Hy wat my verdedig is naby; wie sal teen my staan? Laat ons teen mekaar opstaan! Wie het ’n saak teen my? Laat hom naderkom na my toe!

9Let op, יהוה-God help my; wie is dit wat my veroordeel? Let op, hulle sal almal verslyt soos ’n kledingstuk; die mot sal hulle eet.

10Wie is daar onder julle wat יהוה vrees, wat die stem van Sy dienskneg gehoorsaam, wat in duisternis loop en geen lig het nie? Laat hom vertrou in die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה en steun op sy God!

11Let op, julle almal wat ’n vuur aansteek, wat julleself met vonke omring, loop in die lig van julle vuur en tussen die vonke wat julle aangesteek het! Dit sal julle van My hand ontvang; julle sal in foltering neerlê.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 49
Top of Page
Top of Page