Jesaja 37
Afrikaans PWL
1Toe koning Hizkiyahu dit hoor, het hy sy klere geskeur, hom met ’n roukleed bedek en in die huis van יהוה ingegaan. 2Toe stuur hy vir Elyakim, wat oor die huishouding was, Shevnah, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na Yesha’yahu die profeet, die seun van Amotz. 3Hulle sê vir hom: “So sê Hizkiyahu: ‘Hierdie dag is ’n dag van benoudheid, bestraffing en verwerping, want die kinders het tot by geboorte gekom en daar is geen krag om geboorte te gee nie. 4Miskien sal יהוה, u God, die woorde van Rav-Shakeh hoor wat sy meester, die koning van Ashur, gestuur het om die Lewende God te onteer en die woorde wat יהוה, u God, gehoor het, bestraf; daarom, offer ’n gebed vir die wat oorgebly het.’”

5Die diensknegte van koning Hizkiyahu het by Yesha’yahu gekom. 6Yesha’yahu het vir hulle gesê: “So moet julle jul meester antwoord: ‘So sê יהוה: “Moenie bang wees as gevolg van die woorde wat jy gehoor het, waarmee die diensknegte van die koning van Ashur sleg van My gepraat het nie. 7Let op, Ek sal ’n gees in hom plaas sodat hy ’n gerug sal hoor en na sy eie land sal teruggaan en Ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”

8Toe het Rav-Shakeh teruggegaan en die koning van Ashur gekry vegtend teen Livnah, want hy het gehoor dat die koning Lakhish verlaat het 9nadat hy hoor-sê het aangaande Tirhakah, koning van Kush: “Hy het uitgekom om teen u te veg.” Toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hizkiyahu om te sê: 10“So moet julle vir Hizkiyahu, koning van Y’hudah, sê: ‘Moenie dat u God op wie u vertrou, u bedrieg nie deur te sê: “Yerushalayim sal nie in die hand van die koning van Ashur oorgegee word nie.” 11Let op, u het gehoor wat die konings van Ashur aan al die lande gedoen het deur hulle volkome te vernietig. Dus, sal ú gespaar word? 12Het die gode van daardie nasies, wat my vaders vernietig het, hulle bevry: Gozan, Haran, Retzef en die seuns van `Eden wat in Tel’assar was? 13Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van die stad van S’farvayim, van Hena en `Ivah?’”

14Toe vat Hizkiyahu die brief uit die hand van die boodskappers, lees dit, gaan op na die huis van יהוה en sprei dit uit voor die Teenwoordigheid van יהוה. 15Hizkiyahu het tot יהוה gebid en gesê: 16“O, יהוה-Tzva’ot, God van Yisra’el, wat bo die gérubs op die troon is; U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak. 17O יהוה, draai U oor en hoor! יהוה, maak oop U oë en sien en luister na al die woorde van Sangeriv, wat hy gestuur het om die Lewende God te onteer! 18Dit is waar, o יהוה, die konings van Ashur het al die lande en hulle streke verwoes 19en hulle gode in die vuur gegooi, want hulle was nie gode nie, maar die werk van mensehande, hout en klip, hulle het hul vernietig. 20Nou, יהוה, ons God, bevry ons vanuit sy hand sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, יהוה, alleen God is.”

21Toe stuur Yesha’yahu, die seun van Amotz, woord vir Hizkiyahu en sê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Omdat jy tot My gebid het aangaande Sangeriv, koning van Ashur,

22is hierdie die woord wat יהוה teen hom uitgespreek het: “Sy het jou verag en met jou gespot, die maagdelike dogter van Tziyon; sy het haar kop agter jou geskud, die dogter van Yerushalayim!

23Wie het jy onteer en sleg van gepraat? Teen wie het jy jou stem verhef en jou oë hoogmoedig opgelig? Teen die Afgesonderde Een van Yisra’el!

24Deur jou diensknegte het jy יהוה onteer en jy het gesê: “Met my menigte strydwaens het ek gekom tot by die hoogtes van die berge, tot by die afgesonderdste dele van L’vanon en ek kap sy hoë seders af, die keur van sy sipresse en ek sal na sy hoogste pieke gaan, sy digste woud.

25Ék het gegrawe en water gedrink en met die sool van my voete al die strome van Mitzrayim laat opdroog.”

26Het jy nie gehoor nie? Ek het dit lank terug gedoen, van die oudste tye af het Ek dit beplan en nou het Ek dit laat gebeur dat jy versterkte stede tot puinhope sal verander.

27Hulle inwoners was swak, hulle is ontsteld en verslane; hulle was soos plante van die veld en soos groen kruie, soos gras op die dakke, sagte grashalms, verskroei voordat dit volgroei is,

28maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou inkom en hoe jy teen My woed.

29Ek sal My haak in jou neus sit en My toom tussen jou lippe en jou terugdraai met die pad waarmee jy gekom het omdat jy teen My woed en omdat jou arrogansie opgekom het tot My ore.

30Dan sal hierdie vir jou die teken wees: jy sal hierdie jaar eet wat vanself groei, in die tweede jaar wat van dieselfde opkom en in die derde jaar, saai, oes, plant wingerde en eet hulle vrugte. 31Die oorlewendes wat oorgebly het van die huis van Y’hudah sal weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe, 32want vanuit Yerushalayim sal wat oorbly uitgaan en oorlewendes vanaf die berg Tziyon. Hand 1:8 Die ywer van יהוה-Tzva’ot sal dit uitvoer.’

33So sê יהוה daarom aangaande die koning van Ashur: ‘Hy sal nie na hierdie stad kom of daar ’n pyl na skiet nie en hy sal nie voor dit kom met ’n skild of ’n beleringswal teen dit gooi nie. 34Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie na hierdie stad kom nie,’ sê יהוה, 35‘want Ek sal hierdie stad verdedig om dit te red om My eie en om My kneg Dawid se ontwil.’”

36Toe het die engel van יהוה uitgegaan en een honderd vyf en tagtig duisend in die laer van Ashur verslaan en toe mense die oggend vroeg opstaan, let op, was hulle kamerade almal dood. 37Sangeriv, koning van Ashur, het vertrek, teruggegaan en in Ninveh gebly. 38Dit het gebeur terwyl hy hom neerbuig in die huis van Nisrokh, sy god, dat Adrammelekh en Shar’etzer, sy seuns, hom met die swaard doodgemaak het en hulle het ontvlug na die land van Ararat. Esar-Haddon, sy seun, het koning geword in sy plek.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 36
Top of Page
Top of Page