Jesaja 32
Afrikaans PWL
1Let op, ’n koning sal in onpartydige opregtheid regeer en prinse sal regverdig heers.

2Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die storm, soos waterstrome in ’n droë land, soos die skaduwee van ’n groot rots in ’n geskroeide land.

3Dan sal die oë van die wat sien nie meer verblind wees nie en die ore van die wat luister, sal hoor.

4Die verstand van die onverstandiges sal die waarheid onderskei en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te praat.

5Die dwaas sal nie meer edel genoem word nie, of die skurk van gepraat word as verlosser nie,

6want ’n dwaas praat onsin en sy verstand, wil en emosie neig na wetteloosheid: om boosheid te doen en leuens teen יהוה te praat; om die honger persoon onversadig te hou en drinkgoed terug te hou van hulle wat dors is.

7Die skurk se wapens is wetteloosheid; hy beraam bose planne om die geteisterdes te vernietig met leuens, alhoewel die getuienis van die behoeftige reg is,

8maar die edele beraam groot planne en hy sal op sy grootheid staan.

9Staan op, geruste vroue, hoor my stem! Selfvoldane dogters, luister na my boodskap!

10Baie jare en dae sal julle sidder, o selfvoldane dogters, want die druiwe-oes is verby en die insameling van vrugte sal nie kom nie.

11Bewe, geruste vroue! Wees bekommerd, selfvoldane dogters! Trek julle klere uit en trek rougewade om julle heupe.

12Slaan op julle borste oor die aangename velde, oor die vrugbare wingerde,

13vir die land van My volk, waar dorings en distels sal opkom; ja, vir al die vreugdevolle huise en die uitgelate stad,

14want die paleis is verlate, die bevolkte stad is in die steek gelaat; die heuwel en die wagtoring het grotte geword vir ewig, ’n vreugde vir die wilde-donkies, ’n weiveld vir troppe vee.

15Wanneer die Gees oor ons uitgegiet word vanuit die hoogte en die wildernis ’n vrugbare veld word en die vrugbare veld as ’n woud gereken word,

16dan sal regverdige oordeel in die wildernis bly en onpartydige opregtheid in die vrugbare veld.

17Die werke van onpartydige opregtheid sal vrede wees en die diens van onpartydige opregtheid, rustigheid en veiligheid vir ewig.

18Dan sal My volk in ’n vredevolle blyplek, in veilige huise en in onverstoorde plekke van rus bly;

19hael sal neerval op die woud en die stad sal plat gemaak word soos ’n vlakte.

20Hoe gelukkig sal julle wees, julle wat langs al die waters saai, wat die os en die donkie vry laat uitkom!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 31
Top of Page
Top of Page