Jesaja 27
Afrikaans PWL
1In dié dag sal יהוה die livyatan, die deurborende reptiel, ja, livyatan, die kronkelende reptiel, met Sy vreeslike, groot en magtige swaard straf en Hy sal die draak doodmaak wat in die see is.

2In daardie dag: “Sing van ’n wingerd van wyn!

3Ek, יהוה, is sy Versorger: Ek sal dit elke oomblik water gee; Ek bewaak dit nag en dag sodat niemand dit kan beskadig nie.

4Ek het geen toorn nie. Sou iemand My dorings of distels gee in die geveg, sou Ek daarop trap, dit volkome verbrand;

5of laat hom onveranderlik vashou aan My beskerming, Ek sal vir hom vrede maak, vrede sal Ek vir hom gee.”

6In die dae wat kom, sal Ya’akov wortel skiet, Yisra’el sal bloei en uitspruit en hulle sal die hele wêreld met vrugte vul.

7Het יהוה die onderdrukker geslaan soos wat hy dié slaan wat hom geslaan het? Of word hulle gedood soos dié wat deur die slagting deur hom gedood is?

8U het met hulle geworstel deur hulle te verban, deur hulle weg te dryf. Met Sy sterk wind het Hy hulle uitgedryf op die dag van die oostewind.

9Die wetsoortreding van Ya’akov sal daarom hierdeur vergewe wees en dit sal die volle prys wees van die vryspraak van sy sonde: wanneer hy al die altaarklippe maak soos verkrummelde kalkklippe; wanneer die Asherahs, afgode en wierookaltare nie meer regop sal staan nie,

10want die versterkte stad is afgesny, ’n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar sal die kalwers wei en daar sal hulle lê en sy gras eet.

11Wanneer sy takke verdor is, word hulle afgebreek; vroue kom en maak ’n vuur daarmee, want hulle is nie ’n volk van onderskeiding nie; daarom sal hulle Maker nie vir hulle omgee nie en sal hulle Skepper nie vir hulle onverdiende guns bewys nie.

12In dié dag sal יהוה vanaf die vloeiende stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Mitzrayim, Sy vrugte oes en júlle sal ingesamel word, een vir een, o seuns van Yisra’el! 13Dit sal gebeur dat in dié dag ’n groot ramshoring geblaas sal word en dan sal dié wat verlore gegaan het in die land van Ashur en dié wat versprei was oor die land van Mitzrayim, kom en יהוה aanbid op die afgesonderde berg by Yerushalayim.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 26
Top of Page
Top of Page