Jesaja 13
Afrikaans PWL
1Die profetiese gesig wat Yesha’yahu, die seun van Amotz, aangaande Bavel gesien het:

2Lig ’n banier op die kaal berg op; roep hulle hardop toe, waai met die hand sodat hulle die deure van die edeles kan binnegaan.

3Ek het My afgesonderdes opdrag gegee; Ek het selfs My magtige soldate geroep, My trots, jubelendes, om My woede uit te voer.

4’n Klank van opskudding op die berge soos die van baie mense; ’n klank van die oproer van die koninkryke van nasies wat bymekaargekom het! יהוה-Tzva’ot roep die leër op vir oorlog.

5Hulle kom vanaf ’n ver land, van die verste horisonne af, יהוה en Sy instrumente van Sy woede, om die hele land te verwoes.

6Huil, want die dag van יהוה is naby! Dit sal kom as die vernietiging deur die Almagtige;

7daarom val al die hande slap en elke mens se binneste sal smelt.

8Hulle sal beangs wees, pyne en benoudheid sal hulle aangryp; hulle sal inmekaarkrimp soos ’n vrou wat geboorte gee; hulle sal na mekaar kyk in verbasing; hulle gesigte ontvlam.

9Let op, die dag van יהוה kom, hardvogtig, met toorn en brandende woede, om die land verlate te maak en Hy sal die sondaars daarop uitwis,

10want die sterre van die hemel en sy konstelasies sal nie hulle lig laat skyn nie; die son sal donker wees as hy opkom en die maan sal nie sy lig laat skyn nie.

11So sal Ek die wêreld vir sy boosheid en die morele bose vir sy permissiwiteit straf; Ek sal ook ’n einde maak aan die arrogansie van die trotses en die hoogmoed van die gewetenlose verneder.

12Ek sal die sterflike mens skaarser maak as suiwer goud en die mensdom as die goud van Ofir.

13Ek sal daarom die hemel laat bewe en die aarde sal deur die toorn van יהוה-Tzva’ot uit sy plek geskud word in die dag van Sy brandende woede.

14Dit sal wees soos ’n gasel wat gejag word, of soos kleinvee met niemand om hulle bymekaar te maak nie, hulle sal elkeen na sy eie volk toe draai en elkeen na sy land toe vlug.

15Enige een wat gevind word, sal deurboor word en elkeen wat gevang word, val deur die swaard.

16Hulle kinders sal in stukke geslaan word voor hulle oë, hul huise sal geplunder en hul vroue onteer word.

17Let op, Ek gaan die Mede teen hulle opstook, wat silwer nie sal ag en geen behae in goud sal hê nie.

18Hulle boë sal die jongmanne afmaai, hulle sal nie eens omgee vir die vrug van die baarmoeder nie; hulle oog sal ook nie jammer wees vir die kinders nie.

19Bavel, die skoonheid van die koninkryke, die lof en eer van die Kasdeërs se trots, sal wees soos toe God S’dom en `Amorra omgekeer het.

20Van geslag tot geslag sal dit nooit bewoon word of in geleef word nie en die Arabier sal ook nie sy tent daar opslaan nie en ook sal geen herders hulle vee daar laat lê nie,

21maar woestyn gediertes sal daar lê en hulle huise sal vol uile wees; volstruise sal ook daar leef en bokramme sal daar rondspring.

22Hiënas sal huil in hulle versterkte torings en jakkalse in hulle luukse paleise. Haar tyd sal ook gou kom en haar dae sal nie uitgerek word nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 12
Top of Page
Top of Page