Hebreërs 13
Afrikaans PWL
1Laat die liefde vir broers voortgaan tussen julle. 2Vergeet nie die goedheid teenoor vreemdelinge nie, want daardeur was sommige waardig om onwetend, engele te onthaal. 3Onthou dié wat gevange geneem is, asof julle saam met hulle gevang is en dié wat mishandel word, as mense wat self liggame het. 4Die huwelik is eerbaar in alle opsigte en hulle bed is rein, maar God sal seksuele oortreders en egbrekers oordeel.

5Julle gedagtes het nie geld liefgehad nie, maar laat, wat julle ook al het, vir julle genoeg wees, want יהוה het gesê: “Ek sal jou nooit in die steek laat en jou hand laat los nie.”

6Ons sê met vrymoedigheid: “My Meester is my Helper, ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”

7Onthou julle gidse, die wat die boodskap van God aan julle verkondig; kyk na die resultate van hulle optrede en volg hulle vertroue na. 8Yeshua, Die Gesalfde Een, is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde. 9Moenie gelei word deur vreemde en veranderlike leringe nie, want dit is goed dat die verstand, wil en emosie versterk word deur onverdiende guns, nie deur kos nie, waarvan die wat daarin leef, geen voordeel het nie. 10Ons het ’n altaar, waarvan dié wat die Tabernakel bedien, geen outoriteit het om van te eet nie. 11Die diere, waarvan die bloed ter wille van die sonde, deur die hoofpriester in die afgesonderde plek ingedra word, se liggame word buitekant die kamp verbrand; 12daarom het Yeshua ook, om die mense deur Sy eie bloed af te sonder, buitekant die stad gely; 13daarom moet ons ook uitgaan na Hom toe, buitekant die kamp, terwyl ons Sy skande dra, 14want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons kyk uit vir die één wat kom.

15Laat ons, deur Hom, altyd aan God ’n lofoffer bring, wat die vrug van die lippe is wat dank bring aan Sy Karakter en Outoriteit. 16Vergeet ook nie liefdadigheid en om te deel met die armes nie, want met sulke offers stel ’n mens God tevrede.

17Wees gehoorsaam aan julle leiers en onderwerp julle aan hulle, want hulle hou wag oor julle lewens, as mense wat rekenskap moet gee sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie met klagtes nie, want dit is nie vir julle tot voordeel nie.

18Hou aan bid vir ons, want ons vertrou dat ons ’n goeie gewete het omdat ons in alles goed wil leef, 19maar, spesiaal vra ek julle, om dit te doen sodat ek gouer na julle toe kan terugkom.

20Die God van vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed, wat die groot Herder van die skape, Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester, deur die bloed van die ewige verbond uit die dood uit gebring het; 21Hy sal julle volmaak maak in elke goeie daad, om Sy wil te doen en Hy sal ín ons alles wat uitstekend is voor Hom, deur Yeshua, Die Gesalfde Een, aan Wie die lof, eer en grootheid toekom tot in tydlose ewigheid, uitvoer! Dit is waar!

22Ek doen ’n beroep op julle, broers, wees geduldig in julle gees met die boodskap van opheffing, want ek het maar kort aan julle geskryf. 23Weet dat ons broer Timotheos vrygelaat is en, as hy gou kom, sal ek julle saam met hom sien. 24Groet al julle leiers en al die afgesonderdes. Almal wat van Italië is, groet julle.

25Die onverdiende guns bly by julle almal! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hebrews 12
Top of Page
Top of Page