Genesis 43
Afrikaans PWL
1Die hongersnood was swaar in die land. 2Dit het gebeur dat toe die graan wat hulle uit Mitzrayim gebring het, opgeëet was, hulle vader vir hulle sê: “Gaan terug en koop vir ons ’n bietjie kos.” 3Y’hudah het met hom gepraat en gesê: “Die man het ons ernstig gewaarsku en gesê: “Julle sal my gesig nie sien as julle broer nie by julle is nie. 4As u ons broer saam met ons stuur, sal ons afgaan en vir u kos gaan koop, 5maar as u hom nie wil stuur nie, sal ons nie afgaan nie, want die man het vir ons gesê: ‘Julle sal my gesig nie sien as julle broer nie by julle is nie’.” 6Yisra’el sê: “Waarom het julle so boos teenoor my opgetree deur die man te vertel dat julle nog ’n broer het?” 7Hulle antwoord: “Die man het reguit uitgevra na ons en ons familie met die woorde: ‘Lewe julle vader nog? Het julle nog ’n broer?’ Ons het dit met ons mond bevestig. Kon ons enigsins weet dat hy sou sê: ‘Bring julle broer af’?” 8Y’hudah sê aan sy vader Yisra’el: “Stuur die jongman saam met my; dan sal ons opstaan en gaan sodat ons kan leef en nie sterf nie; nie ons nie en ook nie u en ons kinders nie. 9Ek sal self vir hom borg wees; van my hand sal u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek vir ewig die skuld dra, 10want as ons nie uitgestel het nie, sou ons sekerlik nou al twee maal terug kon gewees het.”

11Yisra’el, hulle vader, het vir hulle gesê: “As dit so moet wees, doen dan dít: vat van die beste vrugte van die land in julle sakke en bring vir die man ’n geskenk; ’n bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en mirre, neute en amandels 12en vat dubbel soveel geld in julle hand en vat die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, in julle hand terug. Miskien was dit ’n fout. 13Vat ook julle broer; staan op en gaan terug na die man 14en mag El-Shaddai (Die Magtige God wat meer as genoeg is) vir julle omgee gee by die man sodat hy julle ander broer en Binyamin vry kan laat! Ek: as my kinders weggevat is, dan is my kinders weggevat.” 15So het die manne dié geskenk, dubbel soveel geld in hulle hand en ook Binyamin saam met hulle gevat en hulle het opgestaan en na Mitzrayim afgegaan en voor Yosef gaan staan.

16Toe Yosef Binyamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: “Bring die manne na my huis en slag ’n dier en maak dit gereed, want die manne sal vanmiddag saam met my eet.” 17Die man het gedoen soos Yosef beveel het en die man het die manne in die huis van Yosef gebring. 18Die manne was bang omdat hulle in die huis van Yosef gebring is en het gesê: “Dit is as gevolg van die geld wat die eerste keer in ons sakke teruggekom het dat ons ingebring is om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te vat, saam met ons donkies.” 19Hulle het nader gekom na die opsiener oor die huis van Yosef en met hom gepraat by die ingang van die huis 20en gesê: “Ag, meneer, ons het werklik die eerste keer afgetrek om kos te koop, 21maar dit het gebeur dat toe ons in die herberg kom, ons ons sakke oopgemaak het en let op, elkeen se geld was bo in sy sak; ons geld in sy volle gewig en ons het dit in ons hand teruggebring. 22Ons het ook ander geld in ons hand afgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesit het nie.” 23Hy antwoord: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het vir julle ’n skat in julle sakke gegee. Ek het julle geld gehad.” Hy het Shim’on na hulle toe uitgebring. 24Die man het die manne in die huis van Yosef ingebring, vir hulle water gegee en hulle het hul voete gewas; hy het ook vir hulle donkies voer gegee. 25Hulle het die geskenk reggemaak vir Yosef se koms die middag, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.

26Toe Yosef in die huis inkom, het hulle vir hom die geskenk ingebring wat in hulle hand was en op hulle gesigte op die grond voor hom neergeval. 27Hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: “Gaan dit goed met julle vader, die ou man waarvan julle gepraat het? Leef hy nog?” 28Hulle antwoord: “U dienskneg, ons vader, is in goeie gesondheid; hy lewe nog” en hulle neergebuig na die grond toe. 29Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Binyamin, die seun van sy moeder en sê: “Is dit julle jongste broer van wie julle met my gepraat het?” Hy sê ook: “God buk af na jou in guns, my seun!” 30Yosef se binneste het verlang met omgee na sy broer en hy het gou gemaak om geleentheid te soek om te huil en hy het in sy kamer ingegaan en daar gehuil. 31Hy het sy gesig gewas en uitgekom en homself beheer en gesê: “Bedien die kos!” 32Toe bedien hulle hom afsonderlik en vir hulle afsonderlik en vir die Mitzrayiete wat by hom eet, afsonderlik, want die Mitzrayiete mag nie saam met die Hebreërs eet nie omdat dit vir die Mitzrayiete ’n gruwel is. 33Hulle het gaan sit voor hom, die eersgeborene volgens sy geboortereg en die jongste na sy jonkheid en die manne was verstom teenoor mekaar. 34Hy het vir hulle porsies gegee vanaf die kos voor hom, maar Binyamin se porsie was vyf maal groter as enige van hulle s’n. Hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse Vertaling (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 42
Top of Page
Top of Page