Genesis 42
Afrikaans PWL
1Toe Ya’akov sien dat daar graan in Mitzrayim was, het Ya’akov vir sy seuns gesê: “Hoekom kyk julle vir mekaar (is julle bang)?” 2Hy sê: “Let op, ek het gehoor dat daar graan in Mitzrayim is; gaan daarheen af en koop vir ons graan daar sodat ons kan leef en nie sterf nie. 3Yosef se tien broers het afgegaan na Mitzrayim om graan te koop, 4maar Ya’akov het nie vir Binyamin, die broer van Yosef, saam met sy broers gestuur nie, want hy het gedink: sodat hy nie kan seerkry nie. 5Die seuns van Yisra’el het gegaan om graan te koop saam met die ander wat afgegaan het, want daar was hongersnood in die land Kena’an.

6Yosef was meester oor die land, dit is hy wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Yosef se broers het gekom en hulle voor hom neergebuig met hulle gesigte na die grond toe. 7Yosef het sy broers gesien en hulle herken, maar het as vreemdeling teenoor hulle opgetree, hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: “Vanwaar het julle gekom?” Hulle antwoord: “Vanaf die land Kena’an om kos te koop.”

8Yosef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie. 9Yosef het die drome onthou wat hy aangaande hulle gedroom het en hy sê vir hulle: “Julle is spioene, julle het gekom om die oopheid van die land te sien.” 10Hulle het hom geantwoord: “Nee, my meester, maar u diensknegte het gekom om kos te koop. 11Ons is almal seuns van een man, ons is eerlik; u diensknegte is nie spioene nie.” 12Hy sê vir hulle: “Nee, maar julle het gekom om die oopheid van die land te sien.” 13Hulle antwoord: “U diensknegte is twaalf broers, seuns van een man in die land Kena’an en kyk, die jongste is vandag by ons vader, maar die een is nie meer nie.” 14Yosef sê vir hulle: “Dit is soos wat ek vir julle gesê het: julle is spioene! 15Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie weggaan tensy julle jongste broer hierheen kom nie. 16Stuur een van julle dat hy julle broer gaan haal, maar júlle sal in die tronk bly sodat julle woorde getoets kan word, of daar enige waarheid by julle is of nie; anders, so waar as Farao leef, julle is spioene!” 17Daarop het hy hulle almal saam vir drie dae lank in die tronk gehou.

18Op die derde dag sê Yosef vir hulle: “Doen dit en lewe, want ek het respekvolle vrees vir God! 19As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in die tronk is, maar gaan júlle, vat die graan vir die hongersnood van julle huise 20en bring julle jongste broer na my toe sodat julle woorde waar bewys word en julle sal nie sterwe nie. “ Hulle het so gemaak. 21Hulle sê vir mekaar: “Ons is waarlik skuldig vanweë ons broer omdat ons die benoudheid van sy wil, emosie, verstand en lewe gesien het toe hy ons gesmeek het en ons wou nie luister nie; daarom het sy benoudheid oor ons gekom.” 22Re’uven antwoord hulle en sê: “Het ek nie met julle gepraat en gesê: ‘Moenie sondig teen die seun nie,’ maar julle wou nie luister nie? Let op, daarom word sy bloed nou van ons geëis.” 23Hulle het nie geweet dat Yosef hulle verstaan nie, want hy het met hulle deur ’n tolk gepraat. 24Hy het van hulle af weggedraai en gehuil en hy het weer na hulle teruggegaan en met hulle gepraat. Hy het Shim’on onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë vasgebind.

25Yosef het beveel dat hulle sakke vol graan gemaak moet word, elkeen se geld weer in sy sak terug gesit word en dat vir hulle padkos vir die reis saam gegee word. Dit het hy vir hulle gedoen.

26Hulle het die graan op hulle donkies gelaai en weggegaan. 27Toe een van hulle sy sak oopmaak om vir sy donkie voer te gee in die herberg, sien hy sy geld en let op, dit was in die bek van sy sak! 28Hy sê vir sy broers: “My geld is aan my teruggegee en kyk, dit is in my sak!” Hulle emosie, wil en verstand het hul begewe en hulle was bevrees en sê vir mekaar: “Wat is dit wat God aan ons gedoen het?”

29Hulle het by hul vader Ya’akov in die land Kena’an gekom en aan hom alles vertel wat met hulle gebeur het en gesê: 30“Die man wat die meester van die land is, het ons hard aangespreek en ons as spioene teen die land aangesien, 31maar ons het vir hom gesê: ‘Ons is eerlik, ons is nie spioene nie. 32Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is nie meer nie en die jongste is vandag by ons vader in die land Kena’an.’ 33Die man, die meester van die land, het aan ons gesê: ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlik is; laat een van julle broers by my en vat kos vir die hongersnood van julle huise en gaan, 34bring julle jongste broer na my toe; so sal ek weet dat julle nie spioene is nie. As julle eerlik is, sal ek julle broer aan julle teruggee en julle mag in die land handel dryf.’

35Dit het gebeur dat, soos hulle hulle sakke leegmaak, let op, elke man se bondeltjie geld in sy sak was! Toe hulle en hul vader die bondeltjies geld sien, was hulle bevrees. 36Ya’akov, hulle vader, sê vir hulle: “Julle het my kinderloos gemaak. Yosef is nie, Shim’on is nie en Binyamin wil julle wegvat! Al hierdie dinge is teen my!” 37Re’uven praat met sy vader en sê: “Maak my twee seuns dood as ek hom nie na u toe terugbring nie. Vertrou hom toe aan my hande en ék sal hom na u toe terugbring.” 38Hy sê egter: “My seun sal nie saam met julle afgaan nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly. As hy enige iets oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met smart laat afgaan na Sh’ol.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 41
Top of Page
Top of Page