Genesis 40
Afrikaans PWL
1Ná hierdie dinge het dit gebeur dat die hoof skinker en die hoof bakker van die koning van Mitzrayim oortree het teen hulle meester, die koning van Mitzrayim 2en Farao het in woede uitgebars teenoor sy twee hofdienaars, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. 3Hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die bevelvoerder van die lyfwag, in die tronk, die plek waar Yosef aangehou is 4en die bevelvoerder van die lyfwag het Yosef by hulle aangestel om hulle te bedien en hulle was ’n tyd lank in bewaring. 5Die skinker en die bakker van die koning van Mitzrayim, wat gevang en in die tronk gesit is, het altwee, elkeen afsonderlik, ’n droom gehad in dieselfde nag; elkeen ’n droom met sy eie betekenis. 6Yosef het die volgende oggend by hulle ingekom en let op, hy sien dat hulle ontsteld is. 7Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy meester en sê: “Waarom lyk julle gesigte vandag so treurig?” 8Hulle antwoord hom: “Ons het elkeen ’n droom gehad en daar is niemand wat dit kan uitlê nie.” Yosef vra vir hulle: “Behoort uitlegging nie aan God nie? Vertel my asseblief.”

9Die hoof van die skinkers vertel aan Yosef sy droom en sê vir hom: “In my droom was daar ’n wingerdstok voor my 10en aan die wingerdstok was daar drie ranke en dit was asof hy gebot het en sy bloeisel uitgeskiet het en sy trosse het ryp druiwe geword. 11Die beker van Farao was in my hand en ek het die druiwe gevat, dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gesit.” 12Yosef sê vir hom: “Dit is die uitleg daarvan: die drie ranke is drie dae. 13Na drie dae sal Farao jou kop oplig en jou in jou plek herstel en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was. 14Onthou my egter wanneer dit met jou goed gaan en bewys my asseblief ’n guns en praat van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit, 15want waarlik, ek is gesteel uit die land van die Hebreërs en ek het hier ook niks gedoen waarvoor hulle my in die tronk gesit het nie.”

16Toe die voorman van die bakkers sien dat die uitleg gunstig was, sê hy vir Yosef: “Ek het ook in my droom drie mandjies met witbrood op my kop gesien 17en in die boonste mandjie was allerhande gebakte eetgoed vir Farao en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my kop afgepik.” 18Yosef antwoord hom en sê: “Dit is die uitleg daarvan: die drie mandjies is drie dae. 19Na drie dae sal Farao jou kop van jou af weglig en jou aan ’n paal ophang en die voëls sal jou vleis van jou afpik.

20Op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het dit gebeur dat hy ’n maaltyd vir al sy diensknegte voorberei het en die kop van die hoof van die skinkers en die kop van die hoof van die bakkers tussen sy diensknegte opgelig het. 21Hy het die hoof van die skinkers herstel in sy skinkersamp en hy het die beker in die hand van Farao gegee, 22maar die hoof van die bakkers het hy opgehang soos Yosef dit aan hulle uitgelê het. 23Tog het die hoof van die skinkers nie aan Yosef gedink nie, maar hom vergeet.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 39
Top of Page
Top of Page