Genesis 24
Afrikaans PWL
1Avraham was nou oud en ver gevorderd in jare en יהוה het Avraham in alles geseën. 2Toe sê Avraham aan sy dienskneg, die oudste van sy huis, wat geheers het oor al sy goed: “Lê jou hand onder my bobeen 3en ek sal jou laat sweer by יהוה, die God van die hemele en die God van die aarde dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kena’aniete onder wie ek bly nie, 4maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Yitz’gak ’n vrou te vat.” 5Toe sê die dienskneg vir hom: “Miskien sal die vrou nie gewillig wees om my te volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan terugvat na die land waaruit u weggetrek het?” 6Avraham antwoord hom: “Maak seker dat jy my seun nie daarheen terugvat nie. 7יהוה, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggevat het en wat met my gepraat en vir my gesweer het met die woorde: ‘Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee;’ Hy sal Sy engel voor jou uitstuur en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal, 8maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy vry van hierdie eed aan my. Jy moet net nie my seun daarheen terugvat nie.” 9Toe lê die dienskneg sy hand onder die bobeen van Avraham, sy meester en hy het vir hom gesweer aangaande hierdie saak.

10Die dienskneg het tien kamele vanuit die kamele van sy meester gevat en weggegaan. Al die rykdom van sy meester was in sy hand: hy het opgestaan en na Aram-Naharayim (Mesopotamië), na die stad van Nagor, vertrek. 11Hy het teen sonsondergang die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n waterput, op die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep 12en gesê: “ O, יהוה, God van Avraham, my meester, laat ek haar tog vandag ontmoet en bewys guns aan Avraham, my meester. 13Let op, ek staan hier by die fontein en die dogters van die manne van die stad kom uit om water te skep. 14Laat dit nou wees dat die jong vrou aan wie ek sal sê: ‘Laat sak jou kruik sodat ek kan drink’ en sy antwoord: ‘Drink en ek sal ook u kamele laat drink;’ laat sy die een wees wat U aangestel het vir U dienskneg Yitz’gak en daaraan sal ek weet dat U guns aan my meester bewys het.”

15Hy het nog nie klaar gepraat nie, of Rivkah, wat vir B’tu’el, die seun van Milkah, die vrou van Nagor, Avraham se broer, gebore is, kom uit met haar kruik op haar skouer. 16Die jong vrou was baie mooi van aansien, ’n maagd, geen man het ’n intieme verhouding met haar gehad nie en sy het afgegaan na die fontein toe, haar kruik volgemaak en weer opgekom. 17Die dienaar hardloop om haar te ontmoet en sê: “Laat my asseblief ’n bietjie water uit jou kruik drink.” 18Sy antwoord: “Drink, my meester!” Toe laat sy vinnig haar kruik op haar hand afsak en gee vir hom om te drink. 19Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: “Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.” 20Sy het dadelik haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put gehardloop om te skep en vir al sy kamele geskep. 21Die man het haar stil aangekyk om te weet of יהוה sy pad voorspoedig gemaak het of nie.

22Toe die kamele genoeg gedrink het, vat die man ’n goue ring, ’n half sikkel in gewig en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig 23en hy sê: “Wie se dogter is jy? Vertel my asseblief. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te oornag?” 24Sy antwoord hom: “Ek is die dogter van B’tu’el, die seun van Milkah, wat vir Nagor gebore is.” 25Sy sê ook vir hom: “Daar is ook genoeg strooi en voer by ons, asook plek om te oornag.” 26Die man buig sy kop af en gaan lê plat op die grond voor יהוה 27en hy sê: “Geseënd is יהוה, die God van Avraham, my meester, wat Sy omgee en Sy waarheid nie aan my meester teruggehou het nie. Wat my betref, יהוה het my op die pad gelei na die huis van die broer van my meester.”

28Die dogter het gehardloop en hierdie dinge in die huis van haar moeder gaan vertel. 29Rivkah het ’n broer gehad met die naam van Lavan en Lavan het uitgehardloop na die man buite by die fontein. 30Dit het gebeur toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rivkah hoor, naamlik: ‘So het die man met my gepraat,’ dat hy na die man gegaan het terwyl hy nog daar by die kamele by die fontein gestaan het 31en gesê: “Kom in, geseënde van יהוה! Waarom staan jy buitekant? Ek het die huis voorberei en ook plek vir die kamele.” 32Die man het in die huis ingekom; die kamele is afgesaal en strooi en voer gegee en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was. 33Kos is voor hom neergesit om te eet, maar hy het gesê: “Ek sal nie eet voordat ek my saak gestel het nie.” Hy antwoord: “Praat.” 34Hy het gesê: “Ek is die dienskneg van Avraham 35en יהוה het my meester baie geseën sodat hy groot geword het en aan hom kleinvee, beeste, silwer, goud, slawe, slavinne, kamele en esels gegee. 36Sarah, die vrou van my meester, het vir my meester geboorte gegee aan ’n seun nadat sy al oud was en hy het alles aan hom oorgegee wat hy besit. 37My meester het my laat sweer en gesê: ‘Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kena’aniete in wie se land ek bly nie, 38maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my familie en vir my seun ’n vrou gaan haal.’ 39Ek het toe vir my meester gesê: ‘Miskien sal die vrou my nie volg nie,’ 40maar hy het my geantwoord: ‘יהוה, voor Wie ek loop, sal Sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou pad voorspoedig maak sodat jy vir my seun ’n vrou uit my familie en uit die huis van my vader kan gaan haal. 41Jy sal vry wees van die eed aan my as jy by my familie kom en hulle haar nie aan jou wil gee nie; dan is jy vry van die eed aan my.’

42Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: ‘יהוה, God van Avraham, my meester, as U nou my pad waarop ek gaan, voorspoedig wil maak, 43let op, ek staan hier by die fontein. Laat dit nou asseblief gebeur: die maagd wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: ‘Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink’ 44en wat my sal antwoord: ‘Drink u self en ek sal ook vir u kamele skep,’ sy is die vrou wat יהוה vir die seun van my meester aangestel het.’

45Ek het nog nie klaar in my binneste gepraat nie of Rivkah het daar uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgegaan en geskep en ek het vir haar gesê: ‘Laat my asseblief drink!’ 46Sy het dadelik haar kruik laat afsak en gesê: ‘Drink en ek sal u kamele ook laat drink’ en ek het gedrink en sy het ook die kamele laat drink. 47Toe vra ek vir haar en sê: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy antwoord: ‘Die dogter van B’tu’el, die seun van Nagor waaraan Milkah geboorte gegee het.’ Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande 48en ek het my neergebuig en voor יהוה plat gaan lê en יהוה, die God van Avraham, my meester, geloof, wat my op die regte pad gelei het om die dogter van my meester se broer vir sy seun te gaan haal. 49As julle nou omgee en waarheid aan my meester wil bewys, sê dit vir my of so nie, sê dít vir my sodat ek regs of links kan draai.”

50Toe antwoord Lavan en B’tu’el en sê: “Hierdie saak kom vanuit יהוה. Ons kan niks kwaad of goed daarvan sê nie. 51Let op, Rivkah staan voor jou, vat haar en gaan sodat sy ’n vrou kan wees vir die seun van jou meester, soos יהוה gesê het.”

52Toe die dienskneg van Avraham hulle woorde hoor, het hy self voor יהוה gaan plat lê. 53Daarna het die dienskneg artikels van silwer en van goud en klere uitgehaal en dit vir Rivkah gegee, asook kosbare geskenke aan haar broer en haar moeder. 54Hulle het geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was en die nag oorgebly. Hy het die oggend vroeg opgestaan en gesê: “Stuur my weg na my meester!” 55Haar broer en haar moeder sê: “Laat die dogter ’n dag of tien by ons bly; daarna kan jy weggaan.” 56Hy antwoord hulle: “Moet my nie ophou nie, aangesien יהוה my pad voorspoedig gemaak het; laat my gaan sodat ek na my meester kan gaan.” 57Toe sê hulle: “Laat ons die dogter roep en haar self vra.” 58Hulle het Rivkah geroep en haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?” Sy antwoord: “Ja.” 59Hulle het Rivkah, hulle suster en haar versorger saam met Avraham se dienskneg en sy manne weggestuur.

60Hulle het Rivkah geseën en vir haar gesê: “Ons suster, mag jy die moeder van duisende van tien duisende word en mag jou nageslag die poorte van dié wat hulle haat in besit neem!”

61Rivkah en haar diensmeisies het opgestaan en op die kamele weggery en die man gevolg. So het die dienskneg Rivkah saamgevat en weggegaan.

62Yitz’gak het uit die rigting van Be’er-Lagai-Ro’i gekom, want hy het in die Negev gaan bly. 63Yitz’gak het teen sonsondergang in die veld uitgegaan om te oordink en hy het sy oë opgeslaan en let op, daar kom kamele. 64Rivkah het ook haar oë opgeslaan en Yitz’gak gesien en van haar kameel afgegly, 65want sy het aan haar dienskneg gevra: “Watter man is dit wat ons in die veld tegemoet loop?” Die dienskneg antwoord: “Dit is my meester.” Toe neem sy ’n sluier en maak haarself toe. 66Die dienskneg het vir Yitz’gak alles vertel wat hy gedoen het. 67Yitz’gak het haar in die tent van sy moeder, Sarah, ingebring en Rivkah gevat en sy het sy vrou geword en hy het haar liefgehad. Só is Yitz’gak vertroos ná die dood van sy moeder.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 23
Top of Page
Top of Page