Genesis 13
Afrikaans PWL
1Avram het uit Mitzrayim na die Negev opgetrek; hy, met sy vrou en al sy besittings en Lot saam met hom.

2Avram was baie ryk aan vee, silwer en goud. 3Hy het van plek tot plek vanuit die Negev deurgetrek tot by Beit-El, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Beit-El en `Ai, 4na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het en Avram het daar die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה aangeroep. 5Lot, wat saam met Avram getrek het, het ook groot troppe kleinvee, beeste en tente gehad 6en die land kon hulle nie dra om saam te bly nie, want hulle besittings was baie sodat hulle nie saam kon bly nie. 7Daar was ’n geskil tussen Avram en Lot se veewagters en verder het die Kena’aniete en P’risiete toe ook in die land gebly.

8Toe sê Avram vir Lot: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is tog broers. 9Lê die hele land nie voor jou nie? Skei jou nou van my af; as jy links gaan, dan sal ek regs gaan en as jy regs gaan, dan sal ek links gaan.”

10Lot slaan sy oë op en sien dat die hele Yardenvallei oral baie water het. Voordat יהוה S’dom en `Amorra verwoes het, was dit soos die tuin van יהוה, soos Mitzrayim in die rigting van Tzo’ar. 11Lot het vir hom die hele Yardenstreek gekies en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan van mekaar geskei. 12Avram het aangehou bly in die land Kena’an en Lot het gaan woon in die stede van die Yardenstreek en sy tente tot sover as by S’dom opgeslaan. 13Die manne van S’dom was uitermate boos en sondig voor יהוה.

14Nadat Lot van hom geskei het, sê יהוה vir Avram: “Lig nou jou oë op en kyk vanaf die plek waar jy staan na die noorde, die suide, die ooste en die weste, 15want al die land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid 16en Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde sodat as iemand die stof van die aarde kon tel, jou nageslag ook getel kon word. 17Staan op, gaan die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.” 18Toe het Avram sy tente geskuif en gaan bly by die Eikebome van Mamre, wat by Hevron is en hy het daar vir יהוה ’n altaar gebou.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 12
Top of Page
Top of Page