Esegiël 37
Afrikaans PWL
1Die hand van יהוה was op my en Hy het my uitgebring deur die Gees van יהוה en my neergesit in die middel van die vallei en dit was vol bene. 2Hy het my by hulle laat verbygaan reg rondom; ’n groot menigte oor die oppervlakte van die vallei en let op, hulle was baie droog. 3Hy het vir my gesê: “Seun van ’n mens, kan hierdie bene lewe?” Ek het geantwoord: “יהוה-God, U weet.” 4Weer sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: ‘Droë bene, hoor en luister na die woord van יהוה!’ 5So sê יהוה-God vir hierdie bene: “Let op, Ek sal asem in julle laat ingaan sodat julle lewendig kan word. 6Ek sal senings aan julle sit, vlees oor julle laat teruggroei, julle oordek met vel en asem in julle gee sodat julle lewendig kan word en julle sal weet dat Ek יהוה is.’”

7Ek het profeteer soos ek beveel is en soos ek profeteer, was daar ’n geluid en let op, ’n geratel; die bene het bymekaargekom, been by sy been. 8Ek het gekyk en let op, daar was senings aan hulle, vlees het gegroei en ’n vel het hulle bedek, maar daar was geen gees in hulle nie. 9Toe sê Hy vir my: “Profeteer tot die asem, profeteer, seun van ’n mens en sê vir die asem: ‘So sê יהוה-God: “Kom vanuit die vier windstreke, o asem en blaas in hierdie dooies in sodat hulle lewendig kan word.”’” 10Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het en die gees het in hulle ingekom en hulle het lewendig geword en op hulle voete gestaan; ’n uitermate groot leër!

11Toe sê Hy vir my: “Seun van ’n mens, hierdie bene is die hele huis van Yisra’el; let op, hulle sê: ‘Ons bene is verdroog en ons verwagting het vergaan. Ons is volledig afgesny!’ 12Profeteer daarom en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, My volk; Ek sal julle in die land van Yisra’el bring, 13dan sal julle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek julle grafte oopgemaak het en julle uit jul grafte laat opkom het, My volk! 14Ek sal My Gees in julle plaas en julle sal lewe en Ek sal julle in jul eie land sit; dan sal julle weet dat Ek, יהוה, gepraat en dit gedoen het,” verklaar יהוה. ’”

15Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê: 16“Jy, seun van ’n mens, vat vir jouself een stok en skryf daarop: ‘Vir Y’hudah en vir die seuns van Yisra’el, sy bondgenote;’ vat dan ’n ander stok en skryf daarop: ‘Vir Yosef, die stok van Efrayim en die hele huis van Yisra’el, sy bondgenote.’ 17Sit hulle vir jouself bymekaar, die een by die ander, in een stok sodat hulle een kan word in jou hand. 18Wanneer die seuns van jou volk met jou praat en sê: ‘Wil jy nie vir ons verklaar wat jy met hierdie dinge bedoel nie?’ 19Sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek sal die stok van Yosef vat, wat in die hand van Efrayim is en die stamme van Yisra’el, sy bondgenote en Ek sal hulle by hom sit, by die stok van Y’hudah en hulle een stok maak en hulle sal een word in My hand.’” 20Die stokke waarop jy skryf moet in jou hand, voor hulle oë, wees. 21Sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek sal die seuns van Yisra’el uithaal van tussen die nasies waarheen hulle gegaan het en Ek sal hulle van alle kante af bymekaarmaak en hulle in hul eie land bring 22en Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Yisra’el en een Koning sal vir hulle almal Koning wees en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en nie verder in twee koninkryke verdeeld wees nie. 23Hulle sal hulself nie meer onrein maak met hulle afgode of met hulle verwerplike dinge of met enige van hulle oortredinge nie, maar Ek sal hulle bevry uit al hulle blyplekke waarin hulle gesondig het en sal hulle reinig. Hulle sal My volk wees en Ek sal hulle God wees.

24My Dienskneg Dawid sal Koning oor hulle wees, hulle sal almal een Herder hê en hulle sal in My wette loop en My instellings onderhou en hulle gehoorsaam. 25Hulle sal woon in die land wat Ek vir Ya’akov, My dienskneg, gegee het, waar julle vaders gewoon het en húlle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en hulle kindskinders vir ewig en Dawid, My Dienskneg sal hulle Prins wees vir ewig. 26Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit; dit sal ’n ewige verbond met hulle wees en Ek sal hulle vermenigvuldig en Ek sal My Afgesonderde Plek in hulle midde opstel vir ewig. 27My blyplek sal ook by hulle wees en Ek sal hulle God wees en hulle sal My volk wees 28en die nasies sal weet dat Ek יהוה is wat Yisra’el afsonder, wanneer My Afgesonderde Plek vir ewig in hulle midde sal wees.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 36
Top of Page
Top of Page