Esegiël 34
Afrikaans PWL
1Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 2“Seun van ’n mens, profeteer teen die herders van Yisra’el. Profeteer en sê vir daardie herders: ‘So sê יהוה-God: “Wee die herders van Yisra’el wat hulleself gevoed het! Moet die herders nie die skape voer nie? 3Julle eet die vet en trek julle aan met die wol; julle slag die vettes, sonder om die trop te voed. 4Die wat sieklik is, het julle nie versterk nie en die siekes nie gesond gemaak nie, die gebrokenes nie opgebind, die verstrooides nie teruggebring nie en ook nie gaan soek na die wat verlore is nie, maar met mag en met strengheid het julle hulle gedomineer. 5Hulle is verstrooi omdat daar geen herder was nie en hulle het kos geword vir al die wilde diere van die veld en is verstrooi. 6My skape het rondgedwaal op al die berge en op elke hoë heuwel; My trop is verstrooi oor die hele oppervlak van die aarde en daar was niemand om te soek of te vra na hulle nie;”’”

7daarom, julle herders, hoor en doen die woord van יהוה: 8“So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “omdat My skape ’n prooi geword het, selfs kos vir al die wilde diere van die veld, weens die gebrek aan ’n herder en My herders nie na My skape gesoek het nie, maar die herders hulleself gevoed en nie My skape gevoed het nie, 9hoor en luister julle herders daarom na die woord van יהוה: 10‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen die herders en Ek sal My skape van hulle af eis en hulle laat ophou om skape te voed. Die herders sal hulleself nie meer voed nie, maar Ek sal My skape uit hulle mond bevry sodat dit nie vir hulle as kos sal wees nie,”’”

11want so sê יהוה-God: “Let op, Ek sal self soek na My skape en hulle opsoek. 12Soos ’n herder vir sy trop skape sorg op die dag wanneer hy tussen sy verstrooide skape is, so sal Ek vir My skape op ’n bewolkte en donker dag sorg en hulle bevry uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is. 13Ek sal hulle uitbring uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land en Ek sal hulle voed op die berge van Yisra’el, by die strome en in al die bewoonde plekke van die land. 14Ek sal hulle in ’n goeie weiveld voed en hulle weiplek sal op die berghoogtes van Yisra’el wees. Daar sal hulle lê op goeie weiplek en eet in ryk weivelde op die berge van Yisra’el. 15Ek sal self My skape voed en Ek sal hulle laat rus,” verklaar יהוה-God. 16Ek sal die wat verlore is soek, die verstrooides terugbring, die beseerdes verbind en die siekes versterk; Ek sal die vettes en die sterkes beskerm en Ek sal hulle voer met regverdige oordeel.

17Wat julle betref, My skape, so sê יהוה-God, ‘let op, Ek sal oordeel tussen een skaap en ’n ander, tussen ramme en bokramme. 18Is dit vir julle, o herders, nie genoeg dat julle in die goeie weiveld wei nie, dat julle die res van jul weiveld met jul pote moet vertrap? Of, nadat julle van die helder water gedrink het, moet julle dit wat oor is met jul pote vertroebel? 19Moet My skape eet wat julle met jul pote vertrap het en drink wat julle met jul pote vertroebel het?’”

20יהוה-God sê daarom vir hulle: “Let op, Ek, ja Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape. 21Omdat hulle met sye en skouers stoot en met hulle horings na al die swakkes stamp totdat hulle hul na buite verstrooi het, 22sal Ek My skape bevry en hulle sal nie langer ’n prooi wees nie en Ek sal oordeel tussen een skaap en ’n ander,

23dan sal Ek een Herder oor hulle aanstel, My Dienskneg Dawid en hy sal hulle voed; Hy sal hulle self voed en hulle Herder wees. 24Ek, יהוה, sal hulle God wees en My Kneg, Dawid, sal ’n Prins onder hulle wees; Ek, יהוה, het gepraat.

25Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die skadelike diere uit die land uitskakel sodat hulle veilig in die wildernis kan bly en slaap in die woude. 26Ek sal hulle en die plekke rondom My heuwel ’n seën maak en Ek sal stortreëns laat afkom in sy seisoen; dit sal stortreëns van seën wees. 27Die bome van die veld sal ook hulle vrugte gee en die grond sy opbrengs en hulle sal veilig wees in hul land, dan sal hulle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek die skeie van hulle juk stukkend gebreek en hulle bevry het uit die hand van die wat hulle slawe gemaak het. 28Hulle sal nie langer ’n prooi vir die nasies wees nie en die diere van die aarde sal hulle nie verslind nie, maar hulle sal veilig bly en niemand sal hulle bang maak nie. 29Ek sal vir hulle ’n plantasie van vrede oprig en hulle sal nie weer slagoffers wees van hongersnood in die land nie en hulle sal nie meer die beledigings van die nasies hoef te verdra nie, 30dan sal hulle weet dat Ek, יהוה, hulle God, by hulle is en dat hulle, die huis van Yisra’el, My volk is,” verklaar יהוה-God. 31Wat julle betref, My skape, die skape van My weiveld; julle is mense en Ek is julle God,” verklaar יהוה-God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 33
Top of Page
Top of Page