Esegiël 33
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 2“Seun van ’n mens, praat met die seuns van jou volk en sê vir hulle: ‘As Ek ’n swaard oor ’n land bring en die mense van die land neem een man vanuit hulle midde en maak hom hulle wag 3en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas op die ramshoring en waarsku die mense; 4dan sal hy wat die geluid van die ramshoring hoor, maar hom nie laat waarsku nie en ’n swaard kom en hom wegvat, se bloed op sy eie kop wees. 5Hy het die geluid van die ramshoring gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie; sy bloed sal op homself wees, maar as hy hom laat waarsku het, sou hy sy lewe gered het. 6As die wag egter die swaard sien kom en nie die ramshoring blaas nie, die mense nie gewaarsku word nie en ’n swaard kom en vat ’n persoon vanuit hulle weg, word hy gevat deur sy oortredinge, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag opeis.’

7Wat jou betref, seun van ’n mens, Ek het jou as wag oor die huis van Yisra’el aangestel; jy sal ’n boodskap uit My mond hoor en hulle namens My waarsku. 8Wanneer Ek aan die bose sê: ‘O bose man, jy sal sekerlik sterf,’ en jy praat nie om die bose oor sy pad te waarsku nie, dan sal daardie bose man deur sy oortredinge sterf, maar sy bloed sal Ek van jou hand opeis. 9As jy egter van jou kant die bose man waarsku om van sy pad af weg te draai en hy draai nie weg van sy pad nie, dan sal hy deur sy oortredinge sterf, maar jy het jou lewe gered.

10Nou, wat jou betref, seun van ’n mens, sê vir die huis van Yisra’el: ‘So het julle gepraat en gesê: “Ons oortredinge en ons sondes is op ons en ons verrot in hulle; hoe kan ons oorlewe?”’ 11Sê vir hulle: ‘So waar as Ek leef,’ verklaar יהוה-God, ‘Ek het geen behae in die dood van die bose nie, maar eerder dat die bose wegdraai van sy lewenswyse en leef. Draai terug, draai terug van julle bose lewenswyses! Waarom wil julle dan sterf, o huis van Yisra’el?’ 12Jy, seun van ’n mens, sê aan jou mede-burgers: ‘Die onpartydige opregtheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie en wat die boosheid van die bose betref, hy sal nie daardeur struikel op die dag wanneer hy hom van sy boosheid af wegdraai nie; soos die regverdige nie sal kan leef deur sy onpartydige opregtheid op die dag as hy sondig nie.’ 13As Ek vir die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe en hy vertrou op sy onpartydige opregtheid en doen onreg, sal geen van sy dade van onpartydige opregtheid onthou word nie, maar deur daardie selfde onreg wat hy gepleeg het, sal hy sterf. 14As Ek egter aan die bose sê: ‘Jy sal sekerlik sterf,’ en hy draai weg van sy sonde en handel regverdig, onpartydig opreg, 15as die goddelose ’n pand teruggee, vergoed wat hy deur roof gevat het, leef in die instellings wat lewe verseker sonder om oortredinge te begaan, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterf nie. 16Nie een van sy sondes wat hy gedoen het, sal teen hom onthou word nie. Hy het regverdigheid, onpartydige opregtheid gedoen; hy sal sekerlik lewe.

17Nogtans sê jou mede-burgers: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie,’ wanneer dit hulle eie pad is wat nie reg is nie. 18As die regverdige wegdraai van sy onpartydige opregtheid en onregverdigheid doen, dan sal hy daarin sterf. 19As die bose egter wegdraai van sy boosheid en regverdigheid, onpartydige opregtheid doen, dan sal hy deur hulle lewe. 20Nogtans sê julle: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie.’ O huis van Yisra’el, Ek sal elkeen van julle oordeel volgens sy lewenswyse!”

21In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het die vlugtelinge uit Yerushalayim na my toe gekom en gesê: “Die stad is ingeneem!” 22Die hand van יהוה was op my in die aand, voordat die vlugtelinge gekom het en Hy het my mond oopgemaak op die tyd dat hulle in die oggend na my toe gekom het. My mond is dus oopgemaak en ek was nie meer stom nie.

23Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 24“Seun van ’n mens, hulle wat in hierdie puinhope in die land van Yisra’el bly, sê: ‘Avraham was een, tog het hy die land besit; aan ons wat baie is, is dus die land as besitting gegee!’ 25Sê daarom vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Julle eet vleis met die bloed in en lig julle oë op na jul afgode terwyl julle bloed vergiet; moet julle dan die land besit? 26Julle steun op jul swaard, julle doen verwerplikhede en elkeen van julle onteer die vrou van sy naaste; moet julle dan die land besit?’” 27So moet jy vir hulle sê: ‘So sê יהוה-God: “So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal sekerlik deur die swaard val en wie ook al op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word en die wat in die vestings en in die grotte is, sal deur die pes sterf. 28Ek sal die land ’n verlatenheid en ’n puinhoop maak en die trots van haar krag sal ophou en die berge van Yisra’el sal verlate wees sodat niemand sal deurgaan nie, 29dan sal hulle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek die land ’n verlatenheid en ’n puinhoop maak as gevolg van al hul verwerplikhede wat hulle gedoen het.’”

30Wat jou betref, seun van ’n mens, jou mede-burgers wat oor jou praat langs die mure en in die deure van die huise, hulle praat met mekaar, elkeen met sy broer en sê: ‘Kom nou en hoor wat die boodskap is wat van יהוה af uitgaan.’ 31Hulle kom na jou toe soos mense kom en sit voor jou as My volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie, want hulle doen die wellustige begeertes van hulle mond en hulle verstand, wil en emosie gaan agter hulle winste aan. 32Let op, jy is vir hulle soos ’n sensuele lied deur een wat ’n mooi stem het en goed speel op ’n instrument, want hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie. 33So wanneer dit gebeur; soos dit sekerlik sal; dan sal hulle weet dat ’n profeet tussen hulle was.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 32
Top of Page
Top of Page