Esegiël 20
Afrikaans PWL
1In die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het sekere van die oudstes van Yisra’el gekom om יהוה te raadpleeg en hulle het voor my gesit. 2Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 3“Seun van ’n mens, praat met die oudstes van Yisra’el en sê vir hulle: ‘So sê יהוהGod: “Kom julle om My te raadpleeg? So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal My nie laat raadpleeg deur julle nie.”’ 4Sal jy hulle oordeel, sal jy hulle oordeel, seun van ’n mens? Laat hulle die verwerplikhede van hulle vaders ken 5en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Op die dag toe Ek Yisra’el gekies het en tot die nageslag van die huis van Ya’akov gesweer het en My aan hulle bekend gemaak het in die land van Mitzrayim; toe Ek vir hulle gesweer en gesê het: Ek is יהוה, julle God, 6op dié dag het Ek vir hulle gesweer, om hulle uit die land van Mitzrayim uit te bring na ’n land wat Ek vir hulle gekies het, wat vloei met melk en heuning, die lof en eer van alle lande. 7Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg, elkeen van julle, die verfoeilike dinge van voor sy oë en moet julle nie onteer met die afgode van Mitzrayim nie; Ek is יהוה, julle God.’ 8Hulle het egter teen My rebelleer en was nie gewillig om na My te luister en te doen nie; hulle het nie die verwerplike dinge van voor hulle oë weggegooi of die afgode van Mitzrayim laat staan nie. Toe het Ek vas besluit om My toorn oor hulle uit te giet, om My toorn teen hulle te laat uitwoed in die land van Mitzrayim, 9maar Ek het gehandel ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) sodat dit nie onteer sou word in die oë van die nasies onder wie hulle was nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Mitzrayim uit te bring. 10Ek het hulle uit Mitzrayim uitgevat en hulle in die woestyn ingebring. 11Ek het vir hulle My instellings gegee en hulle ingelig oor My wette, waarby, as die mens hulle gehoorsaam, hy sal leef. 12Ek het ook vir hulle My Shabbatte gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle sodat hulle kan weet dat Ek יהוה is wat hulle afsonder, 13maar die huis van Yisra’el het teen My rebelleer in die wildernis. Hulle het nie in My instellings geloop nie en hulle het My wette verwerp, waardeur, as ’n mens hulle doen, hy sal leef en My Shabbatte het hulle grootliks onteer. Toe het Ek vas besluit om My toorn in die wildernis oor hulle uit te giet om hulle uit te wis. 14Ek het egter opgetree ter wille van My Naam sodat dit nie onteer sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgebring het nie. 15Ek het in die wildernis ook tot hulle gesweer dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek vir hulle gegee het, wat vloei met melk en heuning, wat die lof en eer van al die lande is, nie 16omdat hulle My wette verwerp het en nie in My instellings geloop het nie; hulle het selfs My Shabbatte onteer, want hulle verstand, wil en emosie het aanhoudend agter hul afgode aangeloop. 17Nogtans het My oog hulle gespaar eerder as om hulle te vernietig en Ek het nie hulle uitwissing in die wildernis veroorsaak nie.

18Ek het vir hulle seuns in die wildernis gesê: ‘Moenie in die instellings van julle vaders loop of hulle voorskrifte hou nie of julleself met hulle afgode onteer nie.

19Ek is יהוה, julle God; loop in My instellings en hou My voorskrifte en doen hulle. 20Sonder My Shabbatte af en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle dat julle kan weet dat Ek יהוה, julle God, is.’ 21Die seuns het egter teen My rebelleer: hulle het nie in My instellings geloop en was nie versigtig om My voorskrifte na te kom nie, waardeur, as ’n mens hulle hou, hy sal lewe. Hulle het My Shabbatte onteer, dus het Ek vas besluit om My toorn teen hulle uit te stort, om My toorn in die wildernis teen hulle te laat uitwoed, 22maar Ek het My hand teruggetrek en opgetree ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) sodat dit nie onteer sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgebring het nie. 23Ek het ook vir hulle gesweer in die wildernis dat Ek hulle sal verstrooi onder die nasies en hulle sal versprei onder die lande 24omdat hulle nie My voorskrifte nagekom het nie, maar My instellings verwerp het en My Shabbatte onteer het en hulle oë was op die afgode van hulle vaders; 25daarom het Ek ook vir hulle instellings gegee oor wat nie goed was nie en voorskrifte oor dit waarvolgens hulle nie moet lewe nie 26en Ek het dat hulle hulself onrein maak deur hulle geskenke, toe hulle al hul eersgeborenes deur die vuur geoffer het sodat Ek hulle kon vernietig en hulle kon weet dat Ek יהוה is.’”

27Seun van ’n mens, praat daarom met die huis van Yisra’el en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Tog het julle vaders op hierdie presiese manier sleg gepraat van My deur troueloos teen My op te tree. 28Toe Ek hulle in die land ingebring het wat Ek gesweer het om vir hulle te gee, het hulle elke hoë heuwel en elke blaarryke boom gesien en hulle het daar hulle offers geoffer en daar die uitdaging van hulle offers aangebied. Daar het hul ook hulle kalmerende aromas gebring en daar het hul hul drankoffers uitgegiet. 29Toe het Ek vir hulle gesê: ‘Wat is die hoë plek waarheen julle gaan?’ Dit word “Bamah” (hoë plek) genoem tot vandag toe;’” 30daarom, sê vir die huis van Yisra’el: ‘So sê יהוה-God: “Sal julle julself onteer op die manier van julle vaders en hoereer agter hulle verwerplikhede aan? 31Wanneer julle jul gawes offer, wanneer julle jul seuns deur die vuur laat gaan, ontreinig julle julself deur al julle afgode tot vandag toe. Sal ek My laat raadpleeg deur julle, o huis van Yisra’el? So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie! 32Wat in julle gedagtes opkom sal nie gebeur nie, wanneer julle sê: ‘Ons sal soos die nasies wees, soos die stamme van die lande, deur hout en klip te dien.’

33So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal sekerlik met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en met toorn uitgestort, oor julle Koning wees. 34Ek sal julle uitbring vanuit die volke en julle versamel vanuit die lande waar julle verstrooi is, met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en deur uitgestorte toorn 35en Ek sal julle bring in die wildernis van die volke en daar sal Ek van gesig tot gesig met julle in die oordeel tree. 36Soos wat Ek met julle vaders in die wildernis van Mitzrayim in die oordeel getree het, so sal Ek met julle in die oordeel tree,” verklaar יהוה-God. 37Ek sal julle onder My staf onderwerp en julle bring in die dissipline van die verbond. 38Ek sal die rebelle en die wat teen My oortree onder julle uitsuiwer; Ek sal hulle uit die land waar hulle as besoeker bly uitbring, maar hulle sal nie in die land van Yisra’el ingaan nie. So sal julle weet dat Ek יהוה is.

39Wat julle betref, o huis van Yisra’el,” so sê יהוה-God: “Gaan, dien elkeen sy afgode, maar later sal julle sekerlik na My luister en My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) nie langer onteer met julle gawes en julle afgode nie, 40want op My afgesonderde berg, op die hoë berg van Yisra’el,” verklaar יהוה-God, “daar sal die hele huis van Yisra’el, almal van hulle, My dien in die land; daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle bydraes en die keur van julle gawes soek, saam met al julle afgesonderde dinge. 41Ek sal jou aanvaar as ’n strelende aroma wanneer Ek julle uit die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waar julle verstrooi is en Ek sal Myself as afgesonderd tussen julle bewys voor die oë van die nasies 42en julle sal weet dat Ek יהוה is wanneer Ek julle in die land van Yisra’el bring, in die land wat Ek gesweer het om aan julle vaders te gee. 43Daar sal julle al jul lewenswyses en al julle dade waarmee julle jul verontreinig het onthou en julle sal julself verafsku in julle eie oë vir al die bose dinge wat julle gedoen het. 44Dan sal julle weet dat Ek יהוה is as Ek met julle gehandel het ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) en nie volgens julle bose lewenswyses of julle korrupte dade nie, o huis van Yisra’el,” verklaar יהוה-God.

45Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 46“Seun van ’n mens, draai jou gesig na Teman (regs na die suide) en praat teen Darom (suide) en profeteer teen die woude van die suide 47en sê vir die woude van die suide: ‘Luister na die woord van יהוה: So sê יהוה-God: “Let op, Ek gaan ’n vuur in jou aan die brand steek wat elke groen boom in jou en elke droë boom sal verteer; die gloeiende vlam sal nie uitgeblus word nie en die hele oppervlakte, van die suide af tot by die noorde, sal daardeur verbrand word. 48Alle vlees sal sien dat Ek, יהוה, dit aangesteek het; dit sal nie uitgeblus word nie.’”” 49Toe het ek gesê: “Ag, יהוה-God! Hulle sal vir my sê: ‘Jy praat in vergelykende stories.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 19
Top of Page
Top of Page