Eksodus 8
Afrikaans PWL
1יהוה het toe met Moshe gepraat: “Gaan na Farao en sê vir hom: So sê יהוה: ‘Laat My volk gaan sodat hulle My kan dien 2en as jy weier om hulle te laat gaan, let op, Ek sal jou hele gebied met paddas straf. 3Die rivier (Nyl) sal van paddas wemel en hulle sal opklim en in jou huis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in die huis van jou diensknegte, onder jou volk, in jou bakoonde en in jou bakskottels 4en die paddas sal teen jou, teen jou volk en teen al jou diensknegte opspring.’” 5יהוה het ook vir Moshe gesê: “Sê vir Aharon: Steek jou hand met jou staf oor die strome en oor die riviere en oor die waterpoele uit en laat die paddas opkom oor die land van Mitzrayim.” 6Aharon het sy hand oor die waters van Mitzrayim uitgesteek en die paddas het opgekom en die land van Mitzrayim oordek 7en die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Mitzrayim.

8Toe het Farao Moshe en Aharon laat roep en gesê: “Tree in by יהוה sodat Hy die paddas van my en van my volk af sal wegvat en ek sal die volk laat gaan sodat hulle aan יהוה kan offer.” 9Moshe sê vir Farao: “U het die eer bo my om vir my te sê watter tyd moet ek vir u en u diensknegte en vir u volk intree sodat die paddas van u en vanuit u huise uitgeroei word om net in die rivier oor te bly?”

10Hy antwoord: “Teen môre.” Toe sê hy: “Dit sal wees volgens u woord sodat u kan verstaan dat daar niemand is soos יהוה, ons God, nie. 11Die paddas sal u, u huise, u diensknegte en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.” 12Moshe en Aharon het van Farao af weggegaan en Moshe het tot יהוה geroep aangaande die paddas wat Hy oor Farao gebring het. 13יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: die paddas het doodgegaan uit die huise, van die voorhowe af en uit die veld 14en hulle het dit in hope bymekaargemaak en die land het gestink. 15Toe Farao egter sien dat daar verligting is, het hy sy wil, emosie en verstand verhard en nie na hulle geluister nie, soos יהוה gesê het.

16יהוה sê vir Moshe: “Sê aan Aharon: steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde sodat dit muggies word oor die hele land van Mitzrayim.” 17Hulle het so gedoen: Aharon het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan en daar het muggies gekom op die mense en op diere. Al die stof van die aarde het muggies geword in die hele land van Mitzrayim. 18Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle geheime kunste om muggies voort te bring, maar hulle kon nie en die muggies was op die mense en op die diere. 19Toe sê die towenaars vir Farao: “Dit is die vinger van God!” Farao se wil, emosie en verstand was egter onveranderlik sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos יהוה gesê het.

20יהוה sê vir Moshe: “Staan môre vroeg op en staan voor Farao wanneer hy na die water toe uitgaan en sê vir hom: so sê יהוה: ‘Laat My volk gaan sodat hulle My kan dien, 21of anders, as jy My volk nie laat gaan nie, let op, Ek sal swerms vlieë teen jou, teen jou diensknegte, teen jou volk en teen jou huise laat kom sodat die huise van die Mitzrayiete vol vlieë sal wees en selfs die grond waarop hulle staan. 22Op dié dag sal Ek die land Goshen, waarin My volk woon, afsonder sodat daar geen swerm vlieë sal wees nie sodat jy kan weet dat Ek, יהוה, in die wêreld is. 23Ek het ’n skeiding gestel tussen My volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.’” 24יהוה het so gedoen: dik swerms vlieë het in die huis van Farao, in die huis van sy diensknegte en in die hele land van Mitzrayim gekom; die land het verval as gevolg van die swerms vlieë.

25Farao laat Moshe en Aharon roep en sê: “Gaan, offer aan julle God in die land.” 26Moshe antwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want ons offer aan יהוה, ons God, wat vir die Mitzrayiete ’n gruwel is. As ons dit wat ’n gruwel is vir die Mitzrayiete voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie? 27Ons sal drie dagreise ver die wildernis ingaan sodat ons aan יהוה, ons God, kan offer soos Hy ons beveel.” 28Farao het gesê: “Ek sal julle laat gaan sodat julle aan יהוה, julle God, kan offer in die wildernis; julle moet net nie te ver weggaan nie. Tree in vir my.” 29Moshe antwoord: “Let op, ek gaan van u af weg en sal intree by יהוה sodat die swerms vlieë Farao, sy diensknegte en sy volk môre mag verlaat. Laat Farao net nie langer bedrieglik optree deur die volk nie te laat gaan om aan יהוה te offer nie.”

30Moshe het van Farao af weggegaan en by יהוה ingetree. 31יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: Hy het die swerms vlieë van Farao, van sy diensknegte en sy volk weggevat. Daar het nie een oorgebly nie. 32Farao het sy wil, emosie en verstand ook hierdie keer verhard en die volk nie laat gaan nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 7
Top of Page
Top of Page