Eksodus 7
Afrikaans PWL
1יהוה het aan Moshe gesê: “Kyk, Ek het jou soos God vir Farao gemaak en jou broer Aharon sal jou profeet wees. 2Jy moet alles sê wat Ek jou beveel en jou broer Aharon moet met Farao praat om die seuns van Yisra’el uit sy land uit te laat gaan. 3Ék sal Farao se wil, emosie en verstand verhard sodat Ek My tekens en wonderwerke in die land van Mitzrayim kan vermenigvuldig. 4Wanneer Farao nie na julle luister nie, dan sal Ek My hand lê op Mitzrayim en My leërmag, My volk, die seuns van Yisra’el, deur groot oordele uitbring uit die land van Mitzrayim. 5Die Mitzrayiete sal weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek My hand oor Mitzrayim uitsteek en die seuns van Yisra’el van tussen hulle af uitbring.” 6Moshe en Aharon het gedoen soos יהוה hulle beveel het; so het hulle gedoen. 7Moshe was tagtig jaar en Aharon drie en tagtig jaar oud toe hulle met Farao gepraat het.

8יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 9“Wanneer Farao met julle praat en sê: Wys ’n teken vir julleself; dan moet jy vir Aharon sê: ‘Vat jou staf en gooi dit voor Farao neer en laat dit ’n slang word’.” 10Moshe en Aharon het ingegaan na Farao toe en gedoen presies soos יהוה hulle beveel het: Aharon het sy staf voor Farao en voor sy diensknegte neergegooi en dit het ’n slang geword. 11Farao het óók die wyse manne en die towenaars geroep en hulle, die Mitzrayitiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle geheime kunste, 12want elkeen het sy staf neergegooi en dit het slange geword, maar Aharon se staf het hulle stawwe ingesluk. 13Farao se wil, emosie en verstand was onveranderlik en hy het nie na hulle geluister nie, soos יהוה gesê het.

14יהוה sê vir Moshe: “Farao se wil, emosie en verstand is hard, hy weier om die volk te laat gaan. 15Gaan môre vroeg na Farao wanneer hy uitgaan na die water toe en staan aan die kant van die rivier om hom te ontmoet en die staf wat in ’n slang verander het, moet in jou hand wees 16en sê vir hom: “יהוה, die God van die Hebreërs, het my na u toe gestuur en gesê: ‘Laat My volk gaan dat hulle My kan dien in die wildernis,’ maar let op, u het tot nou toe nie geluister nie en 17יהוהsê daarom só: ‘Hieraan sal jy weet dat Ek יהוה is.’ Let op, ek sal met die staf wat in my hand is die water slaan wat in die rivier is en dit sal in bloed verander word. 18Die visse in die rivier sal doodgaan sodat die rivier sal stink en die Mitzrayiete sal walg om die water uit die rivier te drink.” 19יהוה het met Moshe gepraat: “Sê vir Aharon: ‘Vat jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Mitzrayiete, oor hulle strome, hulle riviere, hulle waterpoele en oor al hulle waterliggame sodat dit bloed word.’ Daar sal bloed in die hele land van Mitzrayim wees; in hout- en in klipbakke.”

20Moshe en Aharon het dit so gedoen, soos יהוה beveel het; hy het die staf opgelig en die water wat in die rivier was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy diensknegte en al die water in die rivier is in bloed verander. 21Die visse wat in die rivier was, het doodgegaan en die rivier het gestink sodat die Mitzrayiete nie die water uit die rivier kon drink nie en daar was bloed oor die hele land van Mitzrayim. 22Die Mitzrayitiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle geheime kunste en Farao se wil, emosie en verstand was onveranderlik en hy het nie na hulle geluister nie, soos יהוה gesê het. 23Farao het omgedraai en in sy huis ingegaan en niks hiervan ter harte geneem nie. 24Al die Mitzrayiete het rondom die rivier na water gegrawe om te drink, want hulle kon nie van die rivier se water drink nie. 25Sewe dae het verbygegaan nadat יהוה die rivier geslaan het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 6
Top of Page
Top of Page