Eksodus 36
Afrikaans PWL
1B’tzal’el en Oholi’av en elkeen wat kunstig is, in wie יהוה wysheid en begrip gegee het om te weet hoe om al die werk tot diens van die Afgesonderde Plek te doen, moes dit maak net soos יהוה beveel het.

2Moshe het B’tzal’el, Oholi’av en elkeen wat kunstig was, in wie se wil en verstand יהוה wysheid gegee het, geroep; elkeen wie se wil en verstand hom opgewek het om die werk te kom doen. 3Hulle het al die bydraes, wat die seuns van Yisra’el vir die uitvoer van die werk by die maak van die Afgesonderde Plek gebring het, vanaf Moshe ontvang en hulle het oggend na oggend steeds vir hom vrywillige offergawes gebring. 4Al die kunstige manne wat met al die werk by die Afgesonderde Plek besig was, man vir man, het van die werk waarmee hulle besig was afgekom 5en hulle het met Moshe gepraat en gesê: “Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk wat יהוה ons beveel het om te doen.” 6Moshe het bevel gegee en hulle het dit deur die kamp bekend gemaak en gesê: “Laat geen man of vrou verder enige werk doen in verband met die bydraes vir die Afgesonderde Plek nie.” Die volk is so teruggehou om te bring, 7want die materiaal wat hulle gehad het, was meer as genoeg om al die werk te doen.

8Almal wat kunstig was onder hulle wat aan die tabernakel gewerk het, het tien gordyne gemaak uit wit geweefde linne en met blou, pers en bloedrooi materiaal, met gérubs; as kunstige werk het hulle dit gemaak. B’tzal’el het dit gemaak. 9Die lengte van elke gordyn was agt en twintig el en die breedte van elke gordyn vier el. Al die tentdoeke het een maat gehad. 10Hy het vyf van die tentdoeke aan mekaar vasgewerk en die ander vyf tentdoeke het hy ook aan mekaar vasgewerk. 11Hy het lissies van blou materiaal gemaak aan die soom van die buitenste gordyn van die een stel; hy het dieselfde gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die tweede stel. 12Vyftig lissies het hy gemaak aan die een gordyn en vyftig lissies het hy gemaak aan die kant van die gordyn van die tweede stel. Die lissies was die een teenoor die ander. 13Hy het ook vyftig goue hakies gemaak en die gordyne aan mekaar vasgesit met die hakies sodat die tabernakel een geheel was.

14Hy het gordyne van bokhaar gemaak as ’n tentseil oor die tabernakel: hy het elf gordyne gemaak. 15Die lengte van elke gordyn was dertig el en die breedte van elke gordyn vier el: die elf tentdoeke het een maat gehad. 16En hy het vyf van die gordyne afsonderlik aan mekaar gewerk en ses van die gordyne afsonderlik. 17Hy het vyftig lissies gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die een stel en vyftig lissies het hy gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die tweede stel. 18Hy het ook vyftig koper hakies gemaak om die tent aan mekaar vas te sit sodat dit een geheel was.

19Hy het ook vir die tent ’n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle gemaak en daar bo-oor ’n bedekking van dugongvelle.

20Hy het ook vir die tabernakel planke van akasiahout gemaak wat regop staan. 21Die plank se lengte was tien el en die breedte van elke plank was een en ’n half el. 22Elke plank het twee tappe gehad wat met mekaar verbind was. So het hy al die planke van die tabernakel gemaak. 23Hy het die planke vir die tabernakel gemaak: twintig planke vir die suidekant. 24Hy het veertig silwer voetstukke onder die twintig planke gemaak: twee voetstukke onder die een plank vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die ander plank vir sy twee tappe. 25Hy het ook vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig planke gemaak, 26met hulle veertig silwer voetstukke: twee voetstukke onder die een plank en twee voetstukke onder die ander plank. 27Vir die agterkant van die tabernakel, aan die westekant, het hy ses planke gemaak. 28Hy het ook twee planke vir die hoeke van die tabernakel aan die agterkant gemaak. 29Hulle was aan die onderkant en aan die bokant met ’n ring aanmekaar vas. So het hy altwee gemaak vir die twee hoeke. 30Daar was dus agt planke met hulle silwer voetstukke: sestien voetstukke; twee voetstukke onder elke plank.

31Hy het ook pale van akasiahout gemaak: vyf vir die planke van die een sykant van die tabernakel 32en vyf pale vir die planke van die ander sykant van die tabernakel; ook vyf pale vir die planke van die agterkant van die tabernakel aan die westekant. 33Hy het die middelste balk gemaak om van kant tot kant te loop, in die middel van die planke, van die een ent na die ander. 34Hy het die planke met goud oorgetrek en hulle ringe, as plekke vir die pale, het hy van goud gemaak. Hy het ook die pale met goud oorgetrek.

35Hy het ook die verdelingsgordyn gemaak van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs. 36Hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle hake was ook van goud en hy het vier silwer voetstukke daarvoor gegiet.

37Hy het ook vir die ingang van die tent ’n gordyn gemaak van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne; veelkleurige werk 38en daarvoor het hy vyf pilare gemaak, met hulle hake. Hy het hulle toppe en ringe met goud oorgetrek en hulle vyf voetstukke was van koper.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 35
Top of Page
Top of Page