Eksodus 32
Afrikaans PWL
1Toe die volk sien dat Moshe lank vat om van die berg af te kom, het die volk by Aharon bymekaargekom en vir hom gesê: “Staan op, maak vir ons gode wat voor ons uit sal gaan, want hierdie Moshe, die man wat ons uit die land van Mitzrayim uitgebring het, ons weet nie wat van hom geword het nie.” Hand 7:40 2Aharon sê vir hulle: “Haal die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is en bring dit vir my.” 3Die hele volk het die goue ringe, wat aan hulle ore was, afgehaal en dit na Aharon gebring. 4Hy het dit uit hulle hand gevat en dit met ’n beitel bewerk totdat hy daarvan ’n gegote kalf gemaak het. Hulle het gesê: “Dit is jou god, o Yisra’el, wat jou uit die land van Mitzrayim laat optrek het.” 5Toe Aharon dit sien, het hy ’n altaar voor dit gebou en Aharon het uitgeroep en gesê: “Môre is ’n fees tot eer van יהוה.” 6Hulle het die volgende dag vroeg opgestaan, brandoffers geoffer en vredesoffers gebring en die volk het gaan sit om te eet en te drink en hulle het opgestaan om te speel.

7יהוה sê vir Moshe: “Gaan! Gaan af, want jou volk wat jy uit die land van Mitzrayim uitgebring het, het hulleself korrup gemaak. 8Hulle het gou van die pad af weggedraai wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ’n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: ‘Dit is jou god, o Yisra’el, wat jou uit die land van Mitzrayim laat optrek het.’” 9יהוה het vir Moshe gesê: “Ek het hierdie volk gesien en, let op, hulle is ’n hardnekkige volk. 10Laat My daarom alleen sodat My wraak teen hulle kan brand en Ek hulle verteer en Ek sal van jou ’n groot nasie maak.”

11Moshe het voor יהוה, sy God, gesmeek en gesê: “Waarom, יהוה, brand U woede teen U volk wat U met groot krag en met ’n sterk hand uit die land van Mitzrayim uitgelei het? 12Hoekom sou die Mitzrayiete praat en sê: ‘Hy het hulle uitgelei om hulle kwaad aan te doen, in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig?’ Draai weg van U brandende wraak en verander U gedagtes om skade te doen aan U volk. 13Onthou vir Avraham, Yitz’gak en Yisra’el, U diensknegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: ‘Ek sal julle nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en hierdie hele land waarvan Ek gepraat het, sal Ek aan julle nageslag gee sodat hulle dit vir ewig kan besit.’” 14יהוה het Sy gedagtes verander oor die skade wat Hy gesê het Hy Sy volk sou aandoen.

15Moshe het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand. Die tafels was op altwee kante geskryf; hulle was op die een en op die ander kant geskryf. 16Die tafels was die werk van God en die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer. 17Toe Y’hoshua die stem van die volk hoor, hoe hulle juig, sê hy vir Moshe: “Daar is die geluid van oorlog in die kamp.”

18Hy antwoord: “Dit is nie die klank van die gejuig van oorwinning nie en ook nie die geskree van neerlaag nie: ek hoor die klank van singery.”

19Dit het gebeur dat toe hy naby die kamp kom en die kalf en dansery sien, die woede van Moshe ontvlam het en hy die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder die berg gebreek het. 20Hy het die kalf gevat wat hulle gemaak het, dit met vuur verbrand, dit fyn gemaal, dit op die water gestrooi en die seuns van Yisra’el dit maak drink.

21Moshe het vir Aharon gesê: “Wat het hierdie volk aan jou gedoen dat jy so ’n groot sonde oor hulle gebring het?” 22Aharon antwoord: “Laat die woede van my meester nie ontvlam nie. U ken self die volk dat hulle gerig is tot boosheid, 23want hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uittrek, want hierdie Moshe, die man wat ons uit die land van Mitzrayim laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 24Ek het vir hulle gesê: ‘Wie goud het, laat dié dit afbreek!’ Hulle het dit vir my gegee en ek het dit in die vuur gegooi en hierdie kalf het daaruit gekom.’”

25Toe Moshe sien dat die volk sonder beheer was, want Aharon het hulle losgelaat; tot die spottende gefluister onder hulle teëstanders; 26het Moshe in die poort van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vír יהוה is, kom na my toe!” Al die seuns van Levi het by hom bymekaargekom. 27Hy het vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Laat elkeen sy swaard aan sy sy sit. Gaan heen en weer van poort tot poort in die kamp en laat elkeen sy broer, sy vriend en sy naaste doodmaak.’” 28Die seuns van Levi het gedoen volgens die woord van Moshe en daar het op dié dag omtrent drie duisend man van die volk geval. 29Moshe het gesê: “Maak vandag julle hande vol tot יהוה sodat Hy vandag ’n seën oor julle kan gee, want elkeen is teen sy seun en teen sy broer.”

30Dit het gebeur op die volgende dag dat Moshe vir die volk sê: “Júlle het ’n groot sonde gedoen en nou sal ek opgaan na יהוה: miskien kan ek toedekking vir julle sonde doen.” 31Moshe het na יהוה teruggegaan en gesê: “O, hierdie volk het ’n groot sonde gedoen en vir hulle ’n goue god gemaak. 32Tog, nou, as U wil, verwyder hulle sonde en indien nie, bid ek, vee my uit, uit U boek wat U geskryf het!” 33יהוה het Moshe geantwoord: “Wie ook al teen My gesondig het, dié sal Ek uitvee uit My boek; 34daarom, gaan nou en lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. Let op, My engel sal voor jou uitgaan, maar nogtans, die dag as Ek besoek, sal Ek hulle straf vir hulle sonde.” 35יהוה het die volk getref omdat hulle die kalf, wat Aharon gemaak het, aanbid het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 31
Top of Page
Top of Page