Eksodus 29
Afrikaans PWL
1Dit is wat jy met hulle moet doen om hulle af te sonder sodat hulle My kan dien as priesters: vat een jong bul en twee ramme wat sonder gebrek is, 2ongesuurde brood, ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie gesmeer. Jy moet dit van fyn koringmeel maak. 3Sit dit in een mandjie en bring dit in die mandjie saam met die bul en die twee ramme. 4Aharon en sy seuns moet jy na die ingang van die Tent van Ontmoeting bring en hulle met water was. 5Vat die klere en trek Aharon aan met die kleed, die bokleed van die skouerstuk, die skouerstuk en die borsplaat en bind om hom die geweefde band van die skouerstuk, 6sit die tulband op sy kop en maak die afgesonderde kroon aan die tulband vas. 7Vat die salfolie, gooi dit op sy kop en salf hom. 8Jy moet ook sy seuns bring en vir hulle die klede aantrek 9en Aharon en sy seuns omgord met die gordels en vir hulle tulbande ombind. Die priesteramp sal hulle s’n wees as ’n ewige instelling. So moet jy die hande van Aharon en sy seuns bevestig.

10Jy moet die bul bring tot voor die Tent van Ontmoeting en Aharon en sy seuns moet hulle hande op die kop van die bul lê. 11Jy moet die bul voor יהוה slag by die ingang van die Tent van Ontmoeting. 12Jy moet van die bloed van die bul vat en dit met jou vinger aan die horings van die altaar smeer en al die bloed aan die onderkant van die altaar uitgooi. 13Jy moet al die vet vat wat oor die binnegoed is, die vetlob aan die lewer, die twee niere en die vet wat daaraan is en dit op die altaar brand en in rook laat opgaan, 14maar jy moet die vleis van die bul, sy vel en sy mis buitekant die kamp met vuur verbrand. Dit is ’n sondoffer.

15Jy moet een ram vat en Aharon en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê; 16dan moet jy die ram slag en sy bloed vat en dit rondom die altaar sprinkel. 17Jy moet die ram in stukke sny, sy binnegoed en pote was en dit by die stukke en die kop sit. 18Jy moet die hele ram op die altaar brand en in rook laat opgaan. Dit is ’n brandoffer tot יהוה; ’n aangename geur, ’n offer deur vuur aan יהוה.

19Jy moet ook die ander ram vat en Aharon en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê; 20jy moet die ram slag en van sy bloed vat en dit aan die regteroorbel van Aharon en aan die regteroorbel van sy seuns smeer, asook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet en sprinkel die bloed rondom die altaar. 21Jy moet van die bloed wat aan die altaar is en van die salfolie vat en dit op Aharon en op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns, sprinkel, saam met hom sodat hy en sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns, saam met hom, afgesonderd kan wees.

22Vat ook die vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die vetlob aan die lewer, die twee niere met die vet wat daaraan is, die regterboud van die ram, want dit is ’n inwydingsram, 23met een brood, een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde brode wat voor יהוה is 24en lê dit alles in die hande van Aharon en in die hande van sy seuns en waai dit as ’n waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה. 25Vat dit uit hulle hande uit en steek dit op die altaar aan die brand, as ’n brandoffer, as ’n aangename geur voor die Teenwoordigheid van יהוה. Dit is ’n offer met vuur tot יהוה.

26Jy moet die bors van die inwydingsram van Aharon vat en dit waai as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה; dit sal jou deel wees. 27Jy moet van die inwydingsram, die bors van die waaioffer wat gewaai is en die boud van die opligoffer wat opgelig is, afsonder; dit wat vir Aharon is en dit wat vir sy seuns is. 28Dit sal vir Aharon en sy seuns hulle porsie wees as ’n ewige instelling van die kant van die kinders van Yisra’el af, want dit is ’n opligoffer en dit sal ’n opligoffer wees van die kant van die kinders van Yisra’el, vanuit hulle vredesoffers; hulle opligoffer aan יהוה.

29Die afgesonderde klere van Aharon sal sy seuns s’n wees na hom, om hulle daarin te salf en hulle hande daarin te bevestig (aan te stel). 30Die seun wat in sy plek priester word, wat in die Tent van Ontmoeting sal ingaan om in die Afgesonderde plek te bedien, moet dit sewe dae lank aantrek.

31Jy moet die inwydingsram vat en sy vleis in die Afgesonderde plek kook 32en Aharon en sy seuns moet die ram se vleis en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die Tent van Ontmoeting eet. 33Hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle hande bevestig is en hulle afgesonder is, maar iemand anders mag nie daarvan eet nie, want dit is afgesonder. 34As daar van die vleis van die inwydingsoffer of van die brood tot die oggend toe oorbly, moet jy dit wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is afgesonder.

35So moet jy met Aharon en sy seuns doen, net soos Ek jou beveel het. Sewe dae lank moet hulle hande bevestig word. 36Jy moet daagliks ’n bul as sondoffer offer tot versoening. Jy sal die altaar reinig wanneer jy daarvoor versoening doen en jy moet dit salf om dit af te sonder. 37Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit afsonder. Die altaar sal heeltemal afgesonder wees en alles wat aan die altaar raak, is afgesonder.

38Dit is wat jy, dag vir dag, sonder ophou, op die altaar moet offer: twee jaaroud lammers. 39Die een lam moet jy in die oggend offer en die ander lam moet jy in die aand offer. 40Saam met die een lam moet daar ’n tiende van ’n efa meel, gemeng met ’n kwart hin uitgestampte olie en ’n kwart hin wyn as ’n drankoffer wees. 41Die ander lam moet jy in die aand offer en saam met dit die graanoffer en die drankoffer soos in die oggend, tot ’n aangename geur, ’n offer met vuur tot יהוה. 42Hierdie moet ’n voortdurende brandoffer wees vir julle geslagte, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, voor die Teenwoordigheid van יהוה, waar Ek jou sal ontmoet om met jou te praat. 43Daar sal Ek met die kinders van Yisra’el ontmoet en die tent sal deur My Gemanifesteerde Teenwoordigheid afgesonder word. 44So sal Ek dan die Tent van Ontmoeting en die altaar afsonder. Ek sal Aharon en sy seuns ook afsonder om vir My as priesters te dien.

45Ek sal tussen die seuns van Yisra’el bly en hulle God wees 46en hulle sal weet dat Ek, יהוה, hulle God, is, wat hulle uit Mitzrayim uitgelei het om tussen hulle te bly. Ek is יהוה, hulle God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 28
Top of Page
Top of Page